Maandag 17 Februarie 2020

A NIGHT AT THE MOVIES

Gesels ‘n paar van ons vanaand by ‘n vergadering. Eintlik is ons baie ernstig, want daar is dinge wat beplan en gereël moet word. Maar nou ken jy mos ‘n klomp vroumense bymekaar – die een ding lei tot die volgende en voor jy jou kom kry, beplan jy hoeka nie meer nie. Hoe so? Mos oor die gesels te lekker is, man!
“Ons moet ‘n movie night hou,” reken een.

En net daar verloor die vergadering sy draad. Gee nou vir ‘n klomp vrouens wat jarre der jarre terug in ‘n skool-movie was, net ‘n gap, en jy sien hoe blink die oë. Want, jy sien, elkeen van ons het mos maar daardie klein onthou-skatte wat jou vir altyd en altyd jonk sal hou ... soos die gedagte aan ‘n aand by die movies.
Dis seker nou hier wat ek my jonger lesers gaan verloor, maar vergewe my tog maar hierdie een keer dat ek so blatant met my ouderdom te koop loop. Hoe bring ek movies en ouderdom by mekaar? Maklik. Vandag se kinders is eerstens nie meer almal in ‘n koshuis nie en tweedens het die televisie mos kom nesmaak in ons huise.
In Mariental het dit so gewerk: óf jy gaan fliek in die seunskoshuis se eetsaal, óf oom Emmit kom Saterdagmiddag uit Windhoek uit aan gejaag en ons kyk fliek in sy flieksaal. Dis nou nie asof een van die twee hierbo vreeslik gereeld gebeur het nie, hoor. Maar dis juis daarom dat dit altyd, maar altyd vir groot opwinding gesorg het.
As jy nie gekys was nie, het die opwinding eintlik al so vroeg as Maandag begin. Want, jy sien, jy wil mos ook ‘n brief kry en ‘gevra’ word. Ek sit nou so en giggel my myself, want daar is mos net ‘n soort taal aan sekere dinge. As jou vriendin vir jou sou vra: “Is jy al gevra?” het jy geweet sy wil weet of iemand jou fliek toe wil vat.
So wag jy dan maar van oomblik tot oomblik en van dag tot dag om gevra te word. As die skoolklok eenuur lui, weet jy dat jy nie vandag gevra gaan word nie ... en more begin jy weer wag vir DAARDIE brief wat van wie ookal af moet kom.
Kom ons veronderstel dat jy toe wel ‘gevra’ is voor die einde van die Vrydagmiddag. Mense! Die opgewondenheid is iets uit ‘n ander wêreld. As julle die Saterdag by oom Emmit gaan fliek, is daar nie ‘n probleem met klere nie. Dorp toe, het jy geweet, dra jy jou skooldrag. Maar as die fliek in die seunskoshuis was, het die kopkrap begin oor wat jy moes aantrek. Dit was niks vreemds om vir ‘n maatjie te gaan vra om tog vir jou ‘n romp of ‘n mooi bloesie of iets te leen nie. Dis mos die eerste keer wat jý dit dan dra en dan voel jy tog alte mooi in jou maatjie se klere ... terwyl sy dalk weer iets van jou dra vir die aand.
Uiteindelik breek die uur aan! Jy moet nou net onthou dat dit die eerste keer is wat jy saam met hierdie seun gaan fliek. Julle is heelwaarskynlik nie in dieselfde klas nie, dus het julle dalk nog nooit eens ‘n woord met mekaar gepraat nie. Praat van ongemaklik en op jou senuwees!
Julle stap stokkerig tot by die naaste oop stoele en gaan sit stywe rug langs mekaar. Daar word darem ‘n woord of twee gepraat, maar hoor hier, dit neuk maar! Altwee van julle bid net dat die ligte af moet gaan dat die fliek kan begin – dan hoef julle ten minste nie te praat nie.
Uiteindelik begin die fliek en jy voel hoe die spanning in jou vir ‘n oomblik afneem. Maar dan is dit die volgende ding wat pla – jy sien sy hand is so half skewerig op sy knie. Dit beteken net een ding – hy soek kans om jou hand te vat.
Ag, o hemeltjie tog! Die sweet slaan op jou handpalms uit en jy probeer dit ongemerk aan jou rok afvee. Jy skaam jou dood as hy nou jou hand vat terwyl dit so nat is van die sweet.
Hy skuif kamma reg in sy stoel, maar dit is net om so ‘n klein bietjie nader aan jou te kan sit. En daar is die hand weer op sy been ... net ‘n bietjie nader aan jou as netnou. Jy weet hy gaan nou enige oomblik die moed hê om jou hand te vat. Dankie tog dat dit nie meer so nat van die sweet is nie.
En dan! Agge neeeeee! Jy hoor daardie krrrr geluid en almal om jou hoor dit en ‘n harde ‘aaaaagggg neeeee’ trek deur die saal. Die film het gebreek. Iemand skree: “Lights, please!”
Die ligte gaan aan en jy en die outjie sit weereens stokstyf en stram langs mekaar. Hy het sommer sy arms voor sy bors gevou uit pure frustrasie. Jy vee weereens die sweet ongemerk teen jou rok af.
Na ‘n ewigheid gaan die ligte weer af en kan die fliek verder wys. Dankie tog!
En daar begin dit weer ... sy hand op sy knie ... die sweet in jou handpalms ... hy skuif ongemerk nader ... jy weet hy gaan nou jou hand vat.
Verdomp! Daar staan dit helder en duidelik op die doek voor jou: “The end!”


En het hy toe my hand gevat?
Nee, hy het nie. Daar was nie tyd daarvoor nie. Jy weet mos sulke dinge het tyd nodig om te gebeur!
Net miskien vra hy jou weer en NET miskien gebeur dit dan?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...