Wat
ek nou besef, is dat jy nie vir die familie vra wat hulle weet van toentertyd
se dinge nie – daar kom stories uit waaroor jy jou hande saam kan slaan. Genadiglik
hoef nie een daarvan gesensor te word nie!
Neef
Tielman vertel my oor sy ouers se ontmoeting en daarna. Ou Tilla (dis nou neef
Tielman se pa) was verloof aan ‘n ene nooi Mavis. Ek kan my indink dat sy
pragtig moes wees, want die Van Lill-manne hou van die meisies mooi en met
heelwat kurwes op die regte plekke. Ouboet Jacob (vir ons is hy sommer Koppie)
gaan kuier in Jeffreysbaai en ontmoet daar vir Miesie. Hy besluit dat ou Tilla
die verkeerde meisie op sleeptou het en beveel vir Miesie om haar koffers te
pak en saam te kom Suidwes toe – hy het die regte man vir haar.
Miesie
is nie links nie en klim die kar terug Suidwes toe. Die uiteinde van die storie
is Mavis met ‘n gebreekte hart en ou Tilla en Miesie haak af. Na die troue ry
die nuwe egpaar plaas toe in ou Tilla se groot bakkie. Hy stop en klim uit,
maar hy sien nie dat sy verliefde bruidjie sommer agter hom wil uitklim nie. Hy
slaan die bakkie se deur toe en ... Miesie se vinger sit in die toe deur vas. Van
honeymoon was daar daardie nag nie veel nie, want die vinger het so
gepyn dat sy heelnag met hom in die lug gelê het.
Oupa
en Ouma van Lill kom van kindsbeen af saam. Die twee plaashuise waarin hulle
gewoon het, was letterlik geskei deur ‘n rivierloop. Die grootmense het gesien
dat hierdie twee darem te danig is met mekaar en Ouma se ouers besluit om ‘n
plan te maak. Nou, hoor vir my, hierdie plan was gewigtig! Van die plaas af
moes sy per ossewa Walvisbaai toe ry. As my somme reg is, moet dit byna 400
kilometers. Vir ons is dit mos niks nie, maar dink jou nou in om dit per ossewa
af te lê.
In
Walvisbaai is sy op ‘n boot gesit Port Nolloth toe. Daarvandaan was dit weer ‘n
keer die ossewa Mesklip toe. Nou vertel ek vir jou vandag dat ek in my lewe nog
nooit gehoor het van so ‘n plek nie. Waar sou haar ouers daaraan kom?
Ek
reken Oupa en Ouma Esterhuizen was baie desperaat om hulle dogter uit die Van Lill-jongetjie
se hande uit te hou.
Dit
het egter toe glad nie die gewenste uitwerking gehad nie. Toe ouma Martha klaar
is met skool, is dit reguit in Jacob se wagtende hande!
Wat
baie min van ons weet, is ietsie baie persoonlik wat ouma Martha later jare met
‘n niggie van my gedeel het. Haar en Jacob se huweliksnag moes hulle voor haar
ouers se bed slaap! Kan jy nou meer. Hoekom? G’n mens weet nie en Ouma is al
lank heen, dus kan ons haar ook nie vra nie. Ouma het met ‘n stout glimlaggie
vertel hoe sy die hele na moes sukkel om Jacob se soekende hande van haar lyf
af te hou.
Hierop
kan ek maar net sê: Arme Ouma! Dit kon nie ‘n maklike takie gewees het nie,
voorwaar.
Aan
moederskant is daar ook ‘n storie wat jou na jou asem kan laat snak. Ouma Lida moes
iewers heen en die enigste een met ‘n motor was Lourens Fouche. Hulle het
mekaar beswaarlik geken, maar haar ouers het uit desperaatheid ingestem dat sy
saam met hom ry. Soos die noodlot dit wou hê, breek die kar toe tussen êrens en
nêrens en daar sit die twee! Die son het gesak en die nag het op die twee
vreemdelinge neergedaal. Hoe hulle uiteindelik geholpe geraak het die volgende
dag, weet ek nie vandag meer nie.
Die
ding is net dat Ouma sowaar die nag met ‘n man spandeer het! Skande op die
familie! Haar ouers het besluit die enigste manier om haar naam te red, sou
wees om met Lourens te trou. Ek wil nie weet wat alles daar gesê is nie, maar
sy het geen ander keuse gehad nie. Alida is toe met Lourens getrou en hulle het
baie, baie goeie jare saam gehad.
My
ouers het ook ‘n storietjie gehad om te vertel. Die mooie nooi, Aggie, was
verloof aan ‘n ene Faan. Hulle huweliksdatum was nie meer so ver nie, maar Faan
sou vir ‘n tyd lank nie in die dorp wees nie. Hy vra toe sy goeie vriend,
Attie, om tog maar ‘n ogie te gooi oor sy Aggie. Terloops, Attie sou ook die
strooijonker wees!
Attie
het sy plig baie ernstig opgeneem en het regtig mooi na die ou meisietjie
gekyk. Ek verbeel my hulle was per geleentheid saam na ‘n dans toe ook ...
alles baie vriendskaplik, sien. Alles sou seker goed afgeloop het, maar ‘n mens
kry mos soms vriende wat nie dink voor hulle praat nie.
So
vra die vriend vir Attie: “So, jy gaan die strooijonker op die troue wees? Nou
hoekom is jy nie sommer die bruidegom nie?”
Nou
kyk, as jy hom geken het soos ek hom geken het, sal jy weet dat Attie nie ‘n
bang haar op sy kop het nie en ook nooit vir ‘n uitdaging gestuit het nie. Net
daar verander hy van strategie en sleep vlerk dat dit ‘n naarheid is.
Aggie,
daarenteen, het eers glad nie van hierdie jong bankklerkie gehou nie. Sy het
gedink hy is net ‘n bietjie te windmakerig na haar sin. Dit het hom egter nie
afgeskrik nie en ons weet mos teen hierdie tyd dat aanhouer (gewoonlik) wen.
Sy
het snags op die sentrale gewerk. Daardie tyd was die sentrale deel van die
poskantoor en sy was dus naglank daar om haar werk te doen. Dit is waar Faan
haar toe een aand gaan besoek. Faan, totaal en al onbewus van wat aan die gang
was terwyl hy nie in die dorp was nie, gaan met groot opgewondenheid om sy
verloofde te groet.
Dis
toe dat hy hom vasloop in Aggie met die verloofring in die hand. “Nee, Faan, ek
kan nie met jou trou nie.”
Al
wat Moederlief kon onthou van sy reaksie, is dat hy die ring in daardie
kamertjie gegooi het dat hy so hop-hop op die vloer.
Arme
Faan!
Gelukkige
Attie!
Nou
wie sê dat daar nie meer gelukkige eindes in moeilike stories kan wees nie?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking