Woensdag 18 April 2018

DIE SKAPE KEN DIE SKAAPWAGTER SE STEM

             Image may contain: sky, mountain, outdoor and nature Ek en Pa ry veld toe. Dis baie, baie warm in die Namib. Ek dink nie daar was eens kraaie om te gaap nie, hoor. Niks beweeg of steek kop uit wanneer dit so warm is nie. Ons kom op ‘n duin en Pa hou so half afdraand stil. Hy beduie vir my na iets aan die oorkant.
            “Nee, man,” sê Pa, “die man loop te vinnig, die skape kry nie tyd om te wei nie.”
            Ek sit verstom. Voor die streep skape stap die skaapwagter. Nee, hy stap nie, ek kan van ver af sien dat hy loop en speel. Eers is dit ‘n wawiel, dan spring hy oor ‘n bossie, dan weer sommer twee wawiele...terwyl die skape hom volg.
            “Haai, Pa? Raak hulle nie weg as hy nie loop en omkyk en sorg dat hulle in ‘n trop bly nie?”
            Pa beduie net vir my om te kyk, dan sal ek glo. Hulle (dis nou die skape) is so rustig agter hom. By elke graspol stop dit eers en ‘n bekvol gras word afgevreet voordat dit verder gestap word. Ongelooflik! Ek verkyk my aan dit wat voor my oë gebeur.
            Later vertel Pa dat dit darem ook nie sommer vanself gebeur nie. Die skape moet die herder ken. Hulle moet sy stem ken en hoor as hy roep.
            En opeens maak Psalm 23 vir my ook sin. Ek moes dit self sien daar tussen die duine sodat ek dit kon verstaan.
            Die enigste verskil is natuurlik dat Dawid se skape in die berge gewei het. Dit was baie gevaarlik. Hoë rotse, diep skeure, afgronde...die pad waarlangs die herder hierdie skape moes laat wei het, was allermins ‘n maklike een. En tog, die skape was nooit bang nie, want hulle het rustig agter die skaapwagter aan geloop. Hulle het ook geweet dat hulle iewers langs die pad by die water sou uitkom. Daar kon hulle rus. Daar kon hulle hulle lekker vol suip en rustig wees.

O ja! Hulle moes eers water drink en rus, want die terugtog was nie ‘n grap nie. Af, af, af met die kranse en tussen die skeure deur moes hulle gaan om uiteindelik onder te kon kom. Hulle loop stadig, versigtig, van klip na klip. Soms kraak en breek die takke, die klippe rol los onder hulle en rol verder met die berg af. Dit is nie ‘n maklike tog nie, maar hulle voel sterk. Hulle voel veilig. Hulle hoor die Herder se stem...en volg Hom.
            Maar aan die voet van die berg was dit waar die moeilikheid was. In die laagtetjie tussen twee berge, daar waar die meeste bossies en plantegroei is, daar waar dit veronderstel is om makliker te wees vir die herder met sy skape, juis daar is die onheil. Jy sien, die jakkalse en slange en alles wat onheil belowe, skuil tussen daardie plantegroei. Dit is waar hulle die maklikste hulle prooi in die hande kan kry.

            Maar? Ons skapies is uitgerus. Hulle is verkwik daar hoog bo in die berg. Onthou jy? Die goeie Herder het gesorg dat hulle versterk is voordat hulle die pad ondertoe gevat het.
            Hulle weet, o ja, hulle weet, die Herder is nooit ver nie. Hulle hoor sy stem en hulle volg hom blindelings, selfs al sien hulle Hom nie so tussen die bosse deur nie. Soms is dinge donker, die son kom nie lekker deur die takke en blare nie, maar altyddeur luister hulle net na DIE STEM. Voordat hulle die getjank van ‘n jakkals hoor, is die Herder daar. Voordat die lammervanger ‘n lammertjie kan beetkry, is die Herder daar. Daar is niks te vrees nie, want hulle luister na die stem...
            En dan, wanneer die nag van vrees verby is, kom hulle skielik in die oopte van ‘n klein vallei. En voor hulle staan die Herder.
            Hy wag vir hulle. Hy het ‘n fees vir hulle berei en die jakkalse en die lammervangers en die uile en watter pes ookal in die nag wandel, sal net kan toekyk en nie kan deel in die fees van onse God nie.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...