Ek ken vier vrouens. Hulle is almal min of meer ewe oud,
maar as jy hulle bekyk, sal jy dit nooit raai nie. Hierdie viertjies verskil
soos dag en nag, maar nogtans is hulle (soms!) beste vriende.
Kan ek jou aan hulle voorstel?
Liewe Katie is ‘n dierbare, sagsinnige wese. Sy glimlag
altyd – of dit warm of koud of donderweer is, Katie glimlag! Niks en niemand
kan haar van stryk bring nie, hoor. ‘n Mens wil soms glo sy is met daardie
glimlag op haar dierbare gesiggie gebore. Al weet jy dat Liewe Katie so pas
deur ‘n geweldige storm is, jy sal haar nie sonder daardie glimlag betrap nie.
Vra jy hoe dit gaan, is die antwoord altyd (maar altyd!) “Goed, dankie!” ... en
dan kom daardie sonskynglimlag weer op die vol wange sit. Soms, maar net BAIE
soms, loop die trane oor die volronde wangetjies, maar die glimlag sit of hy
geplak is.
Hoe kry sy dit reg? G’n mens weet nie, jong. Ek het al
probeer afloer of sy dalk ‘n doepa of ‘n ding drink, maar niks! Wat ek wel al
gehoor het, is dat sy haarself voortdurend aanmoedig en aanhits tot hoër
hoogtes. Dinge soos ‘Kom nou, Katie, jy weet mos dat hierdie een ook sal
oorwaai,’ of ‘Regtig? Dit kan nie erger as die Boere Oorlog wees nie, kan dit?’
En dan kyk Katie op en die glimlag sitttt!
Martie Jammergat is ‘n ander vriendin. Nee, haar van is nie
regtig Jammergat nie, maar ek dink nie daar is ‘n mens op aarde wat haar regte
van ken nie. Haar klaagliedere en jeremiades ken geen perke nie, hoor. As sy in
die oggend opstaan, kan jy seker wees ‘n been of ‘n arm of ‘n heup of haar kop
pyn so dat sy dit tog nie kan uithou nie. En heeldag moet al wat leef en beef
hoor van hierdie moordende pyn wat sy hier of daar of oral het.
Voel sy darem ooit beter? Nooit nie! Hou sy ooit op met
kerm? Nooit nie! Die lewe het haar aan die hakskeen beet en dit pyn dat dit
bars. As jy mooi kyk, sal jy selfs die bloed sien afstroom langs haar voetsole.
Is! Sy het dit regtig nie maklik nie. Sy is nou maar vir eens en altyd gestraf
met alles wat aaklig en onhanteerbaar is. Net gister nog het haar oorle antie
se suster se skoonma mos so lelik met olie gebrand in die kombuis. Ja, dit was
net nadat sy gehoor het van haar eks wat sowaar nou weer ‘n nuwe meisie het.
Sien jy? Sy het dit regtig nie maklik nie. Shame
tog, man!
Die derde lid van die viermanskap is mos daardie doofstom
vrou. Niemand ken haar naam of van nie. Nou hoe dan nou so? Dis logies, man.
Die vrou kan nie praat nie en hoe op aarde kon sy al vir iemand vertel het
presies wie sy is? Sy praat nie. Nou vra jy my of sy nie WIL praat nie en of sy
nie KAN praat nie. Ek weet nie, hoor. Ek weet regtig waar nie wat presies die vrou
se probleem is nie. Jy kan maar doen wat jy wil, praat sal sy nie praat nie.
‘Kan ek vir jou ‘n gunsie vra?’ STILTE. ‘Wil jy saam met my dorp toe gaan?’
STILTE. ‘Voel jy nie lekker nie? Jy is regtig baie bleek.’ STILTE.
Dit dryf almal die mure uit, maar dit pla haar blykbaar
glad nie. Sy knip nie oog of roer ‘n skouer nie, hoor. Sy gaan haar gang asof
niemand nog ooit met haar gepraat het nie. Ek wil nogal sweer sy kan ‘n mens
hoor, want party kere is dit asof daar ‘n soort van ‘kyk’ in daardie twee oë
kom wat nie altyd daar is nie. Maar die oomblik wat ek weer kyk (mos om seker
te maak!) dan is die oë ook weer stil soos ‘n Sondagmiddag op Keetmanshoop.
Jy kry niks uit haar uit nie. Sy het, so lyk dit vir my,
ook geen behoefte aan geselskap nie. Hoe kom ‘n mens so? Wat maak jou dat jy
nie wil praat of luister nie? Dis ‘n vreemde spulletjie, as jy my vra. Nee man,
sy’s g’n getoor nie. Dis nou nie wat ek bedoel het nie. Sjoe, dit kom nou
daarvan om te sê wat ‘n mens dink.
Wat my mos nou laat wonder – is dit nie juis hoekom sy is
soos sy is nie? Dan hoef sy mos nooit niks aan niemand te verduidelik nie, ha?
Nommer vir is ‘een van ons’. Daar is niks vreemds of snaaks
omtrent haar nie. Eintlik is sy maar redelik vervelig, as jy my vra. Gewone (lui)
huisvrou, lid van die plaaslike Help Mekaar-klub, sing in die kerkkoor, en wat
nog alles. Jy sal nie twee keer na haar kyk nie en, as jy saam met haar ‘n
geselligheid sou bywoon, gaan jy teen more nie eens meer haar naam onthou nie. Vaal.
Vervelig. Alledaags. So terloops, ek kan ook nie haar naam onthou nie.
Op ‘n dag is hierdie vier om die koffietafel. Dis nou Liewe
Katie, Martie Jammergat, die doofstom vrou en die anner een wat so vaal is dat
niemand haar raaksien nie. Hulle doen soms die ding met die koffie – glo om so ‘n
bietjie ‘op te vang’ wat in almal se lewens aan die gang is.
Een van hulle stel voor dat hulle gerus ‘n slag ‘n groepfoto
moet neem. Ek meen te sê, dis min genoeg wat hulle vier so saam is. Dit loop
amper op ‘n oorlog uit, man. Liewe Katie gaan staan op die trappie en beduie liefdevol vir die ander om langs haar te kom staan. Martie Jammergat gaan onmiddellik aan
die kerm omdat Liewe Katie die beste plek vir haarself gekies het. Snot en trane, hier kom ons! Die doofstom
vrou hoor nie wat sy moet maak nie en gaan aan die loop, op met die trappe en
af anderkant. Sy loop die loop van 'n vasberade mens, hoor. Iemand moes haar doer op die vlak gaan vang en terugbring foto toe. Die valetjie
gaan staan tussen hulle, maar die fotograaf skree: “Waar’s die vaal vrou? Sy’s
dan nie hier nie!” (ek het jou mos gesê niemand sien haar ooit raak nie).
Mensekind! Dis toe daardie foto ontwikkel is by die
fotowinkel, dat ek die skok van my lewe kry. Maar ek vertel jou nou-nou daarvan. Die foto is toe nie so 'n sukses nie. Jy sien, Liewe Katie smaail dat jy net tanne sien. Martie Jammergat staan en snik dat die blink strepe onder haar neus tot by haar mond loop. Die doofstom vrou is besig om haar bra se 'strap' stywer te stel sodat dit nie so uithang hier langs die kant nie. Die valetjie ... kan 'n mens glad nie sien nie.
Nou, om te kom by die skok toe ek die foto die eerste keer sien. Ek bekyk hom van alle kante af, maar dit wat op daardie papier is, bly daar. Dit wil nie verander nie, dit wil nie anders lyk nie, verdomp! Dit lyk vir my dit raak net erger en erger by die oomblik.
Ek bekyk die ou viertjies so en ek snak na my asem. Dit kan
nie waar wees nie, man. Dit is net nie moontlik nie!
Want sien, hulle almal lyk op ‘n haar na presies dieselfde ...
... soos ek!
Maar as ek nou so dink ... IS dit toe nie maar al die tyd ekke nie?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking