Nee, kyk, nou is dit
tyd dat ek ‘n slag uitkom met die waarheid. My kop is so vol los drade en
gedagtes ... gedagtes wat net meer en meer word en oral kleintjies kry.
Is jy ook soos ek? Dis
nou veral deesdae wat die jare op die gesig en die lyf begin wys. Ek borsel my
tande soggens en sien myself in die spieël. Die een dag kan ek nogal vir myself
glimlag en opmerk dat ons darem nog nie só verweer lyk nie. Maar net die
volgende dag! O genadetjie tog!
Maar kom ons los nou
maar daardie gedeelte uit. Dit is glad nie my bedoeling of begeerte dat ons op
mekaar se skouers ween oor die verganklikheid van die lewe nie. Daarvoor is
daar nog altyd genoeg tyd, reken ek.
Die spreekwoord lui dat
jou keuses jou toekoms bepaal. Of dan, overgesetsynde, dit bepaal die gang van
jou lewe ... wie en wat jy is en gaan word.
Net nou die anderdag
lees ek dat elkeen van ons geskape is met ‘n spesifieke doel. Jy is gebore met ‘n
gawe wat jy moet uitleef. En, reken die persoon, as jy dit nie uitleef nie, sal
daardie ding jou haunt tot aan die einde van jou dae.
Sjoe!
Ek kyk terug: Laerskool.
Hoërskool. Kollege. Alles loop maar soos dit moet loop, sonder dat ek ooit
iewers hierdie groot dringende klop aan my hart gekry het dat ek sonder twyfel
dit of dat met my lewe moes maak. Trou. Begin ‘n gesin. Die lewe loop met ‘n
mens en niks buitengewoons word gebore nie.
Wat my laat wonder: Is
ek toe sonder so ‘n besondere gawe gebore of het ek dit bloot doodgeleef?
Maar hoe sê hulle nou
weer? ‘n Mens mis nie ‘n ding voordat jy dit nie meer het nie. En sowaar, dit
is nou een waarheid waaroor niemand kan redeneer nie. Ek het glad nie besef wat
ek het voordat dit nou besig is om soos sand deur my vingers te glip nie.
Ek begin voor:
WANNEER
GEHEUE BEGIN GLIP ...
My naam is Martha, en
tot nie te lank gelede nie was ek ’n ywerige blogger. Ek was altyd opgewonde wanneer
ek ‘n idee vir ‘n blog gekry het. Ek moes dit dadelik skryf en my gedagtes vaspen
voordat hulle kans het om te verdamp. Dit voel soos om by ‘n bekende vriendin
te sit en jy moet nou dadelik vir haar alles vertel.
Ek het vertel, geskryf,
gedeel – soos ’n mens maar doen as jy die lewe wil verstaan en onthou deur dit
op papier vas te lê.
Ek het my skrywery nie
as iets besonders beskou nie. Want jy sien, jy hardloop dalk marathons, die
ander een doen naaldwerk, en ek skryf ... geen verskil nie!
Twee jaar gelede het ek
en my man, Wolfgang, aan die kus kom woon. Net ons twee, onafhanklik en vry,
met die see wat in die verte sug soos 'n kalm ou vriendin. Ons dae en weke
bestaan uit klein goedjies: ek doen soms decoupage, kleur in, hekel 'n spul
onnodige nonsies goedjies (maar dis mos die geselskap wat tel), en ek probeer
deesdae stadigaan om weer te skryf. (Hierdie stukkie skryfwerk het my ongeveer
tien dae geneem, maar ek dink ons moet hom nou in die oopte daar op die muur
gaan plak vir almal om te lees.)
WANT
IETS HET GEBEUR ...
Twee kere ICU. Twee
kere sepsis. Twee keer deur die skerp rand van die lewe gesny en tog
teruggekeer. Dis nie iets wat mens net so agterlaat nie. En die nagevolge het
bly klou soos ‘n haak-en-steek-bos se dorings aan jou mooi rok: veral die
gevolge daarvan wat my my geheue en konsentrasie betref.
Ek begin dikwels iets
doen – soos om my medisyne te neem – en 'n paar minute later gaan ek terug,
hand op die pilhouer, en wonder: Het ek dit nou geneem, of dink ek ek het?
Dis nou nie eintlik ‘n grap nie, want ‘n mens wil mos nie jouself bedwelm met
te veel van ‘n ding nie. Ek stel die alarm, ek tel die pille uit, ek doen alles
moontlik om dit reg te kry, maar telkens is daar saans nog ‘n ekstra pil of
twee wat toe nooit gedrink is nie.
Dis snaaks en tragies
tegelyk.
Ek sukkel ook met die
klein goedjies: resepte is soos raaisels. Ek lees die instruksies, draai om om
die meel te kry, en moet dan drie keer teruggaan om seker te maak ek het reg
gelees. Gelukkig bak ek nie meer gereeld nie, anders weet ek nie hoeveel skade
sou ek myself al aangedoen het nie.
Dis daardie klein
sprongetjies van aandag wat my laat voel of ek in 'n ander ritme leef as die
res van die wêreld.
Lees is ook ’n stryd.
Ek sien die woorde, ek verstaan dit terwyl ek lees, en dan – tjoeps! – weg. Ek
sal soms drie keer dieselfde paragraaf lees en tog bly dit soos 'n stukkie seep
wat uit my hand glip. Ek het begin om hardop vir myself te lees – asof ek 'n
storie vir ’n kind voorlees, net met ek as luisteraar en verteller gelyk.
My rug is nie meer wat
dit was nie. Die kussinkies tussen my werwels daar onderlangs het lankal
gegroet. Ek kan nie meer lank staan of loop nie. Ek moet lê, dan staan, dan
weer sit ...
Maar hier’s die ding:
ek’s nog hier. En ek’s nog ek, al voel dit soms of die “ek” bietjie los in my
sit.
Ek het begin leer dat
dit nie noodwendig die groot goed is wat jou menswees uitmaak nie, maar die
klein aanhoudende gewoontetjies. ’n Gekleurde blommetjie op ’n gehekelde uil se
kop. ’n Mooi bak slaai. Die geur van ‘n ribbetjie op die vuur. Ek en Wolfgang
lag nog. Ons gesels nog. Ons geniet mekaar nog. Ons lewe nog!
Ons lewe is rustiger,
stadiger, meer bewus. Ek skryf nie meer lang blogposts nie – maar ek hou my
foon byderhand en daarop skryf ek gedagtes neer, een op ’n slag. Sommige is net
sinnetjies, ander is flenters van herinneringe. Dit hoef nie perfek te wees
nie. Dis myne.
Ek leer ook dat ek mág
verander. Ek mág vergeet. Maar ek is steeds Martha. Ek is steeds lief
vir woorde, vir mense, vir die see en vir my man. Ek is iemand wat geleef het, so
effens suffer, en steeds leef.
En dalk, een van die
dae, sal ek weer ’n storie skryf wat volledig is. Of dalk net een wat met
liefde gebreek is – soos ’n stukkie porselein met goud in die krake.
Ja oudword is nie vir sussies nie!!🤣🤣 Maar ons moet daarmee saam leef en, net soos die atleet wat die marathons hardloop, moet ons in "oefening" bly, anders raak dit al hoe moeiliker. Sterkte! Sal graag weer 'n kort storie wil sien!💖💖
AntwoordVee uitEn ons bly lief vir julle 😘😘
AntwoordVee uit