Donderdag 20 Februarie 2020

RIGTINGBEDONNERD IS GEEN GRAP NIE

My inniger verskoning aan elkeen wie se ore nou gaan tuit en wie se oë gaan wyd oop rek, maar ek ken geen ander woord om in hierdie geval te gebruik nie. Dus: as jy jouself verskoon en ander keer weer marthamaria se goetertjies lees, is dit okei met my.
Ken jy iemand wat rigtingbedonnerd is? Voor jy ‘nee’ antwoord, wag eers. Want sien, as jy mý ken, ken jy vir rigtingbedonnerd in die ergste graad.
Hemel mens, dis vir ander ‘n grap, maar vir diesulkes van ons wat daaraan ly, is dit ‘n lewenslange krisis en kruis. Ogg! Om strate toe te gaan, beteken om snaarstyf gespanne te wees net by die gedagte daaraan dat jy weer op een of ander ongure plek gaan opeindig ... hoekom is dit so? Jy sal nooit verdwaal en in ‘n mooi ruskamp eindig nie. Nee! Jy verdwaal en eindig tussen ou lusernbale en doringdraad op. Of, nog erger, jy beland tussen die grootste, wreedste ... maar wag, ek kom daarby.
So ry ek eens op ‘n dag saam met my pa en ma in Windhoek se strate. Ouma was die navigator – en sy het wraggies nooit (of miskien amper nooit) ‘n fout gemaak nie. Haar enigste probleem was die manier hoe sy Oupa op ‘n plek wou kry.
“Hottie, jy moet nou hier voor OP draai,” sou sy sê. Dan wonder ek mos by myself, watter kant toe is OP? En sowaar, Oupa grom: “Watter kant toe is OP?”
Die spesifieke dag besluit Ouma ek moet voor sit by Oupa ... die navigator ry back seat en dit maak die sakie ‘n bietjie meer ingewikkeld. Nou kan Oupa nie sien as Ouma sê “Draai hier OP” en sy beduie met die handjie na links of na regs nie. Baie gou is die spanning in die motor dat jy dit met ‘n mes kan sny en ek sit hande geklem en mond toegebyt dat die sweet op my voorkop uitslaan.
Ouma se OP is Oupa se regs en dan is Ouma se af weer Oupa se regs en da verdwaal ons dat jy weet: nooit, ooit kom ons weer by die huis nie. Oupa trap die briek en gryp die stuurwiel vas met albei hande. Hy kyk nie links of regs nie, staar net voor hom uit teen die gebou voor ons. Ouma is ook nou stil.
Dan gee Oupa die uitspraak: “As ek nou weer hier kom, sal dit die tweede keer wees.”
Nee man, toe kan ek dit nie meer hou nie. Ek bars uit van die lag dat die trane loop. Die twee oues het geen ander keuse gehad as om ook maar te lag nie.
Nou het jy seker ‘n klein bietjie begrip vir my dat ek ook soos die Oupa nie OP van links of regs kan onderskei nie. Hemel tog, dis nie snaaks nie hoor! En hoor hier, moenie dat die son sak nie, dan kan ek maar liewer uitspan langs die pad en môre verder probeer.
So sal jy my nooit vang sonder my selfoon in die kar nie. Nee, nie om te gesels op hom nie, man, ek weet mos dis gevaarlik! En as ek nou so daaraan dink, vir ons outjies wat nie OP van links of regs af ken nie, seker nog meer as vir ander. Jy durf nie gesels en dan nog probeer rigting bepaal ook nie, my nonna, dit werk eenvoudig nie.
Die selfoon het mos darem ‘n GPS en daai tannie vat my op paaie waar ek alleen nooit sou gekom het nie, glo vir my. Maar dan het ek dit ook al oorgekom dat sy baie bedees vra ek moet links draai daar voor, dan gaan neuk ek OP! Dan ken julle mos daardie stilte wat neerdaal, want dan het ek nou vir antie op my fountjie totaal en al verwar.
En wat maak ‘n mens dan? Ag wat, jy trek af, maak of jy op jou foon praat, maar al die tyd sukkel jy dat die dit en datse ding net moet rigting kry om vir jou weer op die regte pad te kan sit.
Op een van my menige togte, draai ek ook laat een namiddag AF waar ek moes OP draai en dinge loop sleg skeef vir my. Dit was nog voor die dae van GPS! Die son sak vinnig en ek sien ek is in een van Windhoek se woonbuurte waar niemand, maar niemand na donker wil ry nie. Ek weet ek kan glad nie stop nie, want oral langs die strate sit (so lyk dit toe later vir my) die grootste, sterkste, wreedste mense by hulle vuurtjies en (so lyk dit toe vir my) drink die een bottel soetwyn na die ander.
Ek bel iemand. Sy sê vir my: “Ry net suid, jy sal in die dorp kom.”
Ek ry suid. Regtig, dit WAS suid! Ek ry en ry, maar die vure langs die strate word meer en die manne langs die vure raak groter en wreder – stop en vra is dus nie ‘n opsie nie. Ek hou net die brandstofmeter dop, want so voor die vet! hier mag my kar my nie in die steek laat nie.
Ek bel weer. Die raad van die ander kant af bly dieselfde: Ry suid!
Dis nou sulke tyd wat jy leer bid soos nog nooit tevore nie, glo vir my. Ek bid vir die petrol om te hou. Ek bid vir die bande tussen die blikke en bottels op die pad. Ek bid dat daai sterk, wrede mense nie sien ek is vrou alleen in die kar nie. Later bid ek maar net, al weet ek nie waarvoor nie.
Die uiteinde was toe ek ‘n liewe oumatjie met ‘n string kleintjies agter haar langs die pad sien. Sy lyk nie groot nie. Sy lyk nie wreed nie. Sy lyk ook nie of sy ... wat nie? Ek weet nie meer waarvoor was ek alles bang nie.
Oumatjie en kinders klim toe saam met my in die kar, want hulle was juis op pad ‘dorp’ toe. Die gevolg is dat ek dit oorleef het om vanaand vir jou van die groot verdwaal te kan vertel.
Lag jy dalk vir my? Toemaar, dis okei dat jy lag. Want ja, as die son skyn en ek sit salig by my huis, kan ek ook lag vir almal wat nie so lekker OP van AF af ken nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...