Saterdag 01 September 2018

VERANDERING

Soms kom jy op ‘n plek in jou lewe en jy besef – hier was ek nog nooit! Hierdie is ‘n eerste. Jy is te midde van ‘n skare mense en niemand tussen die duisende rondom jou kan saam praat nie, want niemand is op hierdie oomblik op daardie spot nie. Jy is dus ... alleen? Nee, ‘alleen’ is die verkeerde woord daarvoor, dit weet jy. As jy omkyk en rondom jou kyk, sien jy al hierdie massas mense, maar terselfdertyd besef jy daar is nie ‘n enkele siel naby nie.

Was jy al daar? Het jy al ooit so gevoel? Nee, moet vir geen oomblik dink ek is in ‘n neerdrukkende bui nie – allermins! Ek is so opgewonde dat ek voel soos ‘n klein hondjie wat sy eie stert jaag. Ek is opgewonde oor wat voorlê, maar nie noodwendig oor die spot waar ek nou staan nie.

Praat ek in sirkels? Ek sal probeer verduidelik.
Jy staan in ‘n luukse restaurant se deur. Voor jou is die pragtige gedekte tafels, elkeen met ‘n eie spyskaart. Ongelukkig mag jy nie deur die tafels loop en elke spyskaart bestudeer nie. Jy mag bloot by die deur staan en van daar af besluit watter tafel (met sy eie, unieke spyskaart) jy gaan kies. Eers wanneer jy reeds sit, mag jy die spyskaart oopmaak en bestudeer. Jy het my nou, dink ek.

So is die lewe ook mos maar, is dit nie? jy staan voor nuwe uitdagings en moet ‘n hele rits besluite neem, maar jy weet nie wat die gevolge gaan wees nie ... wie weet dan nou wat die lewe van môre en oormôre gaan oplewer? Ons weet dit mos glad nie. En ja, ek wil dit regtig ook nie weet nie ... behalwe dat ek nou moet kies watter tafel en watter spyskaart!

Of, as jy wil, kan jy dit sien as ‘n proses om te trek van die een huis na die volgende. Jy het lank genoeg in jou huidige huis gebly. Jy voel so ‘n klein bietjie uitgekuier daar en jy wil trek! Jy oordink die storie en jy besluit dis nou of nooit. Hier moet ‘n ander plan gemaak word. Ongelukkig is daar ‘n kinkel in die kabel: jy mag bloot die huise beoordeel aan hulle deure en dan besluit na watter huis toe wil jy trek. Hoe lyk die huis binnekant? Gaan dit lekker wees om daar te bly? Beslis, maar sê nou maar ...

En dis presies waar ek dan vashaak! Want sê nou maar WAT? They say a change is as good as a holiday en wie het al ooit nee gesê vir ‘n lekker lang vakansie?

Nee, ek het nie op my kop geval nie, hoor. Ek is dood ernstig oor die alles. Ek is uit my nate uit van opgewondenheid oor wat voorlê, maar die klein bietjie onsekerheid is soos ‘n muggie al rondom my. Maar ek weet mos, een klap en die muggie is ‘n dooie kolletjie op die tafel, of teen my wang of waar ookal. Dus, muggie se kind, jy is nie ter sake hier nie.

Intussen pak ek my spreekwoordelike tasse en bokse en als wat gepak moet word vir die groot trek en ek trek my mooiste outfit aan vir die restaurant met sy mooi tafels, want trek gaan daar getrek word en in daardie mooiste keffie sal daar ‘gewine & dine’ word, jy sal sien!



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...