Woensdag 11 Julie 2018

WIE KYK VIR MY?

So ‘n tydjie gelede hoor ek die storie van die boemelaar met die hond by ‘n vriend. Dit sink diep in en ek besef dat dit ‘n lewenswysheid is wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. Hoor wat sê hy:

Hierdie ou boemelaar het niks. Hy het iewers ‘n trollie van ‘n winkel in die hande gekry en daarin is alles wat hy besit. Heelwaarskynlik is dit gister se laaste slukkie brandewyn en ‘n stukkie droë brood. Wat anders kan in die trollie wees? Hy het niks en hy is ook niks. Dit is winter, dus het hy seker ook ‘n paar stukke karton waarop en waaronder hy snags slaap in sy trollie. Nog iets? Dit kan nie veel wees nie, sowaar!

Ou Peet slaap in die stegie langs die Portugese winkeltjie. Hy het al gesien dit is waar die wind hom die minste bykom en daar is ook die minste ‘voete’ deur die nag. Hy voel redelik veilig daar in die stegie en elke dag eindig sy roete deur die strate maar weer daar.
Hy het ‘n vaste roete wat hy daagliks loop. As die Portugees sy winkel seweuur oopmaak, gooi hy gewoonlik gister se oorskiet tjips en worsies sommer weg. Peet wag net tot hy weer in sy winkel is voordat hy dit uit die asdrom gaan opdiep. Teen tienuur is dit pouse by die laerskool en soms kry hy ‘n broodjie wat een sommer in die grond neergooi. (Weet hulle ma’s hoe hulle mors?) By die groentewinkel is daar soms oorryp vrugte wat buite langs die asdrom gesit word vir die asdromlorrie om dit op te laai. Sulke dae is Peet in vervoering, want hy kan kies en keur tussen alles wat hy net van kan droom. Wanneer Peet dan laatnamiddag terugdraai na sy hoekie toe, het hy dalk ‘n rand of twee om ‘n halfjekkie ook mee te kan koop. Hy troos homself daarmee dat hy dit eintlik net koop om warm te bly – dan is dit mos nie sonde nie, is dit?

En tussen dit alles deur het die hond sy verskyning gemaak. Peet kan nie meer onthou wanneer of waar nie, hy het maar net iewers opgedaag en begin om saam te loop. Dan sit hy ‘n paar treë weg en hou Peet dop as hy iets gulsig kou en afsluk. Eers was Peet al te aardig daaroor. Jy sien, die hond lyk ook maar soos Peet: maer, uitgehonger en verwaarloos. Peet kon eenvoudig nie iets eet as die hond hom so sit en bekyk nie. “Voertsek!” of “Hierjy, jou rondloperding!” het niks gehelp nie. Ignoreer het selfs minder gehelp. Hond het gesit as Peet sit en geloop as Peet loop. Soos ‘n skaduwee het hond vir Peet gevolg. Oggend. Middag. Aand. Mettertyd het hy selfs ‘n endjie weg van Peet geslaap ook in die nag.

Op ‘n dag sit die twee mekaar en bekyk. Peet draai sy kop skeef. Hond draai sy kop ook skeef. Peet staan skielik op. Hond staan ook haastig op. Peet gaan sit en natuurlik gaan hond ook weer sit. En toe sien Peet dit in die hond se oë. Eers wou hy dit nie glo nie. Ha-a, dit kan nou wragtag nie waar wees nie. Dit lyk dan of die hond met respek in sy ogies vir hom wat Peet is sit en kyk. Ha? Vir my wat Peet is? Respek? En ou Peet trek sy skouers ‘n bietjie meer regop en stap voor hond uit na hulle volgende bestemming...!

Nou wonder jy waarop stuur ek af? Dis eenvoudig, hoor. Hond het ou Peet slaafs gevolg, want hy het geglo in Peet. Hy was oortuig daarvan dat Peet die beste ding is wat nog ooit met hom gebeur het, selfs al het Peet nooit sy kos met hom gedeel nie.

My vraag aan jou is nou dit: Weet jy dat daar een of twee of selfs baie mense is wat jou dophou en jou volg? Nee, wag nou, ek sien jy skud jou kop en klap jou tong vererg vir my. Hoor my nou eers enduit en dan stry jy weer met my ... as jy kan, natuurlik.

Ek is seker iemand het al vir jou gesê “Weet jy, ek het nog nooit so of so daaraan gedink nie, dankie dat jy dit nou gesê het. Ek sal dit nooi weer vergeet nie.”
Of wat van die keer wat jy die wag by jou motor met ‘n broodjie beloon het en skielik sien jy meer en meer mense doen dit nou gereeld?
Of die keer toe jou kind per ongeluk ‘n glas gebreek het en jy het, hoewel deur geklemde kake, vir haar gesê:  “Dit maak regtig nie saak nie, dis wêreldsgoed.” ‘n Dag of wat later ry jy per ongeluk oor haar mooiste pop en sy troos jou, hoewel met ogies vol trane: “Toemaar, Mamma, dis wêreldsgoed.” Waar, dink jy, het sy die voorbeeld gekry?
Juffrou, jy wat by die laerskool ‘n klassie het, weet jy dat die dogtertjies selfs hulle hare soos Juffrou s’n wil knip?
En jy, Meneer die Bankbestuurder, besef jy dat die seniors in die bank die klerke onder hulle presies behandel soos wat jy hulle behandel?
Mevrou, dra jy soms ‘n vuil koppie kombuis toe of moet Mina maar met al die vuil matte, skottelgoed, wasgoed, stoepe, vensters, wat alles! sukkel van dag tot dag? Gee jy nie dalk vir haar die idee dat dit nie vir jou belangrik is of jou huis netjies is of nie? Is jy nie dalk die oorsaak waarom sy ook maar net doen waarvoor sy lus is in jou huis nie? Want jy sien, Mevrou traak tog ook nie met wat ek doen nie. Oepsie! Regtig?
Mamma, het jy al geluister as jou dogtertjie en haar maatjie huis-huis speel? Met watter stem praat sy? Is sy vriendelik met haar vriendin in hierdie grootmens-wêreld, of praat sy neerbuigend met haar? Waar, vra ek jou, hoor sy dit?


Nou vra ek jou weer: Weet jy dat daar iemand is wat jou dophou en jou slaafs volg? Weet jy dat jy die beste ding is wat nog ooit met daardie mens gebeur het? En besef jy dat jou doen en late daardie persoon kan maak of breek?

Nee, ek vra maar net, hoor.

1 opmerking:

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...