Ek en
my seun gesels gister oor die oumatjie wat ook al twee jaar lank in die hemel
is. Jy weet mos, dit gebeur sommer so spontaan dat jy iewers vashaak en eers
jou praat klaar moet praat oor wat/wie ookal.
My ma
was (ek glo ek het jou al vertel!) ‘n vrou van formaat. As ek aan haar dink,
sien ek net die twee kort beentjies wat so op ‘n drafstap is. Haar lewe op die
plaas het bestaan uit baie harde werk en om ander te dien. Niks was ooit vir
haar te veel nie. Niks, behalwe natuurlik om tyd aan haarself te spandeer. Sy het
nie daarin geglo dat sy mag stilsit en ontspan nie, hoor. Die ouma was ‘n
besige vrou!
Maar dis
nie waaroor ek met jou wil gesels nie. My storie gaan eintlik nie oor die ouma
nie, maar om my punt te maak, moet ek eers vir jou van haar lewe in haar later
jare vertel.
Sy was
hier in die ouetehuis en het gereeld naweke kom kuier by ons. Eers was dit goed
en lekker, maar toe begin die dinge pla.
“Twee
aande is te veel, jong. Ek wil asseblief net Vrydag by julle slaap en dan wil
ek na my plek toe gaan.”
‘n Tyd
later: “Hierdie inpakkery is ‘n gemors! Ek hou nie daarvan nie. Ek sal by julle
kom braai Saterdag, maar ek wil in my eie bed slaap.”
Nog
later: “Los tog maar vir my waar ek is, toe? Kom kuier julle maar vir my hier.”
Ons het
so baie daarvan gehou om te gaan shop. Ek laai vir Ouma op en sy koop haar
goedjies en ons gesels ‘n hond uit ‘n bos uit so tussen die winkelrakke. Ons het
elkeen ons eie trollie en ons pak hulle vol!
Opeens
sukkel die kopery. Sy wil seep koop. Ek loop tot voor die rak en wag dat sy die
seep moet vat. Sy sien nie waar is die Dove seep nie. Ek wys vir haar waar en
sy pak dit in. Dit gaan goed vir ‘n tydjie, totdat sy aankondig dat sy g’n
daarvan hou om winkel toe te gaan nie. Van toe af gaan ek alleen winkel toe en
koop als wat nodig is vir ons albei.
Om terug
te kom by die kuiertjies by ons ... Sy het nog af en toe by ons kom kuier, maar
dan moes dit vroeg wees, want Ouma wil terug by haar plekkie wees en gaan
regmaak en slaap.
Daar was
sekere geregte wat ek altyd spesiaal vir haar gemaak het. Sy was nogal nie
skaam om vir jou te vertel hoe lekker dit of dat was nie. “My kind, niemand op
aarde maak aartappelslaai soos jy nie!” Of my valskywe. Of my patats.
Toe Ouma
nie meer by ons wil kom eet nie, het ek op spesiale dae (verjaardae, Kersfees, ens.)
my kos gepak en ons het by haar gaan eet in haar kamer. Alles was nog net so
lekker soos altyd, behalwe dat Ouma nie die moeite gehad het om na ons toe te
kom nie.
Tot die
laaste Kersfees! Ouma het in stilte die kos wat ek vir haar ingeskep het geëet
en die leë bord vir my gegee. Ek wag toe al lank vir ‘n kompliment vir alles
wat lekker was. Maar moenie glo nie!
“Alles
was baie goed voorberei, maar dis baie vreemde kos hierdie.”
Toe ek
en Seun klaar gesels het, dink ek by myself dat dit werklik is soos ons lewens
maar is – die aardse ou tentjie verweer en die tentpenne ruk een-een los en
uiteindelik is daar niks van jou oor nie.
Maar,
hoor hier, toe tref ‘n ander gedagte mos vir my. Is ons werklik besig om minder
en minder te word? Is Tyd werklik ons vyand? Is die ouderdom werklik ‘n ding
wat jou aftakel tot daar niks meer oor is behalwe om dood te gaan nie? Met
ander woorde, is ons lewens ‘n lyn wat boontoe loop en dan, met die ouderdom, ‘n
lyn onder toe maak tot by die dood. En skielik is daar niks!
Voordat
ek die gelowiges ontstel – ek praat hoegenaamd nie van die lewe na die dood
nie, asseblief. Ek praat van die dinge hier op aarde en hoe ek en jy en almal
dit ervaar.
Ek dink
opeens heeltemal anders oor die hele ding. Dis ‘n groot leuen wat ons vir
onsself vertel dat alles dan tot ‘n einde kom ... jy is nou dood en weg en
vergete. Is nie!
Kom ons
bou ‘n standbeeld. Ons gebruik goud, edelstene en alles wat kosbaar en mooi is.
Die ding is net dat ons dit nie kan gaan koop iewers nie. Ons moet uitgaan en
dit gaan optel en aandra voor ons dit bietjie vir bietjie kan bou. Ek sien jy
knik, want jy weet nou waarop stuur ek af.
Terwyl
jy ‘n kind is, gaan die bouery redelik stadig, want jy is onkundig om jou boustene
te gaan optel. Dan word jy ouer en wyser en die bouery tel spoed op. Mettertyd kom
jy agter dat die bouery nou stadiger en stadiger raak. Dis nie dat jy nie meer
kan bou nie, maar dit vat tyd en moeite om uit te gaan en op te tel.
Stadiger
en stadiger vorder die standbeeld. Stadig, baie stadig.
Jy sien
self nooit die eindproduk nie. Jou laaste woorde, jou laaste glimlag, jou
laaste vriendelike knik met die kop, is die laaste edelstene om die standbeeld
te voltooi. Jy traak eintlik lankal nie meer daaroor nie, maar steeds bou jy
voort.
Wanneer
alles verby is en almal reken jy is 'weg', draai iemand op ‘n dag om (soos ek en
my seun weer gister gedoen het) en sien die volmaakte standbeeld wat niemand
ooit kan vernietig of miskyk nie. Dis byna soos 'n vuurtoring
in die nag. Al slaap almal, is daar iemand wat hom raaksien en met vreugde die warm
lig daarvan indrink en waardeer.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking