Vreemd hoe ‘n mens se opinie
oor dinge kan verander ... dis nou dinge wat jou diep raak en wat jou (waarskynlik)
meer as een nag se slaap kan kos. Ander dinge kan jou op die oomblik so ontstel
dat jy ‘n kabaal opskop dat dit gehoor word tot aan die eindes van die
landsgrense (of selfs verder).
Die dag toe my koshuisvader my
na sy kantoor toe geroep het, was vir my asof die dood self op my neergedaal
het. Ek was in standerd drie (Graad 5) en hy was my klasonderwyser. Ek onthou
sy ontevrede gesig. Ek onthou my natgeswete hande en die benoudheid op my bors.
Hy was doodstil. Het my net om die lessenaar na hom toe gewink en afgekyk op my
vraestel. Daar het dit in duidelike blou ink gestaan. Ek het 16 uit 60 gehad
vir die Junie-eksamen. Vandag maak dit nie meer saak nie, maar daardie dag was,
soos ons altyd gesê het, dit nag vir my. My pa en ma was nog minder beïndruk as
die onderwyser. Ek mag vir die hele somer nie geswem het saam met die ander
koshuiskinders nie – moes glo daardie tyd geskiedenis leer.
Ek dink nou aan die dag toe ek
as jong ma saam met my man op pad kerk toe was. Ons motor was stukkend, dus het
ons sommer gestap. Ons het in Maltahöhe gebly, dus was stap eintlik nie ‘n probleem
vir ons nie. Die ding is net dat ons so pas ‘n baba ryker geword het en die
orde en roetine in die huis was glad nie meer soos voorheen nie. Ons gesels al
die pad kerk toe – ek met die baba, hy met die Bybel en Gesangboek. Voor die
kerkdeure wil ek my hare darem ‘n bietjie reg vryf. So met die een hand hou ek
vir baba en die ander hand moet nou ... Hemele val op my! Ek het nooit my hoed
op my kop gesit nie! Nouja, wat ek als gesê het, weet ek nou nie meer nie. Ek
kan net onthou dat my man (wat mos moes GESIEN het ek het nie ‘n hoed op nie!)
die hoed moes gaan haal en bring.
Die een storie oor my ma
waaroor ons baie gelag het agterna, was die dag met die bak kerriekos. En hoor
nou vir my, as daar een is wat kerriekos kon kook, was dit nou die Ouma. Ons klomp
kinders met ons aanhangsels was daar en daardie bak was gelykvol met die
lekkerste skenkelbeentjies en wat nog alles. Toe sy nou vir bak wil vat en
tafel toe dra, glip hierdie bedryf uit haar hande uit. Die genade is dat sy so
op en wakker was. Op ‘n manier druk sy vir bak teen die oond se ruit vas. Al wat
Ouma kon sê, was iets soos: “My bak, my bak!” Jy moet my tog nie vra hoe nie,
maar sy het daardie kooksel gered en ons het almal genoeg gehad.
Ek is seker jy het baie
voorbeelde van sulke dingetjies wat op die oomblik ‘n krisis was, maar agterna
toe eintlik nie die ergste was nie.
Daar is mos die storie (ek
sweer in elke familie is iemand wat dit oorgekom het!) van die vrou wat op pad
winkel toe was. Sy is op hierdie besige sypaadjie tussen hoevele mense. Opeens
voel sy die onderrok se rek het meegegee. Nouja, toe hy grond toe gaan, skop sy
dit bloot eenkant en stap verder. Wie het almal gesien? Ag, wie traak dan nou
daaroor?
‘n Baie onlangse krisis in my
lewe was toe ek afgelê is by die werk. Dit was sommer nou die dag, hoor. Ek is
letterlik deur elke stadium van opstand, woede, selfbejammering, swak selfbeeld,
twyfel in myself, wantroue, noem maar op! Sowaar, dit was regtig nag vir my! Die wêreld
het vir my op sy kop gaan staan en niks was reg of goed of mooi nie.
Ek hoop jy het dit raakgelees
dat ek dit in die verlede tyd skryf. Ek WAS in ‘n toestand! Ek HET jammer
gevoel vir myself!
En nou? Wat het dan nou
verander? Niks nie, hoor. Alles is nog dieselfde as wat dit daardie dag was. Ek
is nog altyd by die huis. Ek gaan nog altyd in die vroeë oggendure slaap. Ek doen
nog altyd niks anders as voorheen nie.
Nou wat het dan verander?
Ek. Ja, ek het verander. My
kop en my hart het omgeswaai en die wêreld weer mooi in die oë begin kyk.
En toe?
Toe raak dit lekker en ek
besef net een ding: My identiteit hang nie af van wat ek reg of mooi of goed
kan doen nie. Glad nie.
Ek is ek, al draai die aarde
op sy kop..
Pragtig Martha..sulke hartstories.
AntwoordVee uitBaie dankie ek geniet dit baie.