Dis vandag twee jaar gelede
...! Twee kort jaartjies, maar ook twee ontsettende lang jare sedert my
liefmoeder daardie oggend nie meer verder kon stry nie. Ek is al sedert die
begin van Januarie besig met hierdie gedagtes oor haar. Want, jy sien, dit is
werklik hoe lank dit geneem het voordat die eindfluitjie geblaas het.
Maar ek wil nie sanik nie. Ek
is ook nie lus vir ‘n treurmare nie; glad nie iets in daardie rigting nie,
hoor. Ek lê nou in die bad en dink oor haar. Ek wonder hoe kan ek eer aan haar
nagedagtenis gee sonder om te kerm en kla.
En toe weet ek! Kom ek vertel
jou wat broei alles eenuur in die nag in my kop uit.
Gestel jy kry die keuse om jou
liefmens met ‘n aardse element te vereer – wat sou jy kies? Onthou, dit mag
niks wees wat jy kan koop of kan maak nie. Dit mag bloot iets wees wat die
natuur vir jou gee. Wat sou jy kies om jou geliefde mee te gedenk?
My moeder laat my dink aan lekker
soet heuning. Hoewel ek net by geleentheid heuning eet, is daar
regtig niks anders in die natuur wat vir my meer verteenwoordigend is van my
mammatjie nie. Want, jy sien, heuning is soet en die mense wat daarvan hou, kan
hulself byna nie ‘n lewe sonder heuning voorstel nie. Vra maar vir die
heuningverslaafdes, hulle sal jou sê ek is reg. Maar dan! Hoewel heuning deur
baie baie mense geëet word, besef baie min van hulle dat dit ‘n besondere
genesende waarde het. Dit is bekend dat ons voorouers dit selfs op oop wonde
gesit het vir die genesende krag wat dit het.
En dit is presies wie my moeder
was! Kom by haar met ‘n seer hart, en jy kan maar weet dat sy in haar wysheid
jou sal help om dinge in ‘n beter lig te sien. Verder was sy bekend daarvoor
dat sy haar beentjies stomp gehardloop het vir wie ookal haar nodig gehad het. Spog
ek met haar? Nee, glad nie. Dik ek aan? Ook nie, hoor. Sy het ‘n dienende gees
gehad waarvan ek nog nie die gelyke gesien het nie.
As ek aan my pa dink, is daar
geen ander simbool in die natuur anders as ‘n groot, swaar rots waarmee ek hom
wil vergelyk nie. ‘n Rots wat ongestoord in die magtige berg sy doel dien. ‘n
Rots wat nooit wankel en bewe nie. ‘n Rots wat maar net altyd daar is vir wie
ookal ‘n skadukolletjie wil soek. ‘n Rots wat skuiling bied aan ‘n menigte
diere in die veld. Hy hoef nie aan te kondig: “Kyk, hier is ek,” nie. Hy is
daar! Hy was maar nog altyd daar en sal, al soek jy hom eers weer oor ‘n jaar of twee,
nog stil daar op sy plek staan.
Dit is hoe ek Adriaan Pieter
van Lill ervaar het – stil, sterk en standvastig. Hy was vir my die sekerheid
en die rustigheid wanneer die lewe my in woeste storms rondgeskud het. Hy was
stil, eenkant en (soms) moeilik om te ‘lees’, maar vir my was hy ‘n hartsvriend
en die stilte en vrede waarheen ek altyd, en nog steeds! gehunker het.
Op hierdie manier sou ek graag
vir elkeen in my lewe ‘n simbool toeken – iets wat eie is aan daardie persoon.
Onwillekeurig wonder ek nou
watter aardse simbool ek aan myself sal toeken. Gits, kom ons los dit maar vir
later. Dalk, ja dalk, skryf ek dit eendag op ‘n stukkie papier en gooi dit dan
maar liewer weg.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking