Tog snaaks dat ‘n mens soms op ‘n vreemde manier gedwing word om jou aandag so ‘n bietjie van jouself en jou omstandighede weg te vat en te begin kyk na die mense rondom jou.
Ek
het nogal ‘n manier om vasgevang te raak deur die hier en die nou om my, en te
vergeet daar is nog ‘n wêreld daarbuite ook. Wel, soos die Ingelse altyd sê:
Wake up and smell the coffee! Die lewe gaan oor baie meer as net dit wat jy
rondom jou kan sien, Martha!
Ek
sit die dag en wonder oor ‘n vriendin en hoe sy nooit ophou goed doen aan ander
nie. Sy het dit self glad nie breed nie, maar daar is net eenvoudig altyd genoeg
in haar huis om ‘n lekker warm bord kos voor ‘n ander een neer te kan sit. Hoe
kry sy dit reg? Waar kry sy die tyd ... en die lus ... en die geld om dit te
kan doen? G’n mens weet nie, maar as daar gebrek iewers is, is sy daar om te
help.
Maar
dit stop nie daar nie, hoor. Wanneer iemand iewers heen geneem moet word, is sy
daar om te help en aan te ry en weer te gaan haal en dan nog te versorg ook. My
vraag is net: hoe weet sy dan áltyd waar sy moet/kan help? Hoe weet sy dit as
niemand anders om haar daarvan weet nie? Môre is sy bevrees haar petrol gaan
haar nie by die werk bring nie, maar vanaand doen sy wat gedoen moet word daar
waar sy besig is.
En
al brand haar voete van die hele dag se staan, het sy boonop nog genoeg tyd om
geduldig te luister na elke klagte van ellende en saggies te bemoedig en raad
te gee. Jy kry die idee sy vergeet sy half dat sy moeg is, want sy moet eers
hierdie wa deur die drif trek. O my aardetjie tog, ek skiet so ver te kort! As
ek moeg is, is dit mos oor my hele gesig geskryf!
Ek
besef dat sy hier op aardbodem is om te saai. Sy saai daar waar sy gaan en
daarom het sy altyd om te kan gee (of is dit saai?) Ek haal my hoed vir haar
af, want ek weet sowaar nie of ek rolle met haar sou wou ruil nie.
En
dan is daar Ouma Toeks. Nee, ek ken nie noodwendig iemand met die naam Ouma
Toeks nie, maar die klank van haar naam laat my huis toe verlang – na
geborgenheid en veiligheid. Dit herinner my aan aande by die olielamp om die
kombuistafel en Pa met die Bybel, hande weerskante daarvan op die tafel. Dit
herinner my aan aande onder die sterrehemel en die klik-klik-klik van die
grondgeitjies daar naby in die donker. Dit herinner my aan aande wat ek gaan
slaap het met die wete dat Pa en Pa daar is en dat hulle vir altyd en altyd
daar sal wees. ‘n Mens se pa en ma gaan mos nie dood nie, gaan hulle? Maar jy
het in elk geval nooit eens gedagte daaraan gegee nie.
Ouma
Toeks het dit nie breed nie, en tóg kom sy nooit by die winkel uit sonder ‘n
toffie of twee vir die kinders wat daar buite rondhang nie. “Ag kind, ek weet ek
moenie vir hulle gee nie. Ek weet, ek weet ... maar los my tog maar dat ek dit
doen, toe?”
Sy
deel in al jou vreugdes en moedig jou voortdurend aan tot hoër hoogtes. En as
jy dan slaag in ‘n halfhartige poging omdat jy nie in jouself geglo het nie,
kom die opmerking gereeld met ‘n ondeunde glimlag: “Het ek jou nie gesê nie?”
Ouma
Toeks is net altyd daar wanneer jy haar die nodigste het. As jou moed tot in
jou skoene is (ken jy die gesegde: Op moedverloor se vlakte?) dan is sy sommer
net daar. Sy doen nie veel nie, maak hoogstens ‘n koppie tee en dan sit sy en
luister. Luister, luister, luister. Af en toe is daar ‘n knik van die kop, maar
andersins is sy maar net daar.
As
sy huis toe gaan en jy voel beter, bel jy haar en bedank haar vir alles wat sy
vandag vir jou beteken het. Haar antwoord is gewoonlik iets soos die volgende: “Mensekind,
maar ek het mos niks gedoen nie, jong. Ek was dan maar net daar!”
Vanaand wil ek dankie sê aan elke saaier en elke Ouma Toeks daar buite. Weet vir seker: jou loon sal groot wees!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking