Sondag 17 Februarie 2019

AS NIKS MEER SIN MAAK NIE

Ek is so pas deur ‘n merksessie wat ek nog nooit beleef het nie – 785 vraestelle en vyf rooi penne binne drie weke. Mens! Jy moes dit beleef het om dit te kan glo. Maar weet jy wat? As ek weer die kans kry, doen ek dit weer. Dit bly maar net wonderlik om jou vermoëns te strek en te strek, selfs tot daar waar jy nie gedink het dit is moontlik nie.

Jy sal dit dalk vreemd vind, maar die hele tyd wat ek sit en merk, is my kop besig met goedjies ... goedjies wat meer en meer pla. Die jonges sal dit dalk toeskryf aan die grys hare? Ek weet nie, maar dit maak ook nie baie saak nie. Feit van die saak is dat dinge my pla en ek gaan jou nou daarvan vertel.

Ek vra nooit vir terugvoer nie, maar hierdie keer wil ek graag jou opinie oor my deurmekaar gedagtes hê. Reg so? Ek sal dit baie waardeer, hoor ... soos ek altyd elke op- en aanmerking waardeer.

Stel jou nou voor jy is in ‘n klein dorpie. Die gemeente van die kerk is dus eintlik die dorpie. Alles loop voor die wind, totdat een van die ouderlinge se jong dogter haar kom vestig. Sy is die nuwe juffrou by die hoërskool. Maar, o jittetjie tog! Die mens is heel ‘buite orde’, soos die hoofouderling dit ernstig voor die kerkraad verklaar. Kan sy dan nie wéét dat ‘n mens nie so aantrek nie? ‘n Mens kom mos nie op straat met sulke klein stukkies lap oor jou liggaam nie? “Hemel, Dominee, my vrou moes my lawe toe ek by die huis kom!”

Die stomme Susanna word onder sensuur geplaas nog voordat sy die eerste keer haar voete in die kerk gesit het. Die rede? ‘n Mens weet mos dat jy nie so mag lyk op straat nie. Jy weet ook dat jy die mans in die versoeking lei, dus moet jy maar eers leer aantrek voordat jy dit in die kerk waag. Amen!

Die volgende Sondag is dit weer sulke tyd. Ou Peet van Helsdingen het Vrydagaand weereens homself te buite gegaan by die kroeg. Hy kry Maandag ook sy brief van die geagte kerkraad af: Totdat jy leer hoe om jou te gedra, is jy nie welkom in die gemeente se heilige byeenkomste nie. Amen!

Waarop ek hier afstuur, is bloot dat ek en jy grootgeword het met wat ‘reg’ en met wat ‘verkeerd’ is. Daar is net eenvoudig dinge waarvoor jy nie kan sê ‘Ek het nie geweet nie.’ Dis so maklik soos dit! Jy mag nie vir jou ma jok nie, jy mag nie jou maatjie se potlood vat nie, jy mag nie ... eindelose reekse dinge wat jy net eenvoudig geweet het omdat dit is hoe jy grootgemaak is. Wanneer jy sekere van hierdie moets en moenies oortree, gaan jy tronk toe, dit weet jy sonder dat iemand dit elke dag vir jou moet uitspel.

Nou is daar ‘n ander kant ook. Jare gelede lees ek ‘Things fall apart’ van Chinua Achebe. (Ek weet, dadelik sit my kind die selfoon sommer af!) in die voorgeskrewe klas van my Graad 11’s en 12’s. Daar ontmoet ek vir Okonkwo, die leier van ‘n denkbeeldige ‘clan’ bo in Afrika.

Ek gaan dit nie vir jou aandoen om die storie te herhaal nie, want dit is nie wat my pla nie. Hier ontmoet ek vir Okonkwo en sy mede-stryders. Hulle word groot en ‘weet’ ook sekere dinge. Hulle weet ook wat is ‘reg’ en wat is ‘verkeerd’. Die lys is lank, maar ek noem net enkeles. Hulle weet dat ‘n gebreklike baba in die woud weggegooi word. Hulle weet dat ‘n swakkeling uit eie stam met die kapmes doodgemaak word. Hulle weet dat hulle met die groot feeste alles om hulle verwoes met daardie einste kapmesse.

Ja, hierdie mense het dit geweet en dit was reg en goed vir hulle. Daar was geen vrae daaroor gevra nie, want dit was logies vir hulle soos dat die son elke oggend opgekom het.
Nou is daar nog ‘n ander ding ook wat my pla, en dit is juis wat aanleiding gegee het tot hierdie lang relaas. 

Vir alles het ons standaarde en vasgelegde reëls, nie waar nie? Wanneer jy so of so oud is, moet jy reeds ‘n motor besit, ‘n huis aan die afbetaal wees, vroutjie en kindertjies, ens., ens. Jy moes dit of dat studeer het en jou salaris moet asseblief goed genoeg wees sodat jy gereeld gesien kan word by die ‘blink’ plekke. Reg?

Jou kinders moet almal gaan studeer en dan instap in ‘n werk wat Pappie gewoonlik eers moet goedkeur. Reg? Jy besluit ook so half en half vir Sussie wat sy moet gaan studeer, want ‘sy moet darem na haarself kan kyk tot sy trou’, nie waar nie?

En dis toe mos wat ek aan die Kommunisme dink wat ‘n kind vat en ‘n ballerina of atleet of wat ookal maak. Daardie kind presteer sonder ophou. Hoekom? Is dit nie dalk omdat dit is wat die kind voor aangelê is en wat hy/sy die graagste wil doen nie? Ek vra maar net, hoor.
Sit en merk ek honderde vraestelle en die stomme kind weet nie hoe om ‘continuous tense’ te skryf nie. Hy verloor die punt net daar. Nie omdat hy nie die ‘tense’ kan gebruik nie, net omdat hy dit nie kan spel nie. Hoekom moet dit so werk?

Genugtig, ek kerm die aand om en ek kom nie tot ‘n punt nie.

My vraag is net dit: Wie besluit op wat reg is en wat verkeerd is? Wie stel standaarde op? Wie bepaal wat is nodig sodat ek op my oudag kan sê: Ek het dit gemaak?

Want, jy sien, wat vir jou reg en aanvaarbaar is, is nie noodwendig vir my die standaard nie. 

Nou vra ek weer: Wie bepaal al hierdie dinge?
  

1 opmerking:

  1. Lekker groot pot vol wurms oopgekrap Martha! Ek het ook in die waardes van moets en moenies groot geword.
    Nou krap jy my kop deurmekaar. Jy sien my moedertjie rus al 38 jaar in vrede, maar tot op hede is haar woord wet in my lewe As ma gese het jy mag nie is dit so.
    Jy MAG nie rook nie, punt! Hoekom? Want ma het so gesê. En nog baie ander.
    Slotsom in my lewe? Nie haar wet nie maar my gehoorsaamheid.
    Ons leef in n geslag sonder waardes want ma se wet het nie meer gewig nie!
    Dal ons ooit verstaan !

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...