Donderdag 13 September 2018

345 km OP PAD NA 'KAMER VERLAAT'

Ons almal weet van die keer toe Pa en Ma opgedress gesit het, gereed dat die dominee kom vir huisbesoek. Die oomblik wat die dominee lekker sy sit kry in die sitkamer, kom die tweejarige Sussie ingehardloop: “Mamma, ek wil piepie! Mamma...” en die volgende oomblik is dit op die sitkamermat. Ek is seker jy het self ook, iewers in jou lewe, een of ander weergawe daarvan self ervaar.
            Ek wil jou egter nie van Sussie en die sitkamermat vertel nie. Ek wil jou vertel van Suzaan (nie haar regte naam nie), ‘n volwasse dame en haar stryd met ‘kamerverlaat’ oor 345 km heen. Sy en haar manlike kollega, Sam (ook nie sy regte naam nie) is op pad van Grootfontein af Mariental toe.
------------------------------------
            Ons ry voorspoedig en die eerste stop is op Otjiwarongo. Ek gaan gou die nodige draaie loop en koop ‘n lekker koue koeldrank. Ek slurp dit behoorlik op, want dis warm en die pad is uiters eentonig.
            Nader aan Okahandja (178 km verder) begin voel ek dat die koeldrank besig is om sy werk te doen. Gelukkig weet ek dis nog net ‘n paar kilometers, dan sal Sam by die vulstasie stop.
Hy verminder spoed in die dorpsgebied en ek wag angstig dat hy die flikkerlig moet aansit om af te draai, maar nee, hy hou verby. Ag wat, Windhoek is minder as 100 km ver, dis glad nie so erg nie. Ek skuif so ‘n bietjie reg in my sitplek en probeer van die probleempie vergeet.
            Die wat al die pad tussen Okahandja en Windhoek gery het sal besef dat dit nie so eenvoudig is nie. Die verkeer is druk. Die pad laat nie toe dat jy kan verbysteek wanneer en soos jy lus is nie, dus gaan dit maar stadig vandag. Lorries. Groot busse. Stukkende, rokende bakkies. Nog lorries. Stadig – heeltemal te stadig na my sin!
            Ek skuif-skuif in die sitplek om gemakliker te probeer voel. Sam kyk skuinsweg na my. “Iets fout?” vra hy sonder om regtig ‘n antwoord te verwag. Ek skud my kop en probeer om stil te sit. Sam is nie die geselserige soort nie, dus sit ek maar die radio aan vir geselskap.
            Ek begin nou regtig ongemaklik voel. Ek dink ek is in groot moeilikheid, maar ja, Windhoek is mos darem nie aan die einde van die aarde nie.
            Ons stop by die voorstaandiens net buite Windhoek. ‘Agge nee!’ murmureer my hele liggaam. Hulle trek motors af. Wat soek hulle? Moet dit nou juis vandag wees? Alle ander dae ry ‘n mens hier verby sonder dat ‘n enkele geregsdienaar hom verwerdig om gesig te wys. Ek wil in panic mode gaan, maar toe sien ek hulle trek net die bakkies af. Windhoek, hier kom ons!
            Nou begin ek ernstig knyp. Toemaar, dis nog net so twintig minute, dan is ons by ‘n toilet. Knyp! Moenie vir die wolke kyk nie. Knyp net! Ons gaan nou stop. Knyp! Ons gaan by Metro stop, want Sam wil iets daar koop. Ag, dankie tog, ek sien al vir Metro. Nog net ‘n paar minute, dan is ons daar. By die robot lui sy foon. Hy antwoord die oproep en ry verby die laaste toilet in Windhoek.
            Nee, dit kan nie wees nie! Ek glo dit nie. Hoe kan hy dit aan my doen? Hierdie een gaan ek nie oorleef om vir my kinders te vertel nie. Dis nog ‘n hele uur voor ons in Rehoboth is.
Knyp, suster, knyp! Nou begin dit ‘n ernstige saak raak. Jy moet knyp soos nog nooit tevore nie.
Ek kan hom vra om te stop, ek weet. Maar asseblief, sien nou die prentjie soos ek hom sien: Net agter ons ry twee ander kollegas van ons ...
Ons stop. Ek trek als af en hang-sit op die agterste bumper. Die ander twee stop agter ons. Die prentjie wat hulle nou kry is ek met my mooiste pantie op my enkels. Nee, ek kan dit nie doen nie. Ek moet maar knyp, dis al genade.
Of miskien stop hulle nie saam met ons nie, redeneer ek. Miskien ry hulle eenvoudig verby as ons stop. Ja, dalk ry hulle verby. Maar! En dis nou vir hierdie ‘maar’ wat ek toe besluit om nie te vra dat ons stop nie. Ek hoor hoe vra die een na die tyd vir Sam: “En hoekom stop julle toe daar so tussen niks en nêrens?” En Sam antwoord: “Nee jong, toe wil die ou vra mos eers ‘gaan sit’.” Ek kan dit nie toelaat nie. Nee, niemand beskuldig my dat ek wou ‘gaan sit’ in die veld nie.
Opeens is daar beeste in die pad. Sam trap ernstig rem en ons ry stadiger tussen hulle deur. Ek kan my eie twee oë nie glo nie! Daardie koei staan en piepie oop en bloot in die pad. Ek wil ook ‘n koei wees! Asseblief, laat my ‘n koei wees, toe? In die verbygaan kyk ek en Koei mekaar in die oë. Ek kan sweer sy het ‘n vermakerige kyk op haar gesig. Ek haat koeie!
Nog ‘n voorstaandiens. Kan ek dalk hier gaan vra of ek kamer mag verlaat? Maar wat sal hulle van my dink? Ek sien al hoe lag hulle agteraf vir die ouvrou wat wil gaan piepie! Gelukkig trek hulle ons nie af nie en daar gaat ons!
Nog amper 100 km tot in Rehoboth. Sal ek dan nog lewe? Sal ek dit oorleef? Hoe doen ek dit? Ek wil nie weet hoe ver dit nog is nie. Ek wil nie, ek wil nie onthou nie. Ek sal net my tone kriewel ... maar wat as Sam sien ek kriewel my tone? Wat sal hy dink doen ek? Nee, moenie jou tone kriewel nie. Moenie dink nie. Druk jou knieë styf teen mekaar. Nee, netnou sien hy ek doen dit. Moenie jou knieë teen mekaar druk nie. Wag, laat ek ‘n game speel op my foon. Dit sal my aandag aftrek en die pad korter maak. Nee, hierdie blokkies ... nee jinne, hierdie geel blokkie ... dis die kleur van ... nee ek wil dit nie sien nie. Pienk blokkie ... nee, ek wil dit ook nie sien nie! Waaraan dink ek nou? Nee, wag, wag! Nee, kom ek kyk liewer na my whatsapp boodskappe. Hierdie een is ‘n versie oor die see met ‘n mooi prentjie ook nog. Nee, net nie die see nie, asseblief. Hierdie een is ‘n emmer vol water, nee! Wag, wag, wag! Ek kan nie daarna kyk  nie. Sit net af die foon. Ek sit die foon in my handsak en leun terug. Ek wil hom nie sien nie. Tjoklit! Dalk is daar ‘n tjoklit in die handsak ... of kougom? Ja, kougom sal werk. Nee, moenie kou nie. Die slim mense sê as jy kou skei jou liggaam meer vog af. Nee, nie nog water nie...my lyf is al te vol water. Sit regop. Druk jou lyf styf teen die sitplek. Maak die veiligheidsgordel ‘n bietjie losser – die ding klem my soos die kake van ‘n vlymskerp slagyster. Druk met jou kop teen die headrest ... druk lekker styf vas. Hoekom kry ek nou so warm? Ek sal die aircon stel dat die wind direk kop my waai. Hoekom sweet ek nou so? My kopvel is papnat gesweet. My voorkop is papnat. Nee, dis nie my oë wat traan nie, dis ... dis ... nee, dit kan nie wees nie!
Ons is nou nie meer ver van Rehoboth af nie. “Asseblief, stop net by die eerste motorhawe van die dorp,” probeer ek so natuurlik as moontlik vra. “Ja, ja, ek maak so. Ek sal stop.”
Kan die mense hier voor ons nie net ‘n klein bietjie vinniger ry nie? Hulle ry sowaar 110 in ‘n 120 sone. Hoe dom kan ‘n mens dan nou wees? Groot lorrie. Bus.
          Liewe hemel tog, nog ‘n stop by die polisie. Wat wil hulle hê van ons? My tone is in ‘n bondeltjie gekramp. My vingers is grys gedruk. Ek sit my hande onder my boude in. Knypers, julle moet knyp. Julle is oud, maar vandag moet julle knyp soos nog nooit tevore nie.
Daar voor ons is die eerste motorhawe. Ons gaan uiteindelik stop. Nee, daar jaag hy dan nou verby. Nee! Wanneer het hy in ‘n sadis verander? Die wrede, wrede man stop nie soos hy belowe het nie! Ek haat mans ... en ek haat koeie.
By die tweede motorhawe draai hy genadiglik af. Hy ry stadig na die petrolpompe toe, maar onthou toe ewe skielik dat ek nog laas wou kamer verlaat. “Ek laai jou sommer hier voor die toilet af. Is jy okay?”

Ek antwoord hom deur geklemde kake: “Ja. Ek. Is. Okay,” hink ek weg van die motor af.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...