So het ek vandag weer ‘n onderonsie (net darem so ‘n ligte
enetjie!) met iemand. Niks in die besonder het gebeur nie, dit was net so ‘n
paar ongevraagde woorde en dan ... die lyftaal, mos. Jy weet mos, iemand het
nog niks gesê nie, maar jy ‘lees’ daardie lyf en jy weet! Nou ja, dis min of
meer ook wat gebeur het met my vandag.
Jy sien, dit is mos nou maar eenmaal so – jy kan nie al
daardie negatiewe emosies ervaar as gevolg van iemand anders voor jy nie jou
mag aan hom/haar oorgegee het nie. Jy glo my nie? Nou waarom presies kry die
mens dit dan met jou reg?
Maar wat ek eintlik op die hart het, gaan nie oor ander
mense nie. Ek besef net meer en meer watter ontsettende mag het my gedagtes en
woorde op my lewe. As ek toegee en bly sanik oor dieselfde ding, is my ellende geboek!
Op en af. Op en af. Gelukkig. Tevrede. Hartseer. Mismoedig.
Weer gelukkig. Weer beneuk.
Dis daardie ‘ding’ in ons kop wat so met ons woer-woer
speel. Ek probeer verduidelik ...
Ons vroumense ken dit almal, ek weet. Jy staan mos vanoggend op en gaan
staan voor die kas om aan te trek. Vyf minute later is die hoop klere op die
bed groter as die alles saam wat nog in die kas oor is. Gister nog was jy
doodgelukkig in hierdie toppie, maar vandag laat dit jou lyk soos ‘n ...
besluit maar self, hoor. ‘n Mens kan ook nie alles op skrif sit wat jy sulke
tyd dink (en dalk miskien nog kwytraak ook) nie.
Nou wat het dan van gister af tot vanoggend gebeur met die
toppie? Niks! Heeltemal niks! Dis nie die arme toppie wat jou so verwese op die
vloer lê se skuld nie, man. Dis jou kop wat dit aan jou doen.
Maar die ‘vandag’ word ‘n week, ‘n maand, en later is dit
nou maar soos dit is. Niks is meer lekker of mooi of goed nie. Die lewe het ‘n
las geword – ‘n las wat te swaar is om te dra. ‘n Las wat ek lankal nie meer
wil of kan dra nie. “Seblief, Meneer, ag sê tog weer: Is dit die pad wat ons
moet môre gaan?”
En jy weet nie meer of jy kans sien daarvoor nie. “’n
Stukkie lê hier, en ‘n stukkie lê daar. Die stukkies van my lewe ...”
Nou, hoe nou verder?
Ek luister vanaand na “Lord of the dance” wat Laurike Rauch
so dieplik mooi sing en dit kom by my op: Suster, jy is op hierdie aarde en jy
moet hierdie lewe dans! Soms dans jy met jou kop in die lug en jou arms hoog
daarbo. Ander kere smaak dit mos vir jou of jy liewer moet grondlangs kruip,
nie waar nie?
Dan is daar net een oplossing: Wat jou kop en jou hart en
wat of wie ookal vir jou sê, speel (eintlik) nie ‘n rol in die lewe nie. Want,
jy sien, die son gaan nog altyd opkom en ondergaan en, as dit die Here se wil
is, sal jy nog altyd moet dans.
Terwyl ek nou MOET dans, waarom sit ek nie sommer maar 'n smaail op die suur gesiggie nie?
Eers smaak dit mos vir jou of jou wange gaan skeur, want hulle is nie lus vir smaail nie. Ek weet, suster, ek weet! Soms is dit nodig om 'n bietjie hulp te kry (het jy al 'n wasgoedpennetjie oorweeg?). Ander kere gaan dit makliker om hom daar te hou.
Want, jy sien, daardie smaail maak alles makliker. En mooier.
En beter.
En dan? Voor jy jou kom kry, is jy weer op die voete en dans jy met die kop in die lug.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking