Het jy al na ‘n mangoboom, oorlaai
met blomme, gekyk? Nee, ek bedoel nou nie of jy so in die verbygaan gesien het
hoe oorlaai die boom is met blommetjies nie. Ek bedoel, het jy al gaan staan by
die boom en daardie swaar vrag aanskou? ... en ook soos ek gewonder waarom dan?
Waarom so ‘n magdom blommetjies as net ‘n klein deeltjie daarvan uiteindelik ‘n
vrug in jou hand sal wees?
Wou jy al by Boom weet of sy
wéét hoe onnodig dit is om so swaar te dra? Ek bedoel nou maar net, die helfte
blommetjies minder ... die helfte minder hoef sy dan kos te gee, nie waar nie?
Of is dit nou net ek wat ‘n bietjie dommerig redeneer?
Ons het drie mangobome in
ons erf – al drie nou in die pronk! Hulle lyk vir my kompleet soos ‘n vierjarige dogtertjie wat ‘trou-trou’ speel.
Jy weet mos hoe hulle maak, ha? Alles wat lap of valletjie of blink is, moet om
die nek en oor die kop en sommer om die lyf ook gedrapeer word. Vir hulself lyk
hulle al te pragtig, maar ai! Jy ander moet maar die lag inhou en ewe sedig
beaam “Jy lyk pragtig, Ma se kind. Ja, Ma sien jy gaan trou.”
Dis toe wat ek onse vriend
Google gaan raadpleeg. Nee, reken hy, al daardie blommetjies is glad nie met
die doel om soveel vrugte te dra nie. Nee, daardie 2 000 tot 4 000
blommetjies is bloot om die moontlikheid van bevrugting te vergroot. Met ander
woorde, die boom is toe veel slimmer as wat ek gedink het.
Sy laat niks aan die toeval
oor nie, hoor. Sy maak vrek seker dat daar iewers genoeg bye, motte, miere, of
wat ook al sal wees om darem ‘n goeie aantal blommetjies te kan bestuif. En so
gaan die storie voort tot Boom uiteindelik die lekkerste, soetste, mooiste
vrugte dra. Maar ja, dit is nie ‘n tiende van die aantal blommetjies waarmee sy
haarself oorspronklik getooi het nie.
En net daar gaan my kop weer
aan die loop. Smaak my mos nou ál ek en die mangoboom is eie, bloedsusters!
Regtig, hoor. Ek dink my derde of vierde naam is iets wat met ‘n mango te doen
het. Sowaar soos vet, hoor!
Die enigste verskil tussen
my en Boom is dat dit my ‘n hele leeftyd gevat het om te bereik wat Boom
jaarliks bereik. Maar kla sal ek nie kla nie, ek is knus-tevrede met my tooiseltjie
vrugte, baie dankie.
Jy vat die lewe aan en
kleintyd wil jy ‘n dit of ‘n dat word. Jy wend selfs bewustelike pogings aan om
jou doel te bereik, maar iewers besef jy dan later dit gaan nie werk nie. Soms
maak jy dit nog af as onsinnig of dom of sommer net kleintyd se drome.
So wou ek so bitter graag ‘n
omroepster op die radio word. Ja, regtig! Maar helaas, dit het nooit realiseer
nie. Dis nou behalwe vir ‘n praatjie hier en daar, wat ek uit my hart uit
geniet het. Maar ek het besef: hierdie een is nie regtig vir my nie.
Ek het my hand aan naaldwerk
gewaag en, al moet ek dit nou self sê, dit was nogal soms iets waarop ek trots
was. Maar weereens – nie die vrug vir die seisoen (lees: my lewe) nie.
Altyd het ek geweet dat moet
daardie iets wees wat die ding gaan doen ... maar wat? Ek wou myself
soms hard teen die kop klap as ek sien hoe ander ‘n ding begin en net eenvoudig
aan en aan en aangaan en ‘n groot sukses daarvan maak. En ek dan? Wat is daar
wat ek regtig my eie kan noem en kan gedy daarin?
Ek het aan die skryf gegaan
en my hart bloot gelê aan elkeen wat wou of nie wou lees nie. Ja, ek moet erken
dat dit nog steeds die passie van my hart is, maaaaar! Moenie vir ‘n oomblik
dink dat dit ‘n romantiese pad is wat noodwendig tot groot sukses en ewige roem
lei nie. Hoegenaamd nie! Om te skryf is, soos met enige ander
projek/werk/onderneming, baie harde werk ... baie harde, ondankbare werk, as jy
my sou vra. Hier moet jy my mooi verstaan: ek het nooit gedroom oor potte vol
geld uit ‘n boek of twee nie, maar het, soos menige jong skrywer, ook geglo dat
kits roem dalk om die volgende boekwinkel se rak vir my sou wag.
Die stryd gaan voort met ‘probeer
dit’ en ‘probeer dat’, maar die groot, aardskuddende oomblik breek nooit aan
nie. Jy bly maar net jy, al probeer jy ook hoe hard.
En so val Boom se
blommetjies die een na die ander grond toe – sommiges vinniger, ander ‘n
bietjie stadiger. En nou begin wonder jy oor die doel van dit alles. Was jou
lewe dan verniet? Gaan jy regtig, egtig niks noemenswaardig vermag in hierdie
lewe nie?
En dan, in die laat ure van
die nag, kom die openbaring helder en duidelik: Wanneer Boom kaal gestroop is
van haar vrugte en sy staan daar so half verdwaas, bly dit nog die mooie boom
wat jy sien groei het, sien blomme dra het, sien vrugte dra het, sien
voortbestaan het. Sonder Boom sou die tuin net nie meer Tuin wees nie.
Boom het nie haar plek in
die tuin verdien deur vrugte te dra nie, sy was lank reeds daar voordat die
eerste piepklein vruggies verskyn het. Juis omdat sy Boom was, het sy haar
plekkie in die tuin gekry.
En ek dan?
So eenvoudig, maar so
moeilik om aldag te aanvaar – nie wat ek doen nie – nie wat ek voortbring deur
al my gesloof en geploeter nie – net maar omdat ek EK is!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking