Vrydag 08 Maart 2019

SEWENTIG SOMERS VERDER deur Ina Cantoni

In die na-nag as slaap jou ontwyk en net jy jou eie geselskap is, is dit die soort gedagtes wat jou metgesel is. Wat ’n voorreg om jou gedagtes in woorde te omskep. Miskien is daar iemand wat met my wil deel. 

Van nou af is dit nog ’n paar uur dan is dit my sewentigste verjaardag. Sommige mense beskou dit as ’n triomf, sommige ’n mylpaal, ander ’n doelwit. Hoe sien ekke dit? Wat ’n journey was dit vir my! Sou ek dit anders wou hê? Natuurlik! Elke mens sal die gate, hobbels en dorings wou delete, of sommer net met ’n ompad benader. Met ’n diep sug aanvaar ek nou in hierdie laat uur van die nag! Tuffies! Jy kan dit nie verander nie , aanvaar en lig jou kop.

Nou giggel ek saggies by myselwers. Ek lig my kop, ek kyk vorentoe en dan besef ek, die voor is sommer hier vlak voor. Nie meer donkiejare of ’n lang beplanning nie, o nee! Ek is om die laaste draai van die ovaal baan, in die laaste pylvak. Nou wat nou?

Skielik is alles so duidelik soos daglig. Voor, aan die einde van die baan, is ’n lint oor die pad! Nie ’n wit of swarte nie, maar ’n helder gekleurde lint, regoor die bane van my lewe en ek moet daardie lint gaan breek. Dit is ’n lint wat niemand gaan vryspring nie. Ons is mos nie op aarde vir altyd nie?

Ek spoor myself aan. Suster, jy moet nou asem skep en alles insit. Daar is nie tyd vir bly lê en jou pyne vertroetel nie. Al hink jy op een been en klou die rugpyn vas, sorg dat jy die wenpaal haal. Miskien sal ’n nuwe bril help om beter te sien, maar vir hierdie laaste aanloop hoef jy nie te sien nie.

Ek dink, oor ’n leeftyd heen is die pad mos nou baie duidelik? Langs die baan sien ek baie gesigte: my kinders, kleinkinders, familie, vriende en kennisse. Of hulle my aanmoedig of bejammer weet ek nou nie, maar ek gee nie om nie. In my hart is ek net flink op pad. My seer voete en pynende bene pla nie meer nie. Al beland ek op my rug, ek beweeg nog steeds na die lint oor die pad.

Miskien moet ek bietjie stap, stadiger en mooi kyk wat wag vir my. Genade, na sewentig jaar se gedraf mag ek mos nou rustig en stadig stap ook? Daar is mos nie haas nie. So-ja dis beter! So duidelik asof dit reeds gebeur het kan ek sien. 

Aan die ander kant van die doellyn is ’n hemelse oop veld, die mooiste gesig. Blomme, bome, berge en watervalle wat strome van seën voorspel. 

Ek sien mense in ’n yslike pawiljoen en ek weet as ek nader kom, gaan almal opstaan, arms in die lug en juigend vir my waai en roep. My hart galop vol vreugde in my borskas. Hulle is lamal daar! My ouers wat bly na my roep, ooms tantes, oumas en oupas. Vriende en geliefdes dans van vreugde as hulle my deur die lint sien bars. 

Opgewondenheid maak my kortasem, ek het die wedloop voltooi, ek het gewen!

Hoekom moet ek ’n graf en die einde van alles sien, as ek dan weet dat die reis op aarde is net ’n korte voorlopigheid na die ewigheid? 

Môre gaan almal se wens wees: geluk met jou verjaardag en ek gaan die lekker warmte teen my vasdruk vir elke wens aan my. Maar ek gaan hierdie laaste pylvak vasgryp en elke oomblik waardeer, ek gaan my geliefdes net nog liewer hê, ek gaan elke dag ten volle LEEF.

Maar ek sien ook reikhalsend uit na die dag wat ek deur die lint mag breek. My lewensreis was goed, foute en teleurstellings ingesluit, maar na die einde wag die oorwinning. 

Dankie, Heer, dat U na sewentig jaar nog nie opgegee het op my nie. Dankie, vir al daardie klomp dae en nagte. Die grootste dankie is die besef dat ek geen dood vrees nie, dat ek voluit wil leef tot aan die einde. Miskien nog twintig jaar of meer? Miskien net tien dae van nou? Maak nie saak nie, ek is voorbereid en met dieselfde oorgawe wat ek leef gaan ek die doelpaal bereik. 

Natuurlik het ek nog drome en ideale. Ek wil my man nog baie geniet, my kleinkinders baie bederf en my kinders: siestog ek het nog tyd om hulle opdragte te gee. Natuurlik ook die dekselse stories wat my nie toelaat om te slaap nie moet tussen boeke se blaaie lewe kry. 

Ontspan maar, julle, ek het nog ’n groot vrag werk wat wag, op stuk van sake is sewentig ook net ’n nommer, dielfde as een-en-twintig, dertig en vyftig!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...