Donderdag 11 September 2025

“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"

 


“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by  my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom dit uit die kombuis uit.

Ons gaan foefie slide ry! Ek is eintlik uitasem van opgewondenheid, want ek ken dit glad nie. Asseblief, dit wat jy nou in jou kop het, is glad nie die ware Jakob nie. Dis nie daai van die Blyde rivier of Graskop nie. Ons is in die middel van die Namib Woestyn en foefie slide moet nog gebou word.

So is die sewe van ons daar weg om te gaan foefie slide. Op die bak van die Landy is ‘n rol bloudraad, ‘n tang, ‘n ysterpypie en eet- en drinkgoed. Die twee groter seuns sal die foefie slide bou en dan gaan ons feeste hê!

Toe dit tyd raak vir boomklim, sien ek nie kans nie. Ek was nog altyd bang vir hoogtes en ek weier om in die boom te klim. Maar tóg begeer ek om my hande om daardie ysterpyp te sit en af te gly tot doer by die volgende boom waar die draad geanker is. Ek verkyk my aan hoe maklik dit lyk: klim tot by die mik, vat die pyp vas, leun vorentoe en gly tot onder. Dit lyk nogal lekker, hoor.

Toe die res my dus aanpor, staan ek traag op en gaan staan onder die boom. My ouer suster klim voor my op tot by die mik waarop ons moet staan voor ons afgly. Sy roep en belowe sy sal daar staan tot ek by haar is.

Ek klim tak vir tak. Stadig. Sonder om grond toe te kyk. Ek weet as ek kyk, sal ek nie verder wil klim nie.

Uiteindelik staan ek langs haar. Ek het albei my hande om die pyp. “Toe, gaan nou!” por sy my aan. Ek haal diep asem ... ek weet dis nou of nooit. Die ander staan onder en kyk hoe ek vandag die hoogtes gaan uitdaag.

“Los net, dan gly jy,” hoor ek weer.

Ek (dom kind!) gee ‘n sprongetjie die lug in. Kap my kop teen ‘n tak bo my. Die geweld laat my my greep op die pypie verloor. Ek slet direk onder die boom op die grond neer. Ek sien die peule van die boom en die skaapmis hier en daar ... en kry my asem mettertyd terug.

Gaan ek ooit weer foefie slide? Ek dink nie so nie, my maat, ek dink nie so nie.

Het jy al foefie slide gery? Vertel vir ons, toe?


Dis lente en jy weet dit nie!

 

“Ek troetel hulle dan dood, man!”

Ek wil so graag so tussen die groen oorvloedigheid hier op my stoep sit en die vrede deur my binneste voel waai. Ek probeer regtig hard, maar nee!  Ek gesels met hulle, ek gee hulle al die liefde in my hart, ek gee water, voeding, wat als ... maar die uiteinde is altyd dieselfde – ‘n dooie verlatenheid in ‘n pot dooie sand.

Geliefde sal gou genoeg intree vir plant se kind: Kom ons gee hom nog ‘n kans, toe? Dan druk hy tak se kind in die water en wag en wag en wag ...

Dalk is dit my ongeduldigheid? Dalk nie?

En toe gebeur dit half so per ongeluk! Iemand struikel oor een van hierdie dofgroen geliefdes van my en die stomme plant breek tot in die rou lewe af. Ek wil huil! Hoe lank piep ek hom al op, en nou dit?

Maar! Wat sien ek ‘n dag of twee later? Die mooiste, groenste uitloopseltjies daar aan my half-oorgeblyde geliefde. Die blaartjies is so klein, jy moet amper raai of jy regtig daar ‘n groenigheidjie sien. Net daar word ‘n nuwe geliefde reg voor my oë gebore!

‘n Ander een is so van die pes, dis net dooie blare en takke. Toe ek dit op ‘n dag nie kan hou nie, begin ek takke afbreek en op ‘n hoop gooi. En? Doer onder teen die stam is weereens daardie kosbare lewetjie wat besig is om uit te loop.

Ek besef opeens – dis lente, Martha! Die plante weet dit, net jy moet dit nog sien en voel en beleef. Die nuwe lewe is besig om uit te loop en te begin groei. Hulle móét gestroop word van dit wat oud was sodat die nuwe lewe kan uitstoot van onder af. En net daar word elke geliefde op die werf so ‘n bietjie (eintlik báie) gesnoei.

My lyf dra ook die tekens van die winterseisoen: ’n rugwerwel wat eens gebreek het, ’n ruggraat wat skeef en pynlik draai, en herinneringe wat soos ryp op takke bly rus. Ek staan nie lank nie, loop stadig, en slaap in my stoel.

Dan kom die gedagtes soos spinnerakke en pes in die nag. Dit neem oor, maak dood, versmoor, verlep alles in die omtrek, vervuil en besoedel tot waar jy die einde nie kan sien nie. Gedagtes. Drome. Gedagtes en drome wat werklikheid word of voel. Ellendig, man! Ellendig!

en

ek

besef:

Maak skoon.

Maak dood.

Sny af.

Sleep weg.

Alles! Alles wat na winter lyk en ruik, moet uit buitentoe. Dit hoort nie in my kop nie. Dit hoort nie in my lyf nie.

Nou kan ek so tussen die groen oorvloedigheid hier op my stoep sit en die vrede deur my binneste voel waai. Want, jy sien, dis lente – ook in my hart.

Ek haal ‘n anonieme skrywer aan:

’n Enkel bossie staan stil in die sagte asem van oggend, sy bruin takke gestik met groen hoop. Voëls styg soos verdwaalde gedagtes in ’n lug wat met goud gewas is. Geen blom nie, geen trompetgeskal—net die stille belofte van word. Lente skree nie; sy fluister in spruite en vlerke, in lig wat bly hang, in grond wat onthou hoe om weer te begin. Elke blaartjie is ’n gedig, elke skadu ’n herinnering. Die wêreld draai stadig, soos ’n ou wals, en die natuur antwoord met geduld. Hier, in die stilte tussen seisoene, leer ons om te wag, om te glo, om te sien hoe die lewe weer kleur kry sonder om te vra.

Stadig, Martha, stadig!

 

Ag, ek het nou so lekker gelag en ek moet dit net eenvoudig met julle deel!

Na ‘n baie lang gesukkel spoor ons ‘n part vir ons motor in Windhoek op. Ek en my liefie praat nog van koerier en wat als, toe hoor ons maar nee, die part kom sommer vanaand saam met ‘n bussie Walvisbaai toe. Is dit nou goeie diens? Voorwaar, ja!

Die verkoopsman gee vir my die nommer van die bussie se bestuurder en ons is baie, baie in ons noppies met die verloop van sake.

Op ‘n stadium lui my foon, maar dis nie die nommer wat ek gekry het nie. Ek antwoord nogtans en dit is die bestuurder van die bussie. “I am in Okahandja.”

Ek wil nog gesels en mooi verduidelik van hoe hy nou iewers by ‘n vulstasie vir ons moet wag, maar die ou het nie lus vir my nie ...

Bid jou aan! Hy sê nie eers koebaai of iets nie. Die foon is sommer net dood.

Ek en my liefde wonder netnou waar die bussie nou is. Dit raak nou laterig en volgens ons somme moes hy al hier in Walvisbaai gewees het. Jy moet weet, daardie part wat hy bring het vir ons ‘n klompie sente uit die sak gejaag ... mos!

Ek bel. Die ou antwoord redelik bot. “I am in Swakopmund.”

Ek probeer om te vra hy moet tog asseblief by ‘n vulstasie stop sodat my man dit maklik kan kry.

Maar hoor hier! Kry ek sommer gou-gou op my bek! “Mem, I did not call you. I will call you when I come to Walvis Bay.”

Weer ‘n keer nie koebaai nie.

Ek sit die foon op die tafel neer en leun terug op my stoel. Ek en my man kyk vir mekaar en bars uit van die lag.

Dis oor hierdie soort van ding dat een van my kinders ook al op ‘n dag gesê het Ma moet net ophou organiseer, asseblief!

Het jy ook al so op jou bek gekry? Vertel my ‘seblief daarvan, dan lag ons saam daaroor.

TJANK JY OOK MAKLIK?


 Ken jy iemand wat maklik huil? Ek praat nie van huil omdat sy seer het of ‘n siekte het of iemand verloor het nie. Ek praat ook nie van wanneer daar die een of ander drama in die familie is nie. Nee, ek praat van sommer net huil – huil as iets baie mooi is, huil as iemand iets goed gedoen het, huil omdat iemand ander seer het, huil omdat hulle bang is, huil omdat hulle eensaam voel, of ... of ... of... Nee, hulle huil omdat huil huil is. Dis nou ek daai!

Nou kyk, ek kan jou baie stories vertel van my huilery. Van kleins af was dit vir my ma ‘n bron van groot ergernis. Die kind wat ewig vir niks nie aan die grens gaan! Baie male, nee, honderde male in my lewe moes ek hoor: “As jy iets wil hè om oor te grens, sal ek vir jou dit gee!” en daardie tyd brand die hand op my boud. Maar kyk hier, dán tjank ek riviere vol.

Natuurlik loop die trane nóg lekkerder die kere wanneer jy Martie Martelgat speel. Nou kyk, as jy jammer is vir jouself, stroom dit mos riviere vol oor die wange en hoe meer jy dit wil keer, hoe meer stroom die trane. En moenie dat iemand jou probeer troos nie, hoor. O aardetjie tog, dan moet jy kom staan en kyk hoe huil hierdie vrou vir haar blou in die gesig. By ons gebedsgroepie jare gelede het hulle gesê my trane loop mos nie soos ander mense s’n nie. Die een oomblik is als nog okei, en die volgende oomblik spuit dit behoorlik so vorentoe by my oë uit.

Nou kan jy my vra nou waaroor het ek so baie gehuil? Dis moeilik, maar ek sal jou probeer so hier en daar vertel.

Ag, jy weet mos: As iemand onverwags vir jou ‘n mooi geskenkie gee – jy ken tog daardie gevoel in jou hart by so ‘n onverwagse betoning van liefde, nie waar nie? Dan spat die trane myle ver, my ding, myle ver.

Of as jy iemand sien wat jy jare laas gesien het en baie gemis het. Of wanneer jy verjaar en almal wens geluk. Of mos op jou kind se troue! Of jy sien iemand met baie pyn. Of jy hoor hoe jou dierbaarste vriendin se man haar verneuk. Of ‘n ma wat haar baba in die asdrom gegooi het. Ag, noem op, ek sal tjank.

Die dag toe ek my finale onderwys-uitslae op die kennisgewingbord gaan kyk het, was so ‘n dag. My ouers het ‘n paar treë verder vir my by hulle motor staan en wag. Dit was ‘n deurmekaar gewoel soos almal gaan kyk het en dan natuurlik na hulle dierbares toe gestorm het. En ek? Ag hemeltjie tog! Ek kom soos ‘n kranke aangestap en ek tjank die bloed uit my lyf uit. Suster, ek huil nie, ek ween! Almal stuur my aan, maar ek traak nie, ek tjank! Een van die studente naby my ma het die moed gehad om dit uit te spreek wat almal aangeneem het: Sy het haar innige jammerte teenoor my ma uitgespreek dat ek dan gedruip het. My ma wat mos die storie van my geboortedag af ken, het gelag en haar verseker ek het nie gedruip nie, alles is in die haak.

En moet tog nie dat my kinders vir my kom kuier nie. Kyk, ek tjank al vandat ek hoor hulle wil kom kuier oor die feit dat as hulle klaar gekuier het, hulle weer vir lank weg moet ry. Ha? Is dit normaal? Vir my is dit deel van die lewe, jong.

‘n Dag wat ek gedink het ek hou nooit weer op met huil nie, was toe ons agter ‘n motor gery het en toe slaan dit hier reg voor ons om. Twee mans – die een ernstig beseer en die ander een is op die toneel oorlede met my pa by hom. Die twee was uit Suid-Afrika op pad en sou die volgende dag hulle vrouens in Windhoek op die lughawe gekry het. Kan jy jou die hartseer van daardie vrou indink? Ek kan nou nog nie daaraan dink sonder om emosioneel te voel nie.

En toe, op ‘n dag, gebeur daar ‘n wonderlike ding! My ma kuier by my en sy sit en kyk tv terwyl ek in die kombuis besig is. Sy kom staan opeens by my en vra ek moet haar in haar oë kyk.

“My kind, vergewe my vir elke keer dat ek met jou geraas het as jy huil. Vandag sê ek vir jou: Jy kan maar huil! Huil maar, my kind, Ma verstaan nou.”

Ek moes wag tot later om die skielike omwenteling te kan verstaan. Sy het ‘n na ‘n program gekyk oor mense wat baie empatie met ander gekyk. Iemand merk toe terloops op dat hierdie mense mos vreeslik maklik huil. Hulle voel die seer/leed/pyn/blydskap van ander aan en kan nie anders as om te deel daarin nie.

As jy nog die hele tyd lees, is jy dalk soos ek of jy ken iemand soos ek. Nou! Daar is ‘n klein stukkie raad vir ons, dis nou vir wat dit werd mag wees.

1.    Gee jouself toestemming om te voel. Jy hoef nie die trane weg te dwing nie. Jou empatie is deel van jou DNA – dit is wie jy is.

2.    Bou ‘n ‘emosionele filter’. Jy kan regtig nie die hele wêreld se ellende op jou skouers dra nie. Vra vir wysheid hoe om liefde te gee sonder om die swaar te help dra.

3.    Maak tyd vir stil word en heel word. Empatiese mense raak maklik oorweldig deur groot groepe mense en baie geraas. Kom eenkant. Raak stil. Raak sterk!

4.    Kry ‘n uitlaatklep. Skryf dit uit jou hart uit. Skilder. Sing. Doen wat jou laat ontspan en wat jou aan niks anders kan laat dink nie.

Op die foto wat ek aangeheg het, was ek weereens aan die tjank oor hoeveel keer ek nog so by my moeder sou kon lê. En sulke tyd het die ou handjie, sonder dat ons gepraat het, net so getik-tik-tik hier langs my kop.

“Kom nou, Ma se kind, kom nou,” is al wat sy dan sê.

Maandag 07 Julie 2025

EK IS 'N MANGOBOOM

 


Ons het drie mangobome in ons erf – al drie nou in die pronk! Hulle lyk vir my kompleet soos ‘n  vierjarige dogtertjie wat ‘trou-trou’ speel. Jy weet mos hoe hulle maak, ha? Alles wat lap of valletjie of blink is, moet om die nek en oor die kop en sommer om die lyf ook gedrapeer word. Vir hulself lyk hulle al te pragtig, maar ai! Jy ander moet maar die lag inhou en ewe sedig beaam “Jy lyk pragtig, Ma se kind. Ja, Ma sien jy gaan trou.”

Die bome hier by ons (seker maar by almal?) is so vol blomme dat dit ‘n aardigheid is. Dis nou hoekom ek toe vanoggend so by myself wonder of die stomme boom ooit dink dat sy soveel vrugte gaan dra as wat daar blommetjies is. Regtig? Ai, boom, hoe dink jy wil jy dit oorleef met soveel milddadigheid aan jou lyf?

Ek dink en ek wonder oor hierdie mangobome. Hoekom, vra my hart, moet die boom soveel duisende blommetjies dra as daar uiteindelik net ‘n paar mango’s is wat ons kan pluk? Wat word van al die blommetjies? Ek meen nou net, die natuur is nie so dom om te wil dink dat daar soveel mango’s moet wees nie. Ek is baie seker daar moet ‘n doel agter dit alles wees, daarom begin ek soek na antwoorde ... en kry dit toe ook.

Dis toe wat ek onse vriend Google gaan raadpleeg. Nee, reken hy, al daardie blommetjies is glad nie met die doel om soveel vrugte te dra nie. Nee, daardie 2 000 tot 4 000 blommetjies is bloot om die moontlikheid van bevrugting te vergroot. Met ander woorde, die boom is toe veel slimmer as wat ek gedink het.

Sy laat niks aan die toeval oor nie, hoor. Sy maak vrek seker dat daar iewers genoeg bye, motte, miere, of wat ookal sal wees om darem ‘n goeie aantal blommetjies te kan bevrug. En so gaan die storie voort tot Boom uiteindelik die lekkerste, soetste, mooiste vrugte dra. Maar ja, dit is nie ‘n tiende van die aantal blommetjies waarmee sy haarself oorspronklik getooi het nie.

En net daar gaan my kop weer aan die loop. Smaak my mos nou al ek en die mangoboom is eie susters! Regtig, hoor. Ek dink my derde of vierde naam is iets wat met ‘n mango te doen het. Sowaar soos vet, hoor!

Die enigste verskil tussen my en Boom is dat dit my ‘n hele leeftyd gevat het om te bereik wat Boom jaarliks bereik. Maar kla sal ek nie kla nie, ek is knus-tevrede met my tooisel vrugte, dankie.

Ek sou graag vir jou wou opnoem wat alles aan my boom gepryk het so met die jare, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Maar nee, ek wil nie vir jou ‘n les oor mangobome gee nie, hoor. Los dit maar vir die mense wat daardie dinge doen vir hulle daaglikse brood. Al wat ek weet, is dat daardie duisende blommetjies daar moet wees – die meeste is mannetjies sodat die wyfies bestuif kan word. Die mannetjies val dus uiteindelik af en baie van die wyfies gaan dieselfde pad grond toe. Net die sterk en mooi vrugte bly uiteindelik vir jou en vir my om te eet dat die sous tot by die elmboë loop.

Maar toe sien ek myself mos in hierdie boom. Ja, ‘n mens soek mos maar na redes vir dinge wat gebeur so langs die pad. Jy ken mos daardie vrae wat elke skoolkind vra: Hoekom moet ek leer van dit of van dat? Hoekom moet ek dit leer? Waar in my hele lewe gaan ek dit ooit weer gebruik?

Dan gaan jy verder en begin jou volwasse lewe met ‘n hele vrag ‘klein vruggies’ op jou rug: Ek hou van dit ... Ek hou van dat ... Hier doen ek iets ... Daar ontdek ek iets anders ... So is jy mos dan later ‘n Jack of all trades, master of none. Is dit vermorste tye? Nooit nie, my lam! Nooit nie.

Dink nou maar terug wat jy al alles gedoen het en toe maar gelos het omdat daar iewers in die dorp iemand is wat dit beter/mooier/lekkerder as jy kan maak. Ja? Ek weet ek het ‘n hele lys van sulke blommetjies wat toe uiteindelik op die grond beland het en wat die tuinman Saterdag nadergehark het en weggegooi het.

Maar, dank die Heer, daar was blommetjies wat geklou het in wind en weer. Blommetjies wat nie een gedink het daaraan om maar te los en grond toe te dobber nie.

En vandag?

Vandag pluk ek en jy die vrugte van harde werk en deursettingsvermoë. Ons kan terug sit en weet: Dit was goed om dit of dat te kon doen, maar dit was veel beter om te probeer, te misluk en weer te probeer totdat die dag uiteindelik aangebreek het wat jy kon prewel: Eureka! Ek het dit gedoen! 

Vrydag 27 Junie 2025

DIE TROU-MOVIE


Ek weet nie waarom ek julle nie laaaaankal hierdie lekker storie vertel het nie. Ek moet net verskoning maak dat ek ongelukkig nie eens een ou foto’tjie daarvan het nie! Maar toemaar, ek sal probeer vertel dat jy die prentjie kan sien. Dis ‘n lang storie – jy moenie moeg word en halfpad ophou lees nie, hoor!

Jy sien, dit was nie baie lank voordat my ouers van Hentiesbaai af Windhoek toe getrek het nie. My pa het kanker gehad en hulle moes naby die dokters kom. Ons kinders het almal daar vir die vakansie gekuier. Dis nou Lida en Gerhard en Karien; ek, Wolfgang, Riana, Wolfie en Maryke en Belia en Johannes met Enéz en Marike. Ons is so baie dat party in ‘n familielid se huis moet slaap.

Kan jy jou indink hoe gaan dit met so ‘n lotjie as hulle begin gesels en grappe maak? My arme ma en pa wat aan stilte gewoond was het seker soms gevoel om te vlug.

So word daar toe besluit dat daar darem ‘n ou ietsie moet gebeur op die dag wat Oupa en Ouma 50 jaar getroud is. En ons ou lotjie ken van konsert hou, hoor! Ons is nie bang mense nie ... ook nie skaam mense nie.

Lida kom toe met die idee dat ons ‘n movie moet maak. Nie ‘n regte movie nie, maar die konsert sal in die vorm van ‘n movie wat geskiet word, verloop. Dit sal handel oor ‘n troue wat nie lekker wou uitwerk nie.

Kom ek gee jou die rolverdeling sodat jy lekker kan verstaan en volg wat ek vertel.

Lida, die oudste, maar die fynste van ons lotjie, is getroud met Gerhard, oftewel Broer. Hy is die grootste en langste man in ons familie.

Ek en Wolf; en Johannes en Belia is ... wel ... so iewers tussen-in gebou. Maar dit speel nie regtig ‘n rol nie.

Jare gelede, toe ek nog in die laerskool was, het die gemeente daar in Maltahöhe ‘n wonderlike orreliste gehad – tannie Grietjie Loubser. Belia wou van baie klein af baie graag klavier speel en wanneer sy by ‘n gladde oppervlak gekom het, was die handjies altyd besig om ‘klavier te speel’ en het sy vir ons gesê: “Ek is Grietjie Loubser.”

Rolverdeling:

Regisseur: Lida

Dominee: Riana (ek onthou sy het so ‘n lekker weglêkuif gehad.)

Bruid: Gerhard (die grootste persoon in die hele familie)

Bruid se vader: Wolfgang

Bruid se moeder: Belia

Bruidegom: Johannes, wat meer as ‘n kop korter as die bruid is!

Fotograaf: Karien

Grietjie Loubser: Ek

KleinWolf en Pieter: Hofknapies

Maryke, Enéz en Marike: Blommemeisies

Almal is so na as moontlik aangetrek om by hulle rol te pas. Die bruid is ‘n treffer. Sy het ‘n tee-net oor die kop en ‘n bossie verlepte gras in haar hande. Sy lyk te lieflik! Die moeder van die bruid moet ook gemeld word. Sy is tog te statig opgetof, tot met die outydse handsak so oor die arm.

En natuurlik was my ouers dan nou die enigste twee gaste in die gehoor! En, wel, bygesê, gaste wat nie eens vir die konsert betaal het nie!

Storielyn van die movie:

‘n Doodeenvoudige troue.

Oupa en Ouma sit gereed. Die regisseur staan astrant regop en wag vir die “regte” oomblik. Die fotograaf hang lui teen die muur.

“And ... action!” bulder die regisseur.

Grietjie Loubser is nie vandag baie lus om te speel nie. Die orrel begin sag en traag. Die bruid kom aan die arm van haar vader ingestap, met haar moeder aan haar regterkant. Net agter hulle volg die res van die groep.

Niemand van hulle is lus vir trou vandag nie. Daar is geen glimlag, geen emosie, g’n niks op hulle gesigte te lees nie.

Die orrel raak stil en die dominee begin in ‘n verveelde stem wat erg brei: “Liewe familie en vggriende ...”

Die regisseur bulder dit uit: “Cut!”

Almal ruk tot stilstand en dalk lyk hulle nou ‘n klein bietjie wakkerder ook sommer nog.

“Mense,” gaan die regisseur voort, “hierdie is ‘n troue! ‘n Mens het emosies wat jy wys. Jou gesig kan nie lyk soos ‘n standbeeld nie, ha? Kom asseblief net ‘n bietjie by, toe?”

Hy kyk stip na die moeder van die bruid. “Jy, Mevrou, is jy nie ‘n bietjie hartseer omdat jou jongste dogter vandag in die huwelik tree nie? A-nee-a! Wys dit vir ons, man!”

Almal draai om en verdwyn by die deur uit.

Die stel is gereed. Die kameraman staan sowaar en ... wat maak hy daar? Hy blaas sy neus en vee trane uit sy oë. Grietjie Loubser lyk ook nie te goed nie. Haar gesig is vertrek van smart. ‘n Mens sou kon wonder wat het dan nou skielik met hulle twee gebeur.

“And ... ACTION!” bulder die regisseur met ‘n traan in die oog.

Die orrel begin speel, maar dit klink liewer soos iets wat die Briels sou sing as die troumars – iets soos “Een aand op die trein na Pretoria”. Die trane drup op die orrel! Toe sy die bruidspaar sien, moet Grietjie alle wilskrag beskikbaar inspan om nie bo-oor die orrel op haar arms te gaan lê en huil nie.

Die bruid verskyn by die deur met haar ouers weerskante van haar. Dit is ‘n smartlike gesig! Almal huil so dat hulle nie voor hulle kan sien nie. Die orrel se laaste temerige klanke raak stil. Die moeder van die bruid is in so ‘n toestand dat sy  flou op die grond neerslaan.

Dit is toe op daardie oomblik dat die bruid, Gerhard, vergeet waar hy is. Toe sy moeder grond toe gaan hier langs hom, skree hy bokant die geklank van uiterste hartseer: “My suster, waar gaan jy heen?”

Sy skree dit uit van die lag: “Ek is mos jou ma, nie jou suster nie, my dierbare mooiste bruid van ‘n kind.”

Sy staan verwese van die grond af op, vee ‘n slag oor haar gesig en probeer die snikke  (of was dit nog die lagbui?) onderdruk.

Hulle gaan staan voor die dominee. Hý staan met die sakdoek voor die gesig en kan nie die bruidspaar in die oë kyk nie. Die smart is net eenvoudig te veel om te verduur.

Hy snik ‘n slag of twee voordat hy die sakdoek versigtig opvou en in sy broeksak druk. Hy sug kliphard en dan begin hy: : “Liewe familie en vggriende ...”

Die regisseur bulder dit uit: “Cut!”

Almal gaap hom oopmond aan. Die trane en smart is vergete! Wat is dan nou verkeerd? Is dit nie wat hy gesê het hulle moet doen nie? Elkeen het sy bes gedoen en gekyk/geluister of hy beter as die een naaste aan hom kan huil.

Die regisseur is so opgepluk, hy klim sommer op die tafel om die lotjie behoorlik in die oë te kan kyk. Hande op die heupe staan en betrag hy hulle ... elkeen kry sy beurt om stip in die oë gekyk te word.

“Wat op aarde was dit hierdie? Was daar ‘n begrafnis waarvan ek nie weet nie? Wie is oorlede? As ek so kyk, is julle almal nog hier. Liewe aardetjie, mense! So ‘n drama het ek nog nooit beleef nie. Nou kyk, ek gee julle nog een kans, dan kry ek ‘n ander spannetjie om hierdie eenvoudige video mee te maak.”

Die trougroep staar mekaar verwese aan. Kan die man nie asseblief maar sy “mind” opmaak nie? Hy het dan gevrá hulle moet huil ...!

“’n Huwelik is ‘n vrolike geleentheid. Mense is bly om saam te wees en fees te vier. Mense wil hê die bruidspaar moet hierdie dag vir altyd en altyd onthou as die gelukkigste dag in hulle lewens ...”

Hy sug dramaties. “Gaan nou en begin voor. Onthou, julle het nog net hierdie een kans om reg te maak wat julle verbrou het.”

Almal draai sleepvoet om en verdwyn by die deur uit. Die regisseur vee ‘n slag sweet af en hy en die kameraman kyk mekaar aan. Hulle wonder of hierdie spulletjie dit ooit sal kan regkry om die movie gemaak te kry.

“En action!” kom dit weer hard en beslis.

Grietjie Loubser trek weg met die troumars. Maar opeens klink die troumars meer soos ‘n masurka of ‘n polka. Sy trap daardie pedale van die orrel dat sy haar sit moet ken om nie van die stoel af te val nie. Die dominee staan en skater dit uit van die lag.

En opeens is daar chaos! Die bruidsgroep kom binne met ‘n gejubel en ‘n huppel in die stap. Dit skree soos dit lag en hulself geniet. Die blommemeisies en hofknapies trippel rond van plesier. Die bruid se ma se maag is so seer van die lag, sy moet eers ‘n slag stop en haar maag vashou. Die trane rol soos hulle hierdie troue geniet.

En Oupa en Ouma, vra jy my? Jy kan hulle lag bó almal s’n hoor. As jy gedink het hulle het gelag toe die ou lot so geween het, moet jy hulle nou kom hoor.

Die dominee probeer so deur die lagbui sy ding doen: “Liewe familie en vggriende ...” maar niemand hoor hom nie.

Ag, maar wat ‘n jammerte vir die goor ou regisseur. Hy bulder dit bo alles en almal uit: “Cut!” Hy gooi sy hande in die lug en wys vir die kameraman hulle moet liewer maar loop, dit gaan nie werk nie.

Oupa en Ouma is óp van die lag. Oupa vra vir Ouma: “Kry ‘n mens dan nie ‘n ou koffietjie in hierdie huis nie?”

 

 

 

Maandag 09 Junie 2025

RAGAB DIE HOER


 RAGAB DIE HOER KRY GENADE (Joshua 6)

Eers is daar niks nie. Niks anders as die stilte nie. So stil dat jy elke asemteug in die nagdonker kamer hoor. Die rooi tou hang by die enigste venster uit na buite, maar Ragab het ‘n dik mat voor die venster gehang.

Hier en daar verskuif iemand ‘n voet krapperig op die vloer. Iewers probeer iemand so sag as moontlik keel skoonmaaak, maar dit werk nie. Elke geluid klink of dit uittrompetter tot in die heelal.

Toe – van buite af, deur die dik mure van Jerigo – kom daar weer die eentonige gekerm van ramshorings. Oehoe-oehoeeeee! Dit klink of die wind deur die aardkors hyg – harder, sagter, harder, sagter, soos dit deur die ligte oggendwindjie aangedra word.

Dit is net die ramshorings en die duisende voetstappe. Verder niks. Geen stemme wat opdragte skree nie, geen dreunsang van die priesters nie, geen klein geselsies en giggeltjies van kinders nie. Niks nie. Net die ramshorings en die duisende voetstappe.

Hulle ken dit by hierdie tyd al. Die vorige ses dae was dit ook so. In die oggendstilte kon jy die voetval die duisendes van ver af hoor aankom. Harder en harder. Doelbewus. Met ‘n plan! Totdat hulle een maal rondom die stad was. Dan weer sagter en sagter totdat alles doodstil was.

Hulle het dit al ses dae lank gehoor, maar vandag is anders. Vandag hou dit nie op ná die eerste keer nie.

In plaas van dat dit sagter raak en wegraak, kom die stamp-stamp, stamp-stamp van die krygers se voetstappe weereens verby. Dan die ramshorings en daarna die sagter voetstappe van die duisende Israeliete.

Dit is soos die golwe van die see wat groei en daal, groei en daal. Vir sewe maal hou dit aan. Hier en daar sal jy ‘n priester ‘n opdrag hoor skree of ‘n kind hoor huil, maar die krygers is doodstil in hulle verbymars – doodstil en vasberade.

Stamp-stamp, stamp-stamp ... Sewe maal!

In die donker kamer bereik die spanning breekpunt. Die vrees is voelbaar. ‘n Kind begin huil, maar die ma druk verskrik haar hand oor die kind se mond en fluister saggies in haar oor.

Elke asemteug is ‘n vreesbevange ruk-ruk in die bors. Kinders klou hulle ma’s vas en die mans op hulle beurt probeer sy gesin met sy arms toemaak. Wat is aan die gang? Wat gaan van hulle word?

En dan ... ‘n skielike stilte.

‘n Groot, swaar stilte. So asof die aarde haar asem ophou vir wat nou gaan volg. ’n stilte wat alles verswelg. ’n Stilte wat sag klop in die ore, soos voor ‘n donderstorm.
Alles wag.

In die kamer weet hulle dat iets nou gaan gebeur, maar wat?

‘n Magtige stem bulder die opdrag: “Skreeu! want die Here gee die stad aan julle oor.”

’n Geskreeu bars los. ’n Enorme gedreun van stemme, duisende wat gelyk roep ... skree ... jubel. Dit is soos ’n golf van geraas wat teen die stad se mure op spoel. ‘n Tsunami van klank wat die hemele gaan oopskeur.

Ragab ruk regop. Dit voel vir ‘n oomblik of hulle vloer skud en bewe. Sy vra saggies genade van die God van wie sy nog net vaagweg gehoor het.

En dan kom dit:

Dit kraak en knal van klip en klei wat verkrummel. Die grond onder hulle voete skud verwoestend. Die geraas van mure wat val en vergruis neerstort. Die gegrom van torings wat tuimel en stof wat in golwe deur die strate trek. Mense se gille wat meng met die chaos.

Hulle klou mekaar vas. Angssweet tap van die gesigte. Niemand is nou meer seker of hulle lewend uit hierdie verskriklikheid gaan kom nie.

Hulle hoor dit oral om hulle. Die verkrummel van messelwerk, die gekreun van antieke balke wat buig en breek, die oorverdowende val van hoë torings ... 'n Nuwe geluid: 'n paniekbevange gekletter, soos perde of waens wat omval. Die skerp, kort skreeu-huil van iemand wat val.

Maar hulle is in hulle kamer – hulle voel die skud en bewe van die aarde, maar die kamer bly staan. Die stof kom van oral af op hulle neer, maar hulle is veilig.

Die vrees is ruikbaar in die stilte van die kamer.

Buite skreeu dit en dreun dit van almal wat hardloop, almal wat doodmaak. Maar binne is dit stil. Die asemhalings is vinnig en vlak. Arms is gespanne om mekaar gespan.

En dan, net so skielik, is alles weer doodstil. Dit is net die geluid van die wind deur die ruïnes van die eens magtige Jerigo. Geen skree meer nie. Geen ramshoring meer nie.

Dit is net die wêreld wat geheel en al verander het.

Voetstappe oor rommel en stene ...

Nader en nader.

Hulle hardloop nie. Hulle stap doelbewus op pad iewers heen, dit kan jy hoor.

‘n Bekende stem sê: “Ragab, maak oop, ons is hier.”

 

“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"

  “Nou sê ek vandag vir julle, moenie by   my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom ...