Sondag 14 Mei 2023

Moedersdag ... of is dit Onthoudag?


 Ja, die kindergesiggies,

Soos die sterre se liggies,

Is die hemelse pêrels vir Jesus se kroon.

As jou hart naastenby soos myne klop, het jy vandag al ‘n duisend maal jou kinders beleef van hul geboortedatum af tot vandag toe en moontlik nog iewers in die toekoms ook. O ja, ek is ‘n meester van ou koeie uitgrawe – vra gerus maar vir hulle wat my ken.

Maar neem jy my kwalik? As ‘n mens kinders het en kinders verjaar of dis Moedersdag of enige moontlike dag wat hulle almal bel, dan lóóp die gedagtes!

Sê nou maar net dat ons nie kon onthou nie. Mens! Watter vreeslikheid sou die lewe gewees het as jy alles net een maal kon beleef en dan is dit poef! uit jou gedagtes uit. Ek wil my dit nie indink nie ... en daarom is die vergeetsiekte vir my een van die ergste dinge wat ‘n mens maar kan tref. Maar ons gaan nie vandag gesels oor vergeet nie, ons gaan gesels oor onthou – alle lekkertes wat ‘n mens moontlik kan onthou.

Ek’t jou gesê dat ek gereeld die ou dinge uitkrap en uithaal en afstof en versigtig in my hande ronddraai en bekyk en bewonder. Ek is ‘n meester van “Onthou jy nog?” Ek ken net een mens wat dit beter as ek kan doen: my oudste. Sy kan vir jou dag en datum en oomblik vir oomblik uithaal en weer lewendig maak. Ja nee, sy is die beste!

Maar dit eers daar gelaat. Ek wonder baie maal of daar op hierdie aarde ‘n suiniger swanger mamma is as wat ek was. Kyk, my lyf (met baba knus binne-in) was myne en myne alleen. Jy moes nou nie kom staan en sukkel en vir my vra of jy kan voel nie. Nee! G’n niks se gevoel aan my lyf nie! Hierdie baba is myne en myne alleen! Ek was regtig so selftevrede met hierdie bondeltjie onder my hart, dat hy/sy maar vir ewig daar kon bly. Want sien, die oomblik dat bondeltjie gebore is, kan enigeen hom mos gryp en loop. Het dit my kwaad gemaak as hulle so voorbarig is! Los my kind! Dis myne! Maar ja, die lewe het my geleer om anders daaroor te dink.

Die grootste skok was die oggend van my oudste se geboorte. Ek lê daar soos die koningin van watter land en verlustig my in al die aandag. Dis nou totdat die dominee begin bid: “Dankie dat U haar vir ons geleen het.” Ek skrik my in ‘n toestand! Geleen? Ja, Martha, geleen. Sy gaan nie altyd en altyd joune wees nie. Sy gaan groot word en weggaan en haar eie pad loop en uiteindelik het ons mos maar almal een pad wat nie een van ons vry kan spring nie ...

Dan word die goetertjies mos groot en elkeen het ‘n wil van sy eie. Dit bly vir my ‘n wonderwerk hoe hulle almal in dieselfde huis grootword, maar elkeen is so verskillend van die ander. Nogtans wil jy elkeen van hulle soos die spreekwoordelike moederhen onder jou vlerk in krap en hulle daar wegsteek teen die wêreld se swaarkry en (moontlike) ellende. En al word hulle ook hóé oud, jy sal seker maar altyd daardie beskermingsdrang in jou dra.

Verskillend? Beslis!

Ons oudste met ‘n eie koppige willetjie van haar eie wat op alles geantwoord het: “Sal self!” O my aardetjie tog, en al vat die haar jare, sy wou dit self doen en het dit self gedoen. Dit is waar die spreekwoord “Job se geduld” gebore is, glo ek.

Ons seun, weer, het kleintyd ‘n fobie gehad vir (onder andere) damesonderklere. Dit was sy suster se grootste plesier om een van haar ‘undies’ aan sy deurhandvatsel te hang. Hy sou vir ewig nie in sy kamer gaan nie terwyl daardie kledingstukkie daar hang. Hy het vuur geblaas van woede, maar niks sou hom oortuig om eens te probeer om dit af te haal nie. Nooit nie! Hy vat eenvoudig nie aan sulke goed nie. Wat my mos laat wonder hoe hy vandag daaroor voel? Ek sal maar liewer nie probeer om dit weer te doen nie!

Ek en my jongste het een aand ‘n effense verskilletjie in die sitkamer. Toe sy gaan slaap, ruim ek op en kyk of daar nie van haar potlode of iets is wat sy nie in haar tas gesit het nie. Dis toe wat ek die ‘briefie’ ontdek wat sy daar vir my gelos het. Ek is lief vir Ma, maar ek hou nie van Ma nie. Waar kry jy eerliker? Agterna het ek baie maal ook al so gevoel, maar ek het net nog nooit die moed gehad om dit uit te spreek nie.

Dit het min gebeur dat al drie van hulle as ‘n span saam ‘n ding aangevang het. Maar een ding wat hulle my lekker ‘n rat voor die oë gedraai het, is die dag wat hulle drie (met die oudste agter die stange) die kombi byna omgegooi het. In die proses was die kar so van die modder, dat hulle dit moes was. En ja, reg geraai! Toe Ma by die huis kom, word dit vertel hoe dierbaar hulle was. Hulle het vir Ma die kar gewas. En Ma glo dit! Watter ma sal dan nou nié dankbaar wees oor so ‘n mooi gebaar nie? ... tot jy jare later die waarheid uitvind ...

Verjaardagkoeke was vir my ‘n nagmerrie. Ek het altyd gewag totdat hulle in die aand bed toe is voordat ek dit begin versier het. Nou hoor nou vir my: my idees van hoe die koek moes lyk en die eindproduk was nooit, ooit dieselfde nie. Hoeveel keer ek in daardie laat ure alles afgekrap en oor begin het, kan ek nie vir jou opnoem nie!

Die ergste was toe ek die dag toe die skool uitkom vra: “Wat het die kinders van die koek gesê?” (‘n Mens mág mos vra!) Jy hoop stilweg dat dit vir hulle mooier was as wat dit vir jou laasnag was.

Eers antwoord die kind nie en jy vra weer: “Hmm? Wat het hulle gesê?”

Die antwoord kom redelik nors (of was dit die gevoel van skaamte wat nog nie gewyk het nie?!) “Hulle het almal gelag vir die koek!”

Dit voel vir my ek kan elke mooi en kosbare onthou hier neerskryf, maar dit sal nie regverdig wees nie. Jy het jou eie onthou en eie mooi herinneringe wat jy sekerlik op ‘n dag soos vandag weereens bedink het.

Soms – en dit is gewoonlik in die nag wanneer ek nie kan slaap nie – kom die aanklagte soos hamerhoue teen jou hart. Jy onthou elke onnodige pak slae, afjak of straf wat jy so vryelik uitgedeel het. Vandag besef ek hoe onverantwoordelik ‘n mens met die klein mensies te werk gaan.

Hoeveel maal het jou kind vir jou iets gevra en het jy, net omdat jy kon, geweier. Wees nou eerlik, as jy terug kyk, besef jy dat hulle nie altyd die ‘nee’ verdien het nie. Dit was bloot omdat jy as ouer die mag het daartoe. Bloot omdat jy nie lus was nie. Bloot omdat jy sommer net ... wát wou bewys?

En stadig maar seker wissel die rolle tussen jou en jou broedsel. Hulle begin gee raad, moedig aan, wys tereg, bied hulp aan en soms kry jy selfs raas ook! Dit is mos maar die pad wat ons loop, is dit nie?

Ek dank die Vader vir kinders wat vergewe het. Ek dank Hom vir die band van liefde tussen ons. Ek dank Hom dat Hy hulle vir my gegun het.

 

 

1 opmerking:

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...