Saterdag 28 Julie 2018

DIE BLOEDMAAN EN ANDER STORIES

Ek sit en merk die merk van ‘n verbete onderwyser asseblief klaar wil kry en die res van die wêreld maak nie regtig saak nie. Dis nou totdat die whatsapps en die facebook-boodskappe begin inkom. Dit hou aan en aan en ek kan later nie meer my nuuskierigheid hou nie. “Kyk jy na die maan?” of “Het jy gesien?” Die foto’s begin inkom, die een na die ander. Ek sit die pen neer en stap buite toe.

Wat ek sien en ervaar kan ek nie beskryf nie. Die grootheid van die groot Skepper! Die onverbeterlike skoonheid van iets so totaal en al buite ons daaglikse ervaringsveld. Dit is ‘n prentjie wat jy nie gou weer gaan sien nie, sê die slim mense. Almal kyk en almal oe en aa!

In die donker duisternis sien ek dit – die rooiste, rooiste ‘ster’! Mars in al sy glorie! Almal sien die maan, maar niemand noem vir Mars nie, dink ek so by myselwers. Vreemd, ha? Dis asof onse Mars so ‘n ekstra bietjie rooier skitter en vra: “En nou wat dan nou van my?”

Opeens is almal oor die aarde aan die gons. Vriende wat lankal nie meer werklik gesels nie, stuur ‘n boodskap: “Kyk julle ook?” Die ou gebondenheid is skielik weer daar ... daar is nou iets om oor te gesels, is dit nie? Ek vra my mater in Burundi of hy ook kyk en ons verwonder ons dat ‘ons na dieselfde maan op dieselfde tyd kan kyk.’ So jammer daar is wolke by hulle, dus sien hy nie die astrante Mars raak nie.

So het elkeen sy eie weergawe van hoe hy die maansverduistering ervaar het ...

Iewers in die veld sit die drie geharde manne en gesels. Die dag was lank en die werk baie. Hulle moes die skape kyk en die lammertjies versorg ... en toe loop neuk die een ram mos van die berg af ook! Die vuurtjie is halfpad uitgebrand, want dis amper tyd vir kooi toe gaan. Abram sit met sy koffie en wil ‘n sluk vat. Hy vryf ‘n slag oor sy oë. “Hei, nee djong, wat issit da nou met my se ooge? Smaak my da ek sien nie so lekke nie, ha?” Die ander twee wil eers vir hom lag, maar toe sien hulle dit! Die maan is da anie wegraak, man! Skielik is dit ‘n geskarrel soos min – die koffie maak nie meer saak nie, want hiers groot moeilikheid! Jefta kry ‘n kombers beet, maar Sem het hom aan die ander punt beet. Dit ruk en pluk en spook, want sowaar weet, hiers groot moeilikyt vinaand. Een skop ‘n beker koffie by die vuur om en toe’s dit stikdonker om die lotjie. Uiteindelik het elkeen ‘n kombers oor die kop. Hier sil hille nou le en wag virrie maan om wee yt te ko.

Oupa Janneman en ant Malie gaan vroeg saans inkruip. Die bene en die koue willie lekker vrinne wesie, sien. Toe Janneman hier teen sesuur sy laaste koppietjie tee vra, murmureer ant Malie: “Jy weet baie goed wat gaan vannag weer gebeur, Jantjie. Ek gee nie om as jy opstaan en buitetoe loop nie, maar jy maak my elke keer ook wakker en dis vir my ‘n probleem!” Mor-mor maak sy in elk geval die koppie tee vir hom. (Haar ma het haar geleer sy moet nooit haar man enigiets weier nie, want wie sê hy word môre weer wakker? “Spyt is niemand se maat nie, my kind!” het Ma dan altyd bygelas.) Ou Jantjie verduur die gekerm, want hy weet sy Malie gooi sawens nog ‘n bietjie ekstra suiker ook by. En dis toe net soos Malie voorspel het! Hier iewers by agtuur se kant staan die ou sugtend en steunend op. Maar opeens is daar darem ‘n baie vreemde gevoelente om hom. Hy loop voel-voel buitetoe. “Malie! Kom kyk hier! Malieeeee!” skree hy dat tot die poue en die hoenders wakker word en saam skree. Die honde meen Janneman het hulle geroep en hulle kom al blaffend om die hoek. Malie storm uit en sien hoe staar ou Janneman boontoe. “Kom, kom, my man! Ons moet gaan bid, hierie is niks anders as die einde van die wêreld nie.” Mina kry hulle toe vanoggend nog net daar – voor die bed, op die knieë, maar altwee vas aan die slaap.

Denitia en Kallie kyk ook na die maan. Hy is vol stories, soos gewoonlik. “Ek weet hoekom lyk die maan so!” reken hy. “Dis Jesus se selfoonliggie daai. En die battery is pap oor hy nie gecharge is vandag nie!”

James is op pad van die kantien af. Soos gewoonlik is hy laat en hy weet, so waar as vet, vanaand slaan sy vrou hom morsdood. Nou vat hy die pad deur die begraafplaas, want dis ‘n bietjie korter. Hy is bang, jong! James was nog nooit ‘n ou vir die donker nie en as jy nou praat van begraafplaas EN donkerte, dan het jy ‘n lelike storie hier beet. Om nie so alleen toe voel nie, besluit hy om te sing. “Sjuike bosh ek wil jou hêêêê!” Hy spring eenkant toe toe hy sy eie stem hoor. “Hiert, amper het ek nou lekke geshkrik.” Hy lag half senuweeagtig en stap ‘n bietjie vinniger. “Da loop onsh sho onner deurie maaaaaan,” kom die stemmetjie effens temerig. Hy probeer kyk ‘n slag op na die maan toe, maar verloor sy balans en val oor ‘n klip. Hy kom regop en sing verder. “Oepsie! Ma da loop onsh sho onner deurie ...” hy bly verward staan. “Het onsh da nou jeel weg vannie maan af geloop?” Hy kom uiteindelik huil-huil by die huis aan, want hy het die maan verloor en waar gaan hy en shy liefie dan nou loop?


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...