Saterdag, 21 April 2018

TERUGBLIK

Ek kry anderdag hierdie foto en ‘n vreemde hartseer oorval my. Ek sit en kyk na myself en ek kry die gevoel dat ek na ‘n ander mens kyk – ‘n jong meisie uit ‘n ander era, ‘n jong meisie wat so onskuldig en onvoorbereid die lewe sou aanpak...het ons dit nie maar almal gedoen nie?
Weet jy, en ek sit en kry haar so jammer vir dit wat alles op haar pad sou kom en waarvan sy glad nie geweet het nie. Sy het eintlik so min van die lewe verwag, maar eintlik so baie. In haar onskuld het sy geglo dat alle mense goed was en dat slegte goed net met slegte mense gebeur. Ja, ek sien jy skud jou kop in ongeloof. Dit is so, sy het redelik oningelig grootgeword en die lewe was ‘n helse skok vir haar.
Daar waar sy so laggend staan, het sy vir geen oomblik gedink dat sy daardie selfde aand nog redelik ernstig deur ‘n vriend ontnugter sou word nie. Wat is ‘n mooi woord, of dan ‘n ‘sagter’ woord in Afrikaans vir sexual abuse? Nee, ek vra maar net, hoor.
Minder as ‘n jaar later is sy in ‘n verhouding wat haar ouers en die skoolhoof en selfs die skoolsielkundige na hulle hare sou laat gryp. Vreemd dat nie een van hulle ooit probeer uitvind het presies waarom dit gebeur het nie. Ek dink, en ek sê dit met groot respek, dat die oumense ook maar redelik die lewe deurgegaan het soos volstruise – kop in die sand. Jy sien, het hulle gereken, hoe minder ons weet, hoe minder hoef ons oor te ‘worry’. Mmm, jaaaaa. Dit is een manier om die lewe te hanteer, is dit nie?
Sy maak, deur die genade (wat anders dan?) matriek en gaan verder studeer. In die eerste week is daar hierdie vreeslike vriendelike skepseltjie wat haar hele hart oorneem. Hy skop op en gaan werk in Windhoek, maar die liefde hou. Hy kom kuier elke vakansie op die plaas. Hy kom selfs in Bloemfontein kuier. Is dit nie edel nie? Natuurlik is sy so getrou aan hom, siestoggies! En hy? Hulle raak verloof en sal trou sodra sy klaar studeer het. En toe? Toe die tyd min begin raak, skryf hy daardie brief wat alles verander. Sy bel. ‘Was daar dan ‘n ander meisie?’ Hy antwoord eerlik: ‘Ja, daar was ander meisies.’ Dom kind, sou jy nou sê. Toemaar, dis presies wat ek ook dink – nou!
Sy gaan hou skool. Die lewe is ‘n lied! Die man is so sjarmant en oorweldigend romanties. Sy trou binne drie maande met hom...en kom agter die lewe is toe nie so ‘n lied soos wat sy gedink het dit is nie.
Om terug te kom na die foto toe. Ek kyk nog altyd na die dogtertjie op die foto en ek voel so innig jammer vir haar. Sy het tog nie gevra vir dit alles nie, het sy?

            Maar, weereens deur die genade van die Here, het sy nie gebly waar sy was nie. Die Here het voorsien in baie, baie meer as waarvoor sy gevra het. 

2 opmerkings:

  1. So hartseer maar ook mooi geskryf ...

    AntwoordVee uit
  2. Ekt ook in die out tyd grootgeword. Get gedink on groot te word is om te trou end die lewe is n sprokie... Ek wonder nou nog oor sprokies en happily ever after...

    AntwoordVee uit

THE VALUE OF MY LIFE - Sean Buranahiran

One day a young boy asked his father, “what is the value of my life?”. Instead of answering, the father told his son, “take this rock and...