Donderdag 11 September 2025

“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"

 


“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by  my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom dit uit die kombuis uit.

Ons gaan foefie slide ry! Ek is eintlik uitasem van opgewondenheid, want ek ken dit glad nie. Asseblief, dit wat jy nou in jou kop het, is glad nie die ware Jakob nie. Dis nie daai van die Blyde rivier of Graskop nie. Ons is in die middel van die Namib Woestyn en foefie slide moet nog gebou word.

So is die sewe van ons daar weg om te gaan foefie slide. Op die bak van die Landy is ‘n rol bloudraad, ‘n tang, ‘n ysterpypie en eet- en drinkgoed. Die twee groter seuns sal die foefie slide bou en dan gaan ons feeste hê!

Toe dit tyd raak vir boomklim, sien ek nie kans nie. Ek was nog altyd bang vir hoogtes en ek weier om in die boom te klim. Maar tóg begeer ek om my hande om daardie ysterpyp te sit en af te gly tot doer by die volgende boom waar die draad geanker is. Ek verkyk my aan hoe maklik dit lyk: klim tot by die mik, vat die pyp vas, leun vorentoe en gly tot onder. Dit lyk nogal lekker, hoor.

Toe die res my dus aanpor, staan ek traag op en gaan staan onder die boom. My ouer suster klim voor my op tot by die mik waarop ons moet staan voor ons afgly. Sy roep en belowe sy sal daar staan tot ek by haar is.

Ek klim tak vir tak. Stadig. Sonder om grond toe te kyk. Ek weet as ek kyk, sal ek nie verder wil klim nie.

Uiteindelik staan ek langs haar. Ek het albei my hande om die pyp. “Toe, gaan nou!” por sy my aan. Ek haal diep asem ... ek weet dis nou of nooit. Die ander staan onder en kyk hoe ek vandag die hoogtes gaan uitdaag.

“Los net, dan gly jy,” hoor ek weer.

Ek (dom kind!) gee ‘n sprongetjie die lug in. Kap my kop teen ‘n tak bo my. Die geweld laat my my greep op die pypie verloor. Ek slet direk onder die boom op die grond neer. Ek sien die peule van die boom en die skaapmis hier en daar ... en kry my asem mettertyd terug.

Gaan ek ooit weer foefie slide? Ek dink nie so nie, my maat, ek dink nie so nie.

Het jy al foefie slide gery? Vertel vir ons, toe?


Dis lente en jy weet dit nie!

 

“Ek troetel hulle dan dood, man!”

Ek wil so graag so tussen die groen oorvloedigheid hier op my stoep sit en die vrede deur my binneste voel waai. Ek probeer regtig hard, maar nee!  Ek gesels met hulle, ek gee hulle al die liefde in my hart, ek gee water, voeding, wat als ... maar die uiteinde is altyd dieselfde – ‘n dooie verlatenheid in ‘n pot dooie sand.

Geliefde sal gou genoeg intree vir plant se kind: Kom ons gee hom nog ‘n kans, toe? Dan druk hy tak se kind in die water en wag en wag en wag ...

Dalk is dit my ongeduldigheid? Dalk nie?

En toe gebeur dit half so per ongeluk! Iemand struikel oor een van hierdie dofgroen geliefdes van my en die stomme plant breek tot in die rou lewe af. Ek wil huil! Hoe lank piep ek hom al op, en nou dit?

Maar! Wat sien ek ‘n dag of twee later? Die mooiste, groenste uitloopseltjies daar aan my half-oorgeblyde geliefde. Die blaartjies is so klein, jy moet amper raai of jy regtig daar ‘n groenigheidjie sien. Net daar word ‘n nuwe geliefde reg voor my oë gebore!

‘n Ander een is so van die pes, dis net dooie blare en takke. Toe ek dit op ‘n dag nie kan hou nie, begin ek takke afbreek en op ‘n hoop gooi. En? Doer onder teen die stam is weereens daardie kosbare lewetjie wat besig is om uit te loop.

Ek besef opeens – dis lente, Martha! Die plante weet dit, net jy moet dit nog sien en voel en beleef. Die nuwe lewe is besig om uit te loop en te begin groei. Hulle móét gestroop word van dit wat oud was sodat die nuwe lewe kan uitstoot van onder af. En net daar word elke geliefde op die werf so ‘n bietjie (eintlik báie) gesnoei.

My lyf dra ook die tekens van die winterseisoen: ’n rugwerwel wat eens gebreek het, ’n ruggraat wat skeef en pynlik draai, en herinneringe wat soos ryp op takke bly rus. Ek staan nie lank nie, loop stadig, en slaap in my stoel.

Dan kom die gedagtes soos spinnerakke en pes in die nag. Dit neem oor, maak dood, versmoor, verlep alles in die omtrek, vervuil en besoedel tot waar jy die einde nie kan sien nie. Gedagtes. Drome. Gedagtes en drome wat werklikheid word of voel. Ellendig, man! Ellendig!

en

ek

besef:

Maak skoon.

Maak dood.

Sny af.

Sleep weg.

Alles! Alles wat na winter lyk en ruik, moet uit buitentoe. Dit hoort nie in my kop nie. Dit hoort nie in my lyf nie.

Nou kan ek so tussen die groen oorvloedigheid hier op my stoep sit en die vrede deur my binneste voel waai. Want, jy sien, dis lente – ook in my hart.

Ek haal ‘n anonieme skrywer aan:

’n Enkel bossie staan stil in die sagte asem van oggend, sy bruin takke gestik met groen hoop. Voëls styg soos verdwaalde gedagtes in ’n lug wat met goud gewas is. Geen blom nie, geen trompetgeskal—net die stille belofte van word. Lente skree nie; sy fluister in spruite en vlerke, in lig wat bly hang, in grond wat onthou hoe om weer te begin. Elke blaartjie is ’n gedig, elke skadu ’n herinnering. Die wêreld draai stadig, soos ’n ou wals, en die natuur antwoord met geduld. Hier, in die stilte tussen seisoene, leer ons om te wag, om te glo, om te sien hoe die lewe weer kleur kry sonder om te vra.

Stadig, Martha, stadig!

 

Ag, ek het nou so lekker gelag en ek moet dit net eenvoudig met julle deel!

Na ‘n baie lang gesukkel spoor ons ‘n part vir ons motor in Windhoek op. Ek en my liefie praat nog van koerier en wat als, toe hoor ons maar nee, die part kom sommer vanaand saam met ‘n bussie Walvisbaai toe. Is dit nou goeie diens? Voorwaar, ja!

Die verkoopsman gee vir my die nommer van die bussie se bestuurder en ons is baie, baie in ons noppies met die verloop van sake.

Op ‘n stadium lui my foon, maar dis nie die nommer wat ek gekry het nie. Ek antwoord nogtans en dit is die bestuurder van die bussie. “I am in Okahandja.”

Ek wil nog gesels en mooi verduidelik van hoe hy nou iewers by ‘n vulstasie vir ons moet wag, maar die ou het nie lus vir my nie ...

Bid jou aan! Hy sê nie eers koebaai of iets nie. Die foon is sommer net dood.

Ek en my liefde wonder netnou waar die bussie nou is. Dit raak nou laterig en volgens ons somme moes hy al hier in Walvisbaai gewees het. Jy moet weet, daardie part wat hy bring het vir ons ‘n klompie sente uit die sak gejaag ... mos!

Ek bel. Die ou antwoord redelik bot. “I am in Swakopmund.”

Ek probeer om te vra hy moet tog asseblief by ‘n vulstasie stop sodat my man dit maklik kan kry.

Maar hoor hier! Kry ek sommer gou-gou op my bek! “Mem, I did not call you. I will call you when I come to Walvis Bay.”

Weer ‘n keer nie koebaai nie.

Ek sit die foon op die tafel neer en leun terug op my stoel. Ek en my man kyk vir mekaar en bars uit van die lag.

Dis oor hierdie soort van ding dat een van my kinders ook al op ‘n dag gesê het Ma moet net ophou organiseer, asseblief!

Het jy ook al so op jou bek gekry? Vertel my ‘seblief daarvan, dan lag ons saam daaroor.

TJANK JY OOK MAKLIK?


 Ken jy iemand wat maklik huil? Ek praat nie van huil omdat sy seer het of ‘n siekte het of iemand verloor het nie. Ek praat ook nie van wanneer daar die een of ander drama in die familie is nie. Nee, ek praat van sommer net huil – huil as iets baie mooi is, huil as iemand iets goed gedoen het, huil omdat iemand ander seer het, huil omdat hulle bang is, huil omdat hulle eensaam voel, of ... of ... of... Nee, hulle huil omdat huil huil is. Dis nou ek daai!

Nou kyk, ek kan jou baie stories vertel van my huilery. Van kleins af was dit vir my ma ‘n bron van groot ergernis. Die kind wat ewig vir niks nie aan die grens gaan! Baie male, nee, honderde male in my lewe moes ek hoor: “As jy iets wil hè om oor te grens, sal ek vir jou dit gee!” en daardie tyd brand die hand op my boud. Maar kyk hier, dán tjank ek riviere vol.

Natuurlik loop die trane nóg lekkerder die kere wanneer jy Martie Martelgat speel. Nou kyk, as jy jammer is vir jouself, stroom dit mos riviere vol oor die wange en hoe meer jy dit wil keer, hoe meer stroom die trane. En moenie dat iemand jou probeer troos nie, hoor. O aardetjie tog, dan moet jy kom staan en kyk hoe huil hierdie vrou vir haar blou in die gesig. By ons gebedsgroepie jare gelede het hulle gesê my trane loop mos nie soos ander mense s’n nie. Die een oomblik is als nog okei, en die volgende oomblik spuit dit behoorlik so vorentoe by my oë uit.

Nou kan jy my vra nou waaroor het ek so baie gehuil? Dis moeilik, maar ek sal jou probeer so hier en daar vertel.

Ag, jy weet mos: As iemand onverwags vir jou ‘n mooi geskenkie gee – jy ken tog daardie gevoel in jou hart by so ‘n onverwagse betoning van liefde, nie waar nie? Dan spat die trane myle ver, my ding, myle ver.

Of as jy iemand sien wat jy jare laas gesien het en baie gemis het. Of wanneer jy verjaar en almal wens geluk. Of mos op jou kind se troue! Of jy sien iemand met baie pyn. Of jy hoor hoe jou dierbaarste vriendin se man haar verneuk. Of ‘n ma wat haar baba in die asdrom gegooi het. Ag, noem op, ek sal tjank.

Die dag toe ek my finale onderwys-uitslae op die kennisgewingbord gaan kyk het, was so ‘n dag. My ouers het ‘n paar treë verder vir my by hulle motor staan en wag. Dit was ‘n deurmekaar gewoel soos almal gaan kyk het en dan natuurlik na hulle dierbares toe gestorm het. En ek? Ag hemeltjie tog! Ek kom soos ‘n kranke aangestap en ek tjank die bloed uit my lyf uit. Suster, ek huil nie, ek ween! Almal stuur my aan, maar ek traak nie, ek tjank! Een van die studente naby my ma het die moed gehad om dit uit te spreek wat almal aangeneem het: Sy het haar innige jammerte teenoor my ma uitgespreek dat ek dan gedruip het. My ma wat mos die storie van my geboortedag af ken, het gelag en haar verseker ek het nie gedruip nie, alles is in die haak.

En moet tog nie dat my kinders vir my kom kuier nie. Kyk, ek tjank al vandat ek hoor hulle wil kom kuier oor die feit dat as hulle klaar gekuier het, hulle weer vir lank weg moet ry. Ha? Is dit normaal? Vir my is dit deel van die lewe, jong.

‘n Dag wat ek gedink het ek hou nooit weer op met huil nie, was toe ons agter ‘n motor gery het en toe slaan dit hier reg voor ons om. Twee mans – die een ernstig beseer en die ander een is op die toneel oorlede met my pa by hom. Die twee was uit Suid-Afrika op pad en sou die volgende dag hulle vrouens in Windhoek op die lughawe gekry het. Kan jy jou die hartseer van daardie vrou indink? Ek kan nou nog nie daaraan dink sonder om emosioneel te voel nie.

En toe, op ‘n dag, gebeur daar ‘n wonderlike ding! My ma kuier by my en sy sit en kyk tv terwyl ek in die kombuis besig is. Sy kom staan opeens by my en vra ek moet haar in haar oë kyk.

“My kind, vergewe my vir elke keer dat ek met jou geraas het as jy huil. Vandag sê ek vir jou: Jy kan maar huil! Huil maar, my kind, Ma verstaan nou.”

Ek moes wag tot later om die skielike omwenteling te kan verstaan. Sy het ‘n na ‘n program gekyk oor mense wat baie empatie met ander gekyk. Iemand merk toe terloops op dat hierdie mense mos vreeslik maklik huil. Hulle voel die seer/leed/pyn/blydskap van ander aan en kan nie anders as om te deel daarin nie.

As jy nog die hele tyd lees, is jy dalk soos ek of jy ken iemand soos ek. Nou! Daar is ‘n klein stukkie raad vir ons, dis nou vir wat dit werd mag wees.

1.    Gee jouself toestemming om te voel. Jy hoef nie die trane weg te dwing nie. Jou empatie is deel van jou DNA – dit is wie jy is.

2.    Bou ‘n ‘emosionele filter’. Jy kan regtig nie die hele wêreld se ellende op jou skouers dra nie. Vra vir wysheid hoe om liefde te gee sonder om die swaar te help dra.

3.    Maak tyd vir stil word en heel word. Empatiese mense raak maklik oorweldig deur groot groepe mense en baie geraas. Kom eenkant. Raak stil. Raak sterk!

4.    Kry ‘n uitlaatklep. Skryf dit uit jou hart uit. Skilder. Sing. Doen wat jou laat ontspan en wat jou aan niks anders kan laat dink nie.

Op die foto wat ek aangeheg het, was ek weereens aan die tjank oor hoeveel keer ek nog so by my moeder sou kon lê. En sulke tyd het die ou handjie, sonder dat ons gepraat het, net so getik-tik-tik hier langs my kop.

“Kom nou, Ma se kind, kom nou,” is al wat sy dan sê.

“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"

  “Nou sê ek vandag vir julle, moenie by   my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom ...