ʼn
Mens wat alleen is en voel hy of sy het niks om te verloor nie. Uitstekend met
diertjies huis toe dra en voëltjies uit die mond uit grootmaak. Happy go lucky,
die lewe is ʼn lied. Almal verdien ʼn tweede kansie en elke klein dingetjie moet
ʼn mamma hê. So is ek toe mos net so anderkant 30 en gretig om die wêreld beter
te maak, een charity case op ʼn slag, want ek kan mos.
Pleks
ek my net by boesmankinders en rondloperkatjies bepaal het, maar nee, toe moet
ek mos ʼn jammerte loop kry vir ʼn mansmens en dis hoe Hanna toe tot trou gekom
het.
Liefde?
Ag nee, ek was te oud vir liefde, maar nog dom genoeg om te glo dat as ek hard
genoeg probeer, ek elke stukkende ding op Gods aarde heel kan maak.
Ek
moes daai eerste dag wat hy deur my voordeur gekom het sout op sy spoor gegooi
het op pad uit. Maar ek het nie en net daar het die ding my gevang. Net daar
het jare se trane in my toekoms in kom rol, strome, riviere, amper soos daai
sewe oseane liedjie, net meer soos stormwater, maar dieper en donker soos dreinwater.
Dit
was sommer so ‘n vinnige storie. Ek dog nog dis trooswoordjies en boodskappies
van bemoediging om ʼn gekwelde siel weer op te help, toe’s dit 'I do's' voor die
kansel pleks van 'I don’t's'!
Dames,
daar’s ʼn rede hoekom die goed "afvlerkvoëls" genoem word. Want sy arm
is deur ʼn ander vrou met ʼn besem kranklik geslaan en sulke geweld word
gewoonlik veroorsaak ook deur ‘n voël of iets dergeliks! Sies ja! Bietjie
kras, maar let’s call a spade a spade vandag. Dis ʼn ding wat lankal by sy naam
genoem moes word en vir die onthalwe van ons nageslag sal ek dit nou maar
vandag op my bors vat.
Dogters,
kleindogters en agter-kleindogters, laat ek nou maar die waarste waar met julle
deel en luister mooi, want Die Groot Boek sê die waarheid sal julle vry maak.
Iewers met al die gelyke regte en ‘ek kan alles net so goed soos enige man
doen’ het ons vrouegeslag onsself in die polfy geskiet.
Ons
het onsself soos fênsie matjies oopgegooi voor die deure van lui lummels wat
versorg wil wees soos babas terwyl ons kaalvoet, swanger en ʼn snotneusie aan
die sy voor die stoof staan.
Nee,
hulle word nie skreeuend met vuil doeke voor ons deur afgelewer deur die
ooievaar nie. Hulle kom met ʼn skewe glimlag en nat oë in ons lewens in.
Begin altyd as ʼn heel onskuldige vriendskap of troos soek oor die lewe hom ʼn
oorveeg gegee het en ons moederlike natuur skop net daar viervoetig in. Die
onregverdigheid van die lewensstories roer ons mos maar, veral as jy self al
telkemaal die kortste end van die stok beetgekry het.
Ja
ek weet ek klink nou vreeslik ongevoelig, maar glo my, ek het gevoel. Ek het
eerstehands gevoel hoe pik so ‘n slang. Jy help mos, want jy moet, dis jou
plig, dis jou goeie daad vir die jaar. Pleks jy kry eerder ʼn stokperdjie soos
ander mense, maar nee, jy kry vir jou ʼn afvlerk voël.
Ek
het so geglo dat daar altyd uit goedhartigheid net goed kan kom, hoe dan
anders? Ons is mos mooi geleer in die Sondagskool van die barmhartige
Samaritaan. Almal moet gehelp word. Almal verdien ʼn tweede kans. Wag, daai was
die verlore seun, dink ek. Maar maak nie saak nie, ons is besig met goeie
werke, so dit maak mos nie saak nie?
Iewers
in my binneste het hy my geraak. Ek was nooit een vir love letters en
butterflies nie, ek was altyd op een of ander mission om my
onafhanklikheid te verklaar – uit te basuin aan die wêreld dat ek alles kan
aandurf en elke avontuur sou beleef, eerder as trou. Koskook en skottelgoed was
het my min gepla, veral omdat ek dit iewers in my kop gekry het dat dit vir dom
vroutjies was. Ek het so neergesien op die needy vroumens wat vas geglo het sy
moet ʼn boyfriend of ʼn man hê om deel te wees van die samelewing. Mos altyd gesê
ek het geen man nodig om my volwaardig vrou te laat voel nie en ek gaan ook nie
soos my ma wees nie. Ek gaan nie vir ʼn man wat gedurig lyk soos ʼn donderwolk,
koffie aandra nie, dreun en raas en donder terwyl sy rondskarrel om die vrede
te bewaar tussen haar kinders nie. Nee. Ek was slim. Ek was sterk. Nie ek nie.
O,
Here, hoe moes ek daardie woorde sluk. Hoe moes ek, grootbek, perfeksionis,
daai woorde sluk.
Die
lewe het ʼn manier om jou bek stil te maak. Tjoepstil.
Alles
was mos nie altyd net sleg nie. Daardie paar woorde het my male sonder tal weer
laat terug gaan met my trots in my sak. Min het ek besef ek was eintlik besig
om myself in ʼn swart sak te versmoor. Die Ek, wat alles kon doen en geglo het
geregtigheid is my skerpste wapen. Watter geregtigheid sit en dink ek nou? Die
lewe was vroeg in die huwelik lankal nie meer swart en wit nie, iewers het daar
ʼn groot stuk grys ingesluip.
Elke
keer wat jy stilbly en maak asof alles okay is, kom daar meer grys by. Elke
keer wat jy die lieg vir jouself wegpraat, raak die grys net meer...
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking