Sondag 06 Januarie 2019

EEN PLUS EEN IS EINTLIK MOS MAAR EEN

En toe beleef ek dit vandag. Kan jy dit glo? Ek, gebore en getoë Namibier, sien toe vandag die heel eerste keer ‘n Welwitschia mirabilis. Hoe is dit dan moontlik, kan jy my vra. Ag, daar is seker meer as een rede daarvoor, dink ek. Maar die eintlike rede daarvoor is dat ek nog nooit gedink het dat ek ooit in my lewe die voorreg sal kry om dit van naderby te kan besigtig nie.
Want, jy sien, dit is mos hoe dit werk. Bloot omdat ek nog nooit die wens uitgespreek het nie, het dit nog nooit gebeur nie. Ons loop mos met hartsbegeertes rond en glo die goeie fee sal dit vir ons waar maak. Ha-a, dis nie hoe dit werk nie. Maak net ‘n slag jou mond oop en spreek jou hartsbegeertes hardop uit en kyk wat gebeur. Is! Moenie stry nie!
Ons stop en ek stap oor die kaal vlaktes na ‘n kleinerige een toe. My asem sit vlak in my keel van opgewondenheid. Regtig? Gaan ek sowaar vandag een van my grootste wense bewaarheid kry?
Ek gaan staan so endjie van hom af. (Natuurbewaring/iemand het met klippe ronde sirkels om elkeen gepak om hierdie kosbare plante te probeer beskerm teen vandale.) Dit voel of jy in ontsag so ‘n bietjie sagter moet asemhaal. In kort: dit is ‘n gesig wat ek tog nie kan beskryf nie, want eintlik is dit iets wat jy met jou hart, meer as met jou oë, ervaar.
Een plant met baie name: Die Namas noem hom Kharos, of Khurub. Die Damaras praat van Nyanka en die Hereros noem dit Onyanga. In Afrikaans word soms verwys na die Tweeblaarkanniedood.
Tweeblaarkanniedood. Net twee blare ... wat aanhou groei en amper vir ewig voortbestaan. Sjoe! Indrukwekkend, is dit nie? My seun merk op dat as hierdie een 1 500 jaar oud is, dit min of meer begin groei het in die tyd van die apostels van Jesus. Dit laat jou besef hoe kosbaar die plant werklik is.
Hoewel dit net twee blare het, vorm dit deur die jare so ‘n netwerk dat jy glad nie kan sien dit is net twee blare nie. Dit vorm ‘n eenheid wat dit moeilik vir die oog maak om te onderskei waar en hoe dit vandaan kom.
Vanoggend sit ek en my liefie koffie drink. Ons gesels nie juis nie; dis net sulke een-een woordjies en/of frases. Jy weet mos, as iemand jou hart ken, is daar nie baie woorde nodig nie. Julle gesels amper meer met die harte as met woorde. En ja, dis ook asof julle verbintenis al vir eeue lank aankom.
Ek noem dit vir Liefie dat dit darem baie vreemd is om so daaraan te dink – twee totaal en al verskillende mense wat iewers ‘n raakpunt het en hulle is vir ewig gegom aan mekaar. Weet jy wat antwoord hy my? “Dis net jammer dat baie mense weghardloop voordat die gom behoorlik droog geword het.”
Nou hoor ek jy vra my hoe ek nou die storie van die Welwitschia en twee getroudes bymekaar kan bring.
Dis (vir my) baie logies. Die twee blare wat ‘n kosbare eenheid vorm en vir eeue en eeue ‘n boodskap uitdra aan die wêreld: Kyk wat doen ons in ‘n woestyn – ons groei en gedy en laat onuitwisbare indrukke by elkeen wat langs ons verby stap.
So is twee siele wat ‘gegom’ is in ‘n eenheid ook. Die liefde tussen die twee mense is onuitwisbaar vir eeue en eeue – eintlik tot in ewigheid. Selfs al sou een of albei sterf, kan niks ooit daardie eenheid tussen die twee vernietig nie. Dit leef voort in jou kinders en eintlik in almal wat jou lewe met jou deel. 
Nou is my vraag (meer aan myself as) aan jou: Presies wat lees ander mense in jou verbintenis met jou dierbares? Is dit ook soos die Welwitschia wat ander asemloos en verwonderd laat? Of laat dit dalk juis mense (selfs jou kinders) besluit dat dit nie die moeite werd is om lief te hê en te trou nie?
Ek vra maar net, hoor.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...