Ek is dwalend. Bekommerd.
Beangs, eintlik! Ek voel dat my liggaam aan die ingee is en ek kan daar niks
aan doen nie. Want sien, soos wat so baie maal met elkeen van ons gebeur, staan
ek voor ‘n toe deur wat enige oomblik gaan oopswaai en ek weet nie wat
anderkant hierdie deur vir my wag nie. En dit is presies waarom ek so worry, sien?
Neem jy my kwalik?
Ek weet, ja. ‘Wat dan van jou geloof, Marthamaria? Waar is jou geloof dan nou?’
Ja, ja, ja! Ek weet...! En dink net, Martha, bla bla bla!
Het jy ook al so
gevoel? Ek weet jy het. Kom loop dan nou saam met my na Ragab, die sedelose vrou,
toe. Ja, kom maar net saam, jy sal later verstaan hoekom ek gisteraand juis by haar deur gaan aanklop het.
Ragab, die Kananiet, is ‘n
bekommerde vrou. Meer en meer hoor sy van hierdie volk wat op pad is om Jerigo
oor te neem. Elke soldaat wat by haar huisie in kom, bewe van vrees. Sy vra
vrae. Sy luister. En sy weet! Hierdie volk se God is geen gewone god nie.
Hierdie volk se God is die ware, enigste God.
Sy is besig om
haarself voor te berei vir die aand se werk. Bad. Hare was. Olies invryf. Grimering.
Parfuum. Soja, amper klaar...
Ai, net party
keer wil ‘n mens ook maar net ‘n bietjie rus, sug sy. Dink nou net as hier ‘n
man en kinders was, ha? ‘n Man om vir my te sorg en kinders wat kan lief wees
vir my. Ja, ja, ja! Ek kla nie omdat ek nooit gebrek ly nie! Dit is nie die
probleem nie – glad nie! Dis net ... ai ... waarom moet my hart weer vanaand
loop skeef neuk? ‘Ragab,’ raas sy met haarself, ‘aanvaar asseblief net vir eens
en altyd dat jy anders is as ander vrouens. Aanvaar asseblief dat geen man ooit
met daardie oog na jou sal kyk nie. En jy, verraderlike hart, kom tot rus!’
Die sagte
kloppie aan die deur is onverwags. Dit is nog heeltemal te vroeg vir haar gereelde kliënte, Die son sit nog hoog en
die manne wag tot die donker hulle insluk voordat hulle kom. Sy wil dit eers
ignoreer, maar die klop raak dringender en harder.
Sy skrik en gee
‘n kort gilletjie toe sy die twee vreemde mans buite die deur kry. Hulle gee
haar nie kans om die deur voor hulle toe te slaan nie. Hulle druk by haar verby en trek haar binnetoe.
“Bly net stil, ons sal jou niks maak nie. Sjuut, asseblief!” praat die een
dringend met haar toe dit lyk of sy alarm gaan maak.
“Wat wil julle
van my hê? Loop asseblief liewer, julle lewens is in groot gevaar en as ons
koning se soldate julle hier kry, is dit sommer klaarpraat met my ook!”
“Nee, wag nou,
Dame. Ons sal jou geen kwaad doen nie. Ons is gestuur om te kom kyk hoe sterk
die stad is. Kan jy ons asseblief help?”
Opeens is daar ‘n
donderende geklop aan die deur. ”Ek is besig om te bad, kom asseblief later
weer!” skree sy deur se kant toe. Intussen beduie sy vir die manne om dak toe te
hardloop. Daar steek sy hulle weg onder bondels vlas.
“Maak dadelik
oop, of jy slaap vanaand op straat!” skree een van die soldate van buite af.
Ragab ruk haar hoofbedekking en mooi oorrok af en gooi dit in die kamer. Toe sy
die deur oopmaak, staan sy byna kaal voor die soldate.
“Sies, man, kyk
hoe lyk jy! Het jy nie respek vir jouself nie?” bulder die grootste van die
soldate voor haar deur.
“U het
aangedring dat ek die deur oop moet maak, het u nie?” antwoord sy smalend. "Ek was besig om te bad en julle wou nie hoor nie."
“Ons soek na
die twee manne wat hier by jou in die huis is. Ons het rede om te glo dat hulle
hier is, so jy moenie vir ons lieg nie, vroumens!”
Sy oortuig
hulle dat daar wel manne was, maar dat hulle ‘n tydjie gelede na die berge se
kant toe gevlug het.
Toe die soldate
weg is, gaan sy na die twee spioene toe. Hulle bedank haar vir haar hulp, maar
sy het ‘n dringende versoek.
“Ek het gehoor
van julle God. Ek weet dat Hy die enigste ware God is daarom weet ek dat julle
ons stad gaan kom oorneem. Ons het gehoor hoe Hy julle deur die see laat trek het
en hoe julle vir Sihon en Og oorwin het. Ons almal is lam van vrees vir julle.”
Sy kyk die manne stip aan voordat sy verder praat. “Ek sal julle
help ontsnap, op voorwaarde dat julle belowe om my en my familie nie dood te
maak nie. Asseblief, kan julle dit vir my belowe?” vra sy bewend. Die trane
stroom oor haar wange en sy bewe so groot soos sy is.
“Dame, help ons
om te ontsnap, en ons sweer vandag dat jy niks sal oorkom nie – nie jy nie en
ook nie jou familie nie,” antwoord albei plegtig.
Sy het ‘n lang,
rooi tou wat sy by die venster laat uitsak aan die buitekant van die muur. Ja,
haar huis was bo-op die muur van Jerigo. Sy beduie vir hulle waarheen om te
vlug en hoe om veilig te skuil vir ‘n paar dae.
“Dame, hierdie
rooi tou wat nou hier deur die venster hang... Los dit dat dit daar bly hang
wanneer ons kom. Ons sal die tou sien en ons sal weet om hierdie huis se mense
niks aan te doen nie. Wanneer ons kom, bring jou ouers en broers en susters in
die huis in en maak die deur toe. Moet dit vir niemand oopmaak nie en moet ook
dat niemand uitgaan nie. Verstaan jy mooi wat ek vir jou sê?” vra die spioen
terwyl hy al halflyf by die venster uit is.
Sy beaam
saggies voordat hy met die tou afgly tot onder. Sy wag nie om te kyk of hulle
veilig is nie, want sy is heeltemal te bang iemand sien haar daar by die
venster.
Hagar stuur ‘n
broer van haar om die hele familie te laat kom. Toe hulle almal daar is, praat sy ernstig met hulle: “Ek het julle laat roep om ‘n
baie belangrike saak te bespreek. Julle almal weet van die volk wat op pad is
... die volk wat die groot God aanbid. Luister asseblief mooi na my ...” Sy
verduidelik haarfyn wat van hulle verwag word wanneer die vyand hulle
verskyning maak voordat almal terug huis toe gaan om voorbereidings te tref.
Elke dag wag
Ragab gespanne. Tot groot frustrasie van baie mans maak sy nie meer oop
wanneer hulle vir haar wil ‘kom kuier’ nie. Sy staan byna permanent voor haar
venster om te kyk wanneer die vyand opdaag. Sy het gehoor die stadsdeure is
gesluit sodat die vyand nie kan inkom nie, maar sy weet van beter...!
En toe gebeur
dit. Sy word wakker van die gedreun van voetstappe en die geblaas van ramshorings.
Sy storm venster toe. Hulle stap rondom die stad. Soldate voor, sewe manne met ramshorings wat skel klink in die oggendstilte, dan kerkmense met ‘n houtkis op die
skouers en agter hulle aan loop die hele volk.
Kort-kort is
daar ‘n dringende klop aan haar deur. Sy maak elke keer doodseker dat dit haar
familie is voordat sy die deur oopmaak. Almal is ewe haastig om by die venster
te kom kyk wat aan die gang is. Dit neem nie lank nie voordat haar hele familie
by haar in die huis is nie. Hulle maak seker dat die deur dig toe is en maan die
kinders om stil te wees.
Almal hou asem
op. Wat kom volgende? Maar toe die volk van die Here een maal rondom die stad
is, stap hulle in stilte terug na hulle laer toe. Hulle moes laer opgeslaan het
gedurende die nag, besef sy.
Stilte! Niks gebeur
vir die res van die dag buite Jerigo nie. Binne die mure van die stad skarrel
die soldate om paraat te kom. Kort-kort hoor jy ‘n bevel wat geskree word, of
die klank van soldate wat verby masjeer.
Net voor
sonsopkoms die volgende dag is dit weer dieselfde ding. Die dreuning van voete
wat stamp in die grond. Die geskel van ramshorings. Die volk praat nie, dis of
hulle stilte ter hemele skree vir dié wat dit moet aanskou en nie weet wat
volgende gaan gebeur nie.
Dag drie. Dag vier.
Vyf. Ses. Elke dag dieselfde ding. Ragab se broers raak opstandig. Hulle wil
hier uit! Hulle wil gaan gereed maak om te veg. Ragab vermaan hulle stil: “Dit
is jou keuse, maar ek het jou gewaarsku...”
Dag sewe. Die volk
loop weereens agter die ramshorings aan. Maar wat dan nou? Nog ‘n keer en nog ‘n
keer... hulle hou nie op nie. Almal weet dat hierdie dan nou die dag is... wat wát gaan
gebeur? Die vyand kan onmoontlik nie by die stadspoorte inkom nie, dit weet
hulle maar al te goed. Maar onthou, hulle God laat hulle dwarsdeur die see
loop!
Ragab staan en
tel. Drie keer om. Vier keer. Vyf. Ses. Die sewende keer bars die hel self los.
Die volk gaan aan die skree dat dit klink of die hemel gaan oopskeur daarvan. Saam
met die geskreeu begin die huis eers liggies bewe. Ragab gryp verskrik ‘n kind
of twee teen haar vas.
En dan hoor
hulle dit: die mure van die stad is besig om inmekaar te tuimel. Die stof, die skudding
van die huis waarin hulle is en die geskreeu van die vyand is meer as wat ‘n
mens kan verduur. Die hel self het in ‘n oomblik losgebreek in en om Jerigo.
Baie baie later word dit
stil buite. Wat nou verder? Moet hulle binne bly of probeer uitgaan? Hulle staar
mekaar verskrik aan. Iemand vra: “Ragab, hoe nou verder?” Sy trek haar skouers
op – sy weet ook maar nie.
Daar is beweging buite. Mans wat met mekaar praat. 'n Dringende klop. Die
deur gaan oop.
Die twee bekende gesigte beduie na buite: “Kom saam met ons, Ragab, jou geloof het jou gered.”
Die twee bekende gesigte beduie na buite: “Kom saam met ons, Ragab, jou geloof het jou gered.”
Jou geloof het jou gered! Net daardie een is genoeg!
AntwoordVee uit