Woensdag 23 Januarie 2019

AS DIE WÊRELD OP SY KOP GAAN STAAN

Vreemd hoe ‘n mens se opinie oor dinge kan verander ... dis nou dinge wat jou diep raak en wat jou (waarskynlik) meer as een nag se slaap kan kos. Ander dinge kan jou op die oomblik so ontstel dat jy ‘n kabaal opskop dat dit gehoor word tot aan die eindes van die landsgrense (of selfs verder).
Die dag toe my koshuisvader my na sy kantoor toe geroep het, was vir my asof die dood self op my neergedaal het. Ek was in standerd drie (Graad 5) en hy was my klasonderwyser. Ek onthou sy ontevrede gesig. Ek onthou my natgeswete hande en die benoudheid op my bors. Hy was doodstil. Het my net om die lessenaar na hom toe gewink en afgekyk op my vraestel. Daar het dit in duidelike blou ink gestaan. Ek het 16 uit 60 gehad vir die Junie-eksamen. Vandag maak dit nie meer saak nie, maar daardie dag was, soos ons altyd gesê het, dit nag vir my. My pa en ma was nog minder beïndruk as die onderwyser. Ek mag vir die hele somer nie geswem het saam met die ander koshuiskinders nie – moes glo daardie tyd geskiedenis leer.

Ek dink nou aan die dag toe ek as jong ma saam met my man op pad kerk toe was. Ons motor was stukkend, dus het ons sommer gestap. Ons het in Maltahöhe gebly, dus was stap eintlik nie ‘n probleem vir ons nie. Die ding is net dat ons so pas ‘n baba ryker geword het en die orde en roetine in die huis was glad nie meer soos voorheen nie. Ons gesels al die pad kerk toe – ek met die baba, hy met die Bybel en Gesangboek. Voor die kerkdeure wil ek my hare darem ‘n bietjie reg vryf. So met die een hand hou ek vir baba en die ander hand moet nou ... Hemele val op my! Ek het nooit my hoed op my kop gesit nie! Nouja, wat ek als gesê het, weet ek nou nie meer nie. Ek kan net onthou dat my man (wat mos moes GESIEN het ek het nie ‘n hoed op nie!) die hoed moes gaan haal en bring.

Die een storie oor my ma waaroor ons baie gelag het agterna, was die dag met die bak kerriekos. En hoor nou vir my, as daar een is wat kerriekos kon kook, was dit nou die Ouma. Ons klomp kinders met ons aanhangsels was daar en daardie bak was gelykvol met die lekkerste skenkelbeentjies en wat nog alles. Toe sy nou vir bak wil vat en tafel toe dra, glip hierdie bedryf uit haar hande uit. Die genade is dat sy so op en wakker was. Op ‘n manier druk sy vir bak teen die oond se ruit vas. Al wat Ouma kon sê, was iets soos: “My bak, my bak!” Jy moet my tog nie vra hoe nie, maar sy het daardie kooksel gered en ons het almal genoeg gehad.

Ek is seker jy het baie voorbeelde van sulke dingetjies wat op die oomblik ‘n krisis was, maar agterna toe eintlik nie die ergste was nie.

Daar is mos die storie (ek sweer in elke familie is iemand wat dit oorgekom het!) van die vrou wat op pad winkel toe was. Sy is op hierdie besige sypaadjie tussen hoevele mense. Opeens voel sy die onderrok se rek het meegegee. Nouja, toe hy grond toe gaan, skop sy dit bloot eenkant en stap verder. Wie het almal gesien? Ag, wie traak dan nou daaroor?

‘n Baie onlangse krisis in my lewe was toe ek afgelê is by die werk. Dit was sommer nou die dag, hoor. Ek is letterlik deur elke stadium van opstand, woede, selfbejammering, swak selfbeeld, twyfel in myself, wantroue, noem maar op! Sowaar, dit was regtig nag vir my! Die wêreld het vir my op sy kop gaan staan en niks was reg of goed of mooi nie.

Ek hoop jy het dit raakgelees dat ek dit in die verlede tyd skryf. Ek WAS in ‘n toestand! Ek HET jammer gevoel vir myself!

En nou? Wat het dan nou verander? Niks nie, hoor. Alles is nog dieselfde as wat dit daardie dag was. Ek is nog altyd by die huis. Ek gaan nog altyd in die vroeë oggendure slaap. Ek doen nog altyd niks anders as voorheen nie.

Nou wat het dan verander?

Ek. Ja, ek het verander. My kop en my hart het omgeswaai en die wêreld weer mooi in die oë begin kyk.

En toe?

Toe raak dit lekker en ek besef net een ding: My identiteit hang nie af van wat ek reg of mooi of goed kan doen nie. Glad nie.

Ek is ek, al draai die aarde op sy kop..

1 opmerking:

  1. Pragtig Martha..sulke hartstories.
    Baie dankie ek geniet dit baie.

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...