Het jy
al gedink dat AS jy nie so of so gemaak het nie, dan sou dit nooit so of so
gebeur het nie. Ja?
Ek
weet, dis ‘n ding wat ons almal gereeld doen. Ek is nie alleen in hierdie ding
nie.
Ja, en
dan, as nagedagtenis, troos ons onsself gewoonlik dat ‘as’ mos eintlik maar
verbrande hout is. Nou gaan ek dalk jou bloeddruk so ‘n bietjie laat styg, maar
ek glo dat wanneer ek so “As is mos verbrande hout”, dan is dit bloot om my
gewete te sus. Want, jy sien, dan hoef ek nie meer so skuldig te voel dat ek ernstig
aangejaag het nie. Ennnnn! Dan kan ek nog immers my medemens se intense
simpatie geniet omdat ‘my lewe so onregverdig en vol slaggate is’. Reg?
Nou is
jy dalk nie by my nie. Ek verduidelik. Ek moet op ‘n sekere tyd iewers wees,
maar ai, ek kuier nou ‘n hond uit ‘n bos uit en stel die ryery so ‘n bietjie
uit. Wanneer ek dat uiteindelik in die pad val, is die logiese ding mos om voet
in die hoek te sit en te laat looi. Nou ja, toe gebeur dinge so ‘n bietjie
anders as wat ek verwag het en die ou met die blou pet keer my voor ...! Wat ‘n
gemene ding om te doen, ha? Kan hy nie verstaan dat ek haastig is nie?
Maar dis
nou nie wat my vanaand pla nie. Geensins nie. Ons maak maar almal droog en moet
agterna op ons eie manier boet daarvoor.
My ding
oor ‘As’, is ‘n ernstige storie. Sowaar! Ek weet nie waar jy gewoonlik sit of lê
of wat ookal wanneer die ‘dinge’ jou vat nie, maar my plek van boetedoening,
verlang, filosofeer, ou koeie uit die sloot uit grawe, wat nog alles?, is in
die bad.
Dit werk
nou so: Ek sien die hele aand lank uit na daardie lekker, salige, stil,
vredevolle bad. Ek stel dit uit soos ‘n mens dit uitstel om die lekkertjie in
jou kies stukkend te byt. Want ja, as jy hom gebyt het, is hy amper op. En weet
jy, ek kan mos nie ‘n lekker suig nie. Verdomp of ek nou besluit ek suig
hierdie een tot hy verdwyn op my tong! As ek my kom kry, het ek hom garrrr
gebyt en ingesluk. Nou wat is dan nou lekker daaraan om ‘n nammie so te eet?
In elk
geval, die bad wag vir my. In die winter kan dit nogal ‘n optog wees, hoor. Die
bad word eers warm gemaak met ‘n bietjie water. Nou tap jy dit uit, want dis
nie meer lekker warm nie. Goed, die bad is vol. Die lavender-brandertjie is
aangesteek. Die kers staan op die rand van die bad. My gunsteling song is op my
foon. Nou trek jy die deur toe en gaan haal jou josters en wat ookal. As jy
daardie deur later oopmaak, stap jy in die saligheid in, ek belowe jou.
Maar dit
is nou presies hier waar die moeilikheid begin. Ek gaan lê met salige oorgawe
terug en gee my oor aan die lekkerte van die oomblik. Die dag was lank en vol
van sy eie dinge en ek wil my kop leeg kry voor ek kooi toe gaan.
Ek weet
nie hoe dit gebeur nie, maar dis mos of daardie prentjie in jou kop kom spring –
so helder en duidelik dat jy dit nie kan ignoreer nie.
‘Wat
sou gebeur het as ek nie ...’
‘Wat
sou gebeur het as ek daardie dag juis na daardie kafee toe gegaan het nie?’
‘Waar
sou ek vandag wees as ek dalk ...’
‘Wat
sou gebeur het as ek ...’
‘Sou daardie
mens nog gelewe het as die dokter dadelik die fout raakgesien het?’
As dit
eers lekker gaan, kan ek my sommer verbeel dat ek nie so of so gemaak het nie
en dan sien ek hoe volmaak alles sou afgeloop het. Snert? Ja, ‘n klomp nonsies
waarmee ek my dan moeg lê en maak in my plek van vrede.
Eindelose
vrae sonder antwoorde. Eindelose, onnodige ‘wat as’ en ‘sê nou maar net’. Nou wel
nie almal op een slag nie, hoor. Nee, elkeen wag tot jy weer anner-aand in bad
is en die stilte om jou verwelkom. Dan klim ek uiteindelik uit daardie bad uit
met ‘n klip in my hart. Die kinders het altyd ‘n baie beskrywende woord vir
slegte situasies gebruik: Dis nou dof!
Nou is
my vraag dit: As ek my lewe sou oor kon kry, sou ek weer dieselfde besluite
neem? Want, jy sien, al kry ek dit ook oor, sal ek mos regtig nie die wysheid
wat met ondervinding kom, ook hê nie. Sal ek dan noodwendig anders besluit?
En dan,
wanneer die son weer helder en warm op my skouers brand, sien ek die lig en troos
ek myself: Martha Maria, jy het baie foute gemaak en baie verkeerde besluite
geneem, dit is waar. Maar een ding staan soos ‘n paal bo water, ek sou my lewe
vir niks op aarde wou verruil nie. Die vrede en die liefde wat ek nou ervaar, sou ek op geen ander manier kon kry as juis deur dit alles nie.
En ek weet: Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking