Vrydag 10 September 2021

MAANLIGSONATE

 

Ek brand vir jou ‘n kersie vanaand, my lief. Ek vier die lewe wat sou wees, maar toe nie was nie. Ek brand vir jou ‘n kersie vanaand, my lief. Weet asseblief dat ek jou diep in my hart bewaar.

Die woedende gedreun van die branders kort by haar huisie is skaars hoorbaar bo die intense vioolmusiek waarna sy luister. Dit het ‘n daaglikse ritueel geword – een waarsonder sy nie kans sien om te lewe nie...twee glasies wyn op die tafel, die brandende kers op die verste hoek, die musiek, en die een leë stoel.
Toe sy vyf jaar gelede hier kom intrek het, het sy besluit dat sy niemand hier sal toelaat nie. Hierdie is haar vesting, haar heilige skuilplek teen die aanslae van die lewe. Niemand sal hierdie heiligdom kom versteur voordat Len dit nie betree het nie. Len...! Bedags is sy in haar blomwinkel, maar as die winkel gesluit is, wil sy niemand sien of hoor nie.
Lydia en haar laatlamsussie, Emsie, is op pad fliek toe. Pa en Ma en wie almal stel nie belang om fliek toe te gaan as hulle hier by die see is nie. Pa is hier vir die vis. Ma is hier om te rus. Rus? Die res van die familie speel nie ‘n rol nie, dus is hulle ook nie saamgenooi nie. Emsie het die idee dat sus Lydia asseblief tog net ‘n man moet raakloop en tot trou moet kom, want genade! is sy nie al (so halfpad) op die rak nie?
Van die fliek kon die twee agterna niks onthou nie, want voor hulle het die mooiste man (Pa sê altyd g’n man is mooi nie, maar hierdie een was wragtag mooi!) gesit. Hy was onbewus van die tweetjies agter hom, maar het ooglopend geen aandag aan die fliek gegee nie. Dit het selfs op ‘n stadium gelyk of hy sit en slaap – en dit terwyl die held toe uiteindelik die heldin in sy arms neem! Kan jy dit glo!
Dis toe die fliek klaar is, dat die ongeluk die twee tref. Die rooi skedonkie het al sy beste dae gehad en hy besluit toe om daar, reg voor die fliek, te weier om aan die gang te kom. Emsie wil nog vir Pa bel, toe die mooie man aanbied om te help.
“Ek sien julle twee het probleme; kan ek help?” Sonder ‘n glimlag, sonder om homself voor te stel. Sommer net asof dit iets is wat hy asseblief tog so gou as moontlik moet afhandel. Emsie wil nog oeee en aaaa, maar die meneer het nie lus vir gesels nie. Hy help hulle om die motor aan die gang te kry en draai om en loop.
“Hoe durf hy loop sonder om homself aan ons voor te stel? Weet hy nie dat ons vir jou ‘n man soek nie?” mor Emsie kliphard. Lydia is al gewoond aan die sussie van haar se dinge, dus steur sy haar nie daaraan nie. Sy is regtig gelukkig op haar eie en sy dink sy doen goed genoeg vir haarself en geen man is nodig om haar aan die lewe te hou nie, dankie! Om ‘n man te vat beteken waarskynlik dat sy haar blomwinkel sal moet verkoop en daarvoor sien sy glad nie kans nie. Nee, die manne moet tog maar hulle eie vrouens trou en haar los waar sy is.
Dis nog donker en almal slaap. Iets het haar vannag gejaag. Iets het haar wakker gehou. Iets...iemand se donker oë, dalk? Onvergenoeg gooi sy die komberse van haar af en staan op. Sy trek haar drafskoene aan en sluip by die huis uit. Sy kon nog altyd die ‘spoke’ verdryf met ‘n vinnige draffie langs die see.
Toe die son opkom gaan sit sy moeg langs die see. Die silwer sonstrepe op die water verblind haar sodat sy met toe oë sit. Sy skrik toe iemand skielik langs haar praat: “Dit is deesdae gevaarlik om so alleen rond te loop, weet jy?”
Sy maak nie haar oë oop nie. Haar hart klop in haar keel. Sy ken hierdie stem – sy weet dit behoort aan die man met die donker oë. Sy antwoord gemaak vererg: “Jy besef natuurlik dat jy my vrede kom onderbreek, hm?”
“Jy het my vrede reeds gisteraand onderbreek toe jy agter my in die fliek gaan sit het. Ek het vannag van jou gedroom en ek hou nie daarvan om van vreemde vrouens te droom nie,” antwoord hy net so rustig terug. “My vrou sal glad nie daarvan hou as sy moet weet ek en jy het in my drome gedans op die mooiste vioolmusiek nie.”
Hy is dus getroud. Dit kom nou daarvan om jou sussie fliek toe te sleep. Maar nog erger, om na haar te luister dat hy die man van almal se drome is. Vervlaks!
Sy staan op en wil verskoning maak om te loop, maar hy keer haar. “Moenie loop nie, asseblief. Ek sal nie byt aan jou nie. Wees asseblief deel van hierdie mooi oggend. Ek sal mooi soet wees, ek belowe.”
“Ek is Lydia en baie dankie dat jy mooi soet sal wees. Ek hou nie van wolwe en ander vreemde gediertes nie.”
“Len. My naam is Len en ek is nie ‘n wolf nie,” antwoord hy gemaak ernstig. “Dit is my huis daar anderkant...met die blou dak.”
Vir die res van die drie weke wat Lydia en haar mense by die see is, sit hulle twee elke oggend ‘n halfuur, soms langer, daar op die bank. Dit is nie nodig om altyd te praat nie, die blote feit dat hulle daar kan sit en mekaar geniet is genoeg vir albei. Hy vertel haar van sy mooi vrou wat op die oomblik in Europa met ‘n vriendin toer – hulle is gelukkig getroud. Hoekom laat dit haar hart so pyn om dit te hoor?
Op ‘n vreemde manier het albei die vrymoedigheid om hulle diepste gedagtes met mekaar te deel. Dalk is dit omdat albei weet het hulle sal mekaar nooit weer sien nie? Dalk is dit omdat hulle siele nog van altyd af dieselfde taal praat, wie sal weet?
“My mense is vroeg vanoggend terug huis toe. Ek ry môre terug Johannesburg toe,” sê sy een oggend. “Ek moet Maandag by die werk wees.” Sy praat sonder om na hom te kyk. Haar hart huil, maar haar gesig bly emosieloos.
Hy vat haar hand. Sy beur nie weg toe hy haar nader na hom toe trek nie. Hulle sit vir ‘n oneindige paar oomblikke styf teen mekaar. “Kom drink vanaand ‘n glas wyn by my. Ek sal soet wees, ek belowe jou.”
Sy staan op en stap weg sonder om hom te antwoord. Sy weet sy speel met vuur. Sy weet sy is die enigste een wat seer gaan kry. Maar sy weet ook dat sy nie huis toe kan gaan sonder om net hierdie een keertjie so ‘n klein bietjie nader aan hom te kom nie. Sy begeer dit om net een verbode oomblik die warmte van sy lyf te ervaar. Sy wil dit ervaar en in die dieptes van haar hart wegbêre vir later se onthou.
Sy wag tot die son byna onder is voordat sy die deur agter haar sluit. Die see is spieëlglad en stil – asof in afwagting op ‘n groter gebeurtenis. ‘n Verlate seemeeu vlieg laag oor haar kop verby. Sy sien nie die see nie, sy hoor nie die seemeeu se skree nie. Sy weet dat hierdie die begin van ‘n pynlike einde in haar pad is. Na vanaand sal niks ooit weer dieselfde wees nie.
Hy wag vir haar in die straat. Sy stap agter hom aan deur die donker huis. Hulle praat nie. Buite op die patio staan twee glase wyn reeds geskink. Daar is geen ander lig behalwe die een kers op die verste hoek van die tafel nie. Van iewers af hoor sy die sagte klanke van die Maanligsonate. Die vioolklanke huil saam met haar hart.
Hy gaan sit in die leunstoel en wag dat sy langs hom moet kom sit. Sy doen dit nie, want sy is bang vir haarself. Sy weet dat sy hier die sterker een moet wees vanaand. Die wyn is soet op haar tong, byna soos die liefde in haar hart vir die man wat dit geskink het.
Toe hy agter haar kom staan, draai sy om en druk haar kop in sy bors. Hy maak haar toe met die warmte van sy arms. “Bly vannag by my, my lief,” sug hy in haar hare.
Sy het gebly. Vir daardie een stormagtige nag was dit sy en hy in die lig van die kers. Iewers het die vioolmusiek opgehou. Die branders het stil geraak. Die kers se lig het doodgegaan. Later was dit net die liefde wat brandend gebly het tot die oggend se lig oor die see kom skyn het. Sy het woordeloos opgestaan en by die huis uit gestap. Iewers het haar skoene en trui bly lê, maar dit het nie meer saak gemaak of dit warm of koud of wat ookal is nie.
Lydia en haar familie kom ‘n jaar later weer by die stranddorpie aan. Voor Len se huis is ‘n ‘Te Koop’ bordjie. Sy hoor in die kafee dat sy vrou oorlede is. Hy het iewers heen gevlug, niemand weet waarheen nie. Die groot huis sonder sy lieflike vroutjie het te veel vir hom geraak en hy het die pad gevat. Niemand het hom weer gesien nie.
Sy koop die huis. Sy maak dit haar eie veilige vesting. Sy maak dit haar heilige skuilplek teen die verlang en alleen in die lewe. Hier voel sy veilig en die naaste aan die liefde wat sy in haar hart dra. Op die patio staan die tafel en die twee stoele en het sy haar daaglikse ritueel – een waarsonder sy nie kans sien om te lewe nie...twee glasies wyn op die tafel, die brandende kers op die verste hoek, die musiek, en die een leë stoel waarop niemand ooit sal sit nie.
Die blomwinkel is onmiddellik ‘n sukses. Haar kliënte kom van die stad af om haar te ondersteun. Volgens almal is daar net ‘iets’ in haar werk wat hulle by niemand anders vind nie. Wanneer hulle haar vra wat haar geheim is, antwoord sy met ‘n breë glimlag: “Dalk is dit maar die liefde wat sulke dinge aan ‘n mens doen, jong.” En almal lag dan lekker, want Lydia het nog nooit eens ‘n vaste verhouding gehad nie, het sy?
Daar was al mans in haar lewe, ja. Hulle was goeie vriende en dalk goeie troumateriaal, maar Lydia kon nie die belofte aan Len, die belofte dat sy vir altyd vir hom sal wag (het sy dit ooit hardop vir hom gesê?), verbreek nie. Hoewel hulle albei geweet het dat daardie een nag verkeerd was, kon sy dit nie vergeet nie. Len het geen beloftes aan haar gemaak nie, maar haar siel was vir altyd en altyd vas aan hom geweef.
Dit is laat Saterdagnamiddag. Dit was ‘n lang en besige week. Sy sien daarna uit om haar skoene uit te skop en ‘n ver end langs die see te gaan stap. Die see is haar boesemvriend, haar vertroueling, haar enigste toevlug wanneer dit alleen raak in die groot, stil huis.
Toe sy aankom huis toe, is sy dadelik opstandig. Voor haar huis staan ‘n motor. Wie is dit? Hoe durf hulle haar privaatheid so skend? Sy het niemand genooi nie en sy is ook nie van plan om iemand ooit te nooi nie. Sy stap stadig nader – skielik te bang om haar eie voordeur oop te maak, want wie ookal met die motor daar gestop het, is nêrens te sien nie. Sy hoor weereens haar vriende se vermanings dat ‘n mens nie jou huis so kan laat oopstaan nie, dit is glad nie veilig vir ‘n alleenloper soos sy nie.
Sy maak die deur oop en stap stadig in. Eers sien sy niemand nie, maar sy weet iets is anders, iewers is iemand. Sy voel die teenwoordigheid van nog ‘n mens aan. Buite op die patio staan twee glase wyn reeds geskink. Daar is geen ander lig behalwe die een kers op die verste hoek van die tafel nie. Van iewers af hoor sy die sagte klanke van die Maanligsonate. Die vioolklanke jubel saam met haar hart.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...