Sondag 21 Mei 2023

Berge, val op my en heuwels, bedek my!

 

Hoeveel maal het jy al so gevoel? Jy weet mos, daardie een (of is dit duisend) maal in jou lewe wat jy so skaam was dat jy gewens het jy kon liewer maar onder die mat in seil as om te moes aangaan met dit waarmee jy besig was.

Nou kyk, ek het al ‘n hele paar sulke episodes in my lewe gehad. Sommiges was minder traumaties – natuurlik is dit traumaties! – ander meer.

Ek spesialiseer daarin om my naam met ‘n plank te slaan. Vra maar vir hulle wat my ken hoeveel maal ek rooigesig gestaan het oor ‘n blaps wat ek oorgekom het. Jy weet mos, soos om jou beste vriendin aan iemand voor te moet stel en opeens het jy haar naam vergeet! Hoe gebeur dit? Maar meer nog, hoe verduidelik jy dit aan jou vriendin wat daar en dan besluit sy is mos nie goed genoeg vir jou nie ... waarom anders onthou jy dan nie haar naam nie?

‘n Vriendin van iemand se man is oorlede en sy gaan om simpatie te betuig. En hoor hier, ek het hierdie een vir die waarheid gehoor, ek lieg nie! Vriendin kom by die voordeur uit en die twee omhels mekaar. Hierdie een vryf liggies oor haar vriendin se rug en sê met ‘n simpatieke stem: “Baie geluk, hoor!” Nouja, ons kan giggel daaroor, maar ek wonder nog altyd hoe het sy daardie blaps reggestel.

Ons het jare gelede in ‘n buitewyk van ‘n stad gewoon en ek het hierdie spesifieke klein inkoopsentrum gereeld besoek. Op ‘n dag stap ek die sentrum binne en hier kom hierdie ‘bekende’ man van voor af.

Ek groet ewe opgewonde: “Hallo, hoe gaan dit deesdae? Ons het mekaar darem lanklaas gesien.”

Hy kry so ‘n vreemde uitdrukking op sy gesig en antwoord: “Nee, goed dankie, en met jou?”

Ek brei uit oor hoe ons onlangs getrek het en wat alles nog. Hy staan so half en trippel en ek neem aan hy is seker baie haastig.

Ek druk deur! “En hoe gaan dit deesdae met Anneke?” wil ek weet.

“Hmmm, met wie?”

Dit toe dat ek besef ek het ‘n totale vreemdeling voorgekeer en my hele lewe in kort met hom gedeel. Ek kan regtig nie meer onthou wat ek hom geantwoord het nie, maar ek belowe jou, my ore brand nou nog van skaamte as ek daaraan dink.

Ek werk op ‘n stadium by iemand en moet onder andere mense skakel wat nie gereeld betaal nie. Ek werk die lysie van bo af weg, tot ek by hierdie kwaai Meneer Smit kom. Ek weet baie goed, want ek het al met hom te doen gehad.

Die telefoon lui aan die ander kant en ek weet presies hoe hy dit gaan beantwoord: “Smit, mirrag.” My maag bewe en ek voel half naar, want daardie man is niemand se speelmaat nie. Ek hoor al in my verbeelding sy “Smit, mirrag.”

En toe gebeur dit! Hy tel sy foon op en voor hy nog kan groet, blaker ek dit uit: “Smit, mirrag!”

Ek het die foon so vinnig as moontlik neergesit en kan nie eens onthou of ek hom toe ooit weer probeer bel het oor sy agterstallige rekening nie.

Maar die grootste en ergste was die dag van die visbak!


Almal van ons se kinders het op een of ander stadium ‘n visbak gehad. Jy ken mos daardie plastiek rondes wat net groot genoeg is vir ‘n paar goue vissies. Dis nou die einste plastiek visbak wat my allergrootste skande veroorsaak het.

Ek en my oudste, toe seker so drie jaar oud, is die dag winkel toe om vir visbak te gaan koop. Sy wil vissies hê, maar eers moet ons die bak gaan koop. Dit was in die jare toe daardie hoë platformskoene nog so erg in die mode was ...


Nou moet jy asseblief net eers die prentjie kry: Sussie is ‘n redelike woelige enetjie en ek, bo-op hierdie paar platformsandale, het haar styf aan die hand beet met my regterhand. Sy stap naaste aan die winkelvensters. Aan my linkerhand hang plastiek visbak in ‘n inkopiesak. En! Hou jou asem op, asseblief! Ma is swanger met nommer volgende. Ek het die gewoonte gehad om redelik vinnig te stap, maar ek dink daardie dag was ons nog haastig ook.

Ons kom so aan na ‘n opelug restaurant toe en ek sien iemand sit wat ek ten alle koste wil miskyk daardie dag. Jy weet mos – ‘n ou familievriend wat nie noodwendig jóú vriend ook is nie.

Ons is lekker op spoed en ek dink ek gaan dit verby hierdie restaurant gaste maak sonder dat die ‘vriend’ my sien. Dis toe dat die noodlot met alle wreedheid op my toeslaan: Kindjie sien iets in ‘n winkelvenster ...

“Mamma, kyk hier!” is die laaste wat ek hoor voordat sy my van balans af ruk toe sy wegdraai en venster toe beduie.

Die volgende oomblik (hoe het dit gebeur???) hol ek handeviervoet in die arkade. Elke keer wat my linkerhand grond toe gaan, tref visbak se kind die grond met ‘n magtige slag! En natuurlik skree ek van pure skok soos maar net ek dit kan doen!

Het ‘vriend’ my toe gesien? Vir seker! Maar seker eers lank nadat hy my benoude gille gehoor het.

Het ek ooit gesien wat my liefiekind vir my wou wys? Mos toe glad nie.

Hoe het ek by die huis gekom?

G’n mens weet nie!

1 opmerking:

  1. Ai Martha dis net jy daai. Lekker gelag. Geniet jou dag.

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...