So stuur my vriend van Burundi vir my ‘n video en soos die
geluk dit wil hê, maak ek dit eers eenuur in die nag oop. Man! Trek ek mos ‘n
heimwee op myself wat skrik vir niks. Dis nou amper soos die aand voordat een
van my kinders verjaar. Ek hoor my oudste: “Ma, assablieff moet nou net nie
daaaar gaan nie!”
Ken jy daardie heimwee? Dis asof die jare wegval en jy oomblikke
in jou verlede so helder ervaar asof dit nou gebeur. Mmm, ek sien jy knik met
die kop. Maar nee, daar is vir seker ‘n paar van my jonger vrinne wat nie
lekker by is nie.
Ek sal (probeer) verduidelik. Daar gebeur iets groots, soos
wanneer jou kind verjaar. Onmiddellik is jy weer die jong mammatjie wat haar
kleinste, mooiste dingetjie vashou en voed en liefie. Die grootwordjare van
hierdie kind val weg. Die swaar wat jy gehad het om hom/haar groot te kry, tel
nie op hierdie oomblik nie. Jy onthou. En saam met die onthou, kom weer van
nuuts af die vreugde dat hierdie kind juis joune is!
Soms is dit ‘n stukkie musiek wat jou vat na die dag toe jy
die liefde van jou lewe ontmoet het. Soms is dit ‘n reuk. Soms is dit sommer
net ‘n gedagte wat nes kom maak tussen jou ore.
Ek maak die video oop. Og, jinne! Clint Eastwoord! As jy
nie weet wie hy is nie, is jy eers anderdag gebore en dan het jy baie groot
uitgemis, glo vir my. Dis nou die ou wat enige cowboy na ‘n sissie laat lyk
het. Later jare het hy romantiese rolle ook gespeel; onder andere saam met
Meryl Streep. Ek kan maar net weer innerlik sug van genoegdoening as ek daaraan
dink.
Nou wat nou? Wag, ek kom by my punt.
Op die video is Clint wie hy vandag is – oud en vol plooie.
Maar, weet jy, ‘n mens kyk dit mis. Jy kyk dit mis omdat jy dit WIL miskyk. Jy onthou
hom soos hy was ... en jy is sommer ook weer jonk en vol lewe.
Die video is ‘n kort vertelling van iemand wat op ‘n
spesifieke dag saam met Clint golf gaan speel het. Clint sou die Maandag 88
word. Maar, het hy vertel, hy gaan niks buitengewoons doen nie. Hy sou weereens
aan ‘n fliek gaan werk het.
Sy antwoord het my kop aan die dink gesit. “Ek staan elke
dag op en ek laat nie die ouman by die deur inkom nie.”
Die vraag wat gevra word, is: Wat as jy nooit geweet het
presies wanneer jy gebore is nie? Met ander woorde, as ek nie geweet het ek is
nou so oud of so oud nie.
Sou ek nog die ouderdom as ‘n verskoning gebruik het
wanneer ek sekere dinge nie kan of wil doen nie? Sou ek nog gereken het ek is
nou nie meer goed vir niks nie? Ek is nou ‘oud en sat der dagen’, soos die
oumense altyd gesê het.
Dit voel soms vir my dat ons so saam met die ouderdom, nee,
so saam met die jare, ons vreugde so half en half verloor het. Is dit nie so
nie? Nou hoe dan nou so? Is dit dat ons nou maar wag vir die lang boompies? Of is
dit bloot net nie meer lekker om te wees wie of wat jy is nie ... so asof jy so
half en half uitgekuier is met jouself.
Dit is nou net hier wat ek besluit om die ouvrou by die
agterdeur uit te hou. Sy het g’n plek in my huis nie, hoor! Dit is sy wat my
vreugde en opgewondenheid oor die lewe steel. Sy is ‘n gemene wese wat moet
buite bly.
Ek verkies om bly te wees. Ek wil elke dag met opgewondenheid verwelkom. En meer nog: ek verkies om met
dankbaarheid te lewe. Ek wil hom voluit leef en ek wil hom geniet!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking