DIE LEWE IS ‘N MARATHON
Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer besef
ek dat jy die lewe eintlik maar kan vergelyk met ‘n marathon. Ek wil dit nie te
hard noem nie, want jy sien, twee van my kinders is kranige marathon atlete en
‘n mens meng mos nie in waar jy nie hoort nie. Ek meen, wat weet ek nou eintlik
van ‘n marathon behalwe dit wat ek lees?
Vat dit nou maar so: ‘n marathon-atleet
pak daardie grote aan as ‘n persoonlike uitdaging – ‘n ‘kan-ek-dit-doen’ soort
van ding. Is dit nie maar dieselfde met enige ander groot uitdaging wat jy
aanpak nie? Dink nou net: Moeder wil self Sussa se trourok maak; Pa wil sy
sweismasjien inwy met ‘n hoenderhok vir Ma, of Boeta wil sy eerste draadkar
bou.
Ja, ek hoor die hardlopers mor kliphard:
Jy word nooit so moeg nie, jy hoef nie te oefen nie, jy dit, jy dat. Ek hoor
jou, man! Maar besef jy dat ons wat nie hardloop nie, ook moet ‘oefen’ en
vasbyt en wat nog alles. Ons hoef nie ons dieet dop te hou vir weke aaneen nie
(gelukkig tog nie!) maar ons het ander dinge wat ons moet, moet, moet doen.
Jy het alles vir die projek bymekaar. Jy het opgelees,
nagevors, planne en patrone geteken en die nodige gekoop. Alles is gereed en
jou hart klop in jou keel ... dis nou of nooit!
Ja, ja! Ek weet dit gaan moeilik wees, maar is dit
regtig nodig om snags te droom oor hoe ek die hele ding verfoes?
Een oggend staan ek op en ek weet: vandag is die dag.
Daar is nie meer tyd om uit te stel nie. Ma besef die tyd loop uit, want Sussa
trou oor twee weke. Pa hoor gister die eerste besending kuikens kom aan die
einde van die maand en Boeta het daardie einste dag ‘n draadkar-resies met sy
pelle.
Teen middagtyd kyk jy, hande op die heupe, na jou
poging vir die oggend. Jy knik tevrede. Namiddag sms jy jou vriendin en julle
gesels ‘trourok’ soos kenners van die kuns. Pa gee vir Oupa raad oor Ouma se
skewe hoenderhok.
Jy weet hierdie een moet klaar wees binne twee weke. Een aand sit jy en
maak somme – so nooit as te nimmer gaan jy dit haal nie! Hoe kon jy dit ooit
aanpak? Het jy jou kop verloor? In plaas van om te gaan slaap, sit en kou jy
naels. As jy nou net nie van gister af so gesukkel het met dit of dat nie, sou
jy al so ver of so ver gewees het. Okei, jy gaan nie betyds klaar wees nie,
maar jy sal hom klaarmaak, kom wat wil! Of sal jy?
Opeens weet jy glad nie of jy enigsins in staat is om aan te gaan nie. Jy
is te dom. Jy werk te stadig. Jy dit. Jy dat. Waarom het jy ooit hiermee begin?
Hoekom verwag die wêreld van ‘n mens om dinge te doen wat jy nie in staat is om
te doen nie? Wie presies dink hulle is jy? Jy is nie eens vaak nie, maar jy
gaan slaap – kwaad vir almal rondom jou ... almal wat dink jy het die wysheid
in pag. Dis so onregverdig!
Jy staan op en bars in trane uit. Goeie genade, jy is so moeg dat jy nie
asem kan haal nie. Jy is te moeg om op te staan ... en daai werk wat wag! Jy
sit die sit van ‘n verslae en oorwonne mens...!
En dan strike jy jou tweede asem.
Jy begin eers huiwerig, maar opeens lyk alles so maklik en logies. Hoekom het
jy ooit getwyfel aan jouself? Vir twee dae werk jy onverpoos. Jy dink nie meer
nie, jy doen net. Dit voel of jou kop iewers langs die pad verloor het, maar jy
werk en werk en werk. Jy wil nie meer dink nie, eintlik kan jy ook nie meer dink
nie, jy doen net wat voor jou is.
En dan! Jy is amper op die einde. Hoe het
jy hier gekom? Jy weet nie, maar jy traak ook nie. Jy sien die einde is in sig
en dis asof jy nog nooit moeg was nie.
Jy. Maak. Dit. Klaar!
Die trourok hang gestryk op die hanger.
Die hoenders is in die hoenderhok. Boeta wen sy eerste resies met sy draadkar.
Jou trots ken geen perke nie. Jy voel lus en bel die koerant vir ‘n onderhoud
met jou!
Sal jy weer? Ja, vir seker. En ‘n oomblik
later: nee, nooit weer nie.
Maar eintlik weet jy dat jy dit weer en
weer en weer sal doen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking