Saterdag 12 Januarie 2019

OM NUUT TE BEGIN

En so is dit alweer die einde van nog ‘n week in 2019 – die jaar waarna baie van ons rykhalsend uitgesien het. Diep in ons harte wil ons tog maar altyd glo dat dit môre beter sal gaan as gister, nie waar nie? Ja, dit is waarop ons geloof ook gegrond is – om te glo in dit wat jy nou nog nie kan sien nie.

Nee, ek wil glad nie hier skryf oor enige nuwejaarsvoornemens nie. Dit is lankal ou nuus, glo ek. Jy besluit hierdie groot ding op die laaste dag van die jaar, en 24 uur later het jy reeds daarvan vergeet. Ha-a, ek het baie lankal opgehou om myself daarmee te flous, glo vir my.

Voor ek verder skryf, wil ek ‘seblief verskoning maak vir die Engelse aanhalings wat ek gaan gebruik. Soos met enige taal, het Engels ook ‘n manier om sekere dinge net beter uit te druk as enige ander taal. Dalk stem jy nie met my saam nie, maar verdra my maar hierdie een keertjie, asseblief. Hoe sou jy byvoorbeeld 'new beginnings' uitdruk? Ek weet regtig nie.

‘n Vriend stuur vir my hierdie almanak van1895. “Moet tog nie die moeite doen om ‘n nuwe almanak te koop nie, gebruik sommer hierdie een.”
Ek kyk ‘n slag daarna en wil net verder gaan, toe dit my tref: Alles wat is, was reeds. (‘n Aanhaling/gesegde van my onderwyser in standerd 5) Ja? Ek sien jy frons liggies hieroor. Die jonges sê almal gelyk: Issie! Die modes van vandag was nog nooit voorheen nie. Regtig? Dink jy regtig dit het nog nooit voorheen bestaan nie? Kyk ‘n bietjie na hierdie skepping uit 1930 en dan stry jy weer met my, toe?
Stephen King: “Sooner or later, everything old is new again.”
 
Ons het dus anderdag die einde van 'n jaar gevier, maar ook net daarna die begin van 'n nuwe een. Einde? Begin? In dieselfde sin?
Marianne Williamson: “Every ending is a new beginning."

Ja. Ons kon leer uit die ondervindings van die jaar wat verby is, maar ons kan ook uitsien na die een voor ons. Ons kan bou op dit wat agter is. Sommiges was sleg, ander dalk baie sleg. Maar die goeie dinge het nie agtergebly nie, dit is seker.

TS Elliot: "What we call the beginning is often the end. And to make an end is to make a beginning. The end is where we start from."
Maak die stelling van Elliot vir jou enigsins sin? Dink 'n bietjie daaroor. Ek het hom 'n paar maal oor die tong laat rol voordat dit lekker ingesink het.

Ons kom baie maal in ons lewens by 'n punt waar ons totaal en al wil oorgee. Jy glo daar is geen uitkoms nie. Jy weet hierdie is die einde vir jou ... niks kan jou weer uit hierdie ellende haal nie! Wat meer is, daar is niemand wat verstaan en/of kan help nie. Jy is alleen in jou ellende en pyn.

Was jy al daar? Ek was. Glo my maar. Ek was!

En dan? Hoe nou verder?

Wanneer jy later terug kyk, sien jy dat daar toe tog 'n uitkoms was. Wat vir jou soos die einde gelyk het, was toe al die tyd die begin van 'n nuwe hoofstuk in jou lewe. En hierdie nuwe hoofstuk is so mooi, man! Dis baie beter as wat jy ooit kon vra voor. Dis sulke tyd wat jy prewel: "As ek maar net voor die tyd geweet het ..."

Ek wil aan elkeen wat 'aan die einde' gekom het, vanaand hierdie boodskap gee: 'Seblief, hou vas! Moenie oorgee en moed verloor nie. Want, jy sien, daar MOET eers 'n einde wees voordat daar 'n (nuwe) begin kan wees. 

Dink maar aan die skoenlapper in die aaklige papie. Dink aan die saadjie wat jy in die lente in die grond gedruk het en wat nou 'n pragtige plant is. Dink aan jouself toe jy die laerskool met al jou vriende moes verlaat ... net om 'n paar weke later nuut te begin in 'n nuwe skool met selfs beter vriende as voorheen.

Ek glo die enigste geheim aan dit alles is dat ons 'n streep moet trek wanneer ons by die einde gekom het. Ons moenie daar vassteek en bly staan nie. Hoe kan ek nuut begin as ek nie vorentoe beweeg nie?

En dan! Alles wat voorheen was, is nog steeds. Selfs al lyk dit vir jou of jy alles verloor het, is dit nie regtig die waarheid nie. Die dinge wat saak maak IS NOG ALTYD.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...