Of
ek bygelowig is? Nee, hoekom vra jy? Ek het nou wel ‘n ding oor ‘n paar
goedjies, maar ek kan nou nie eintlik sê dat ek bygelowig is nie.
Ek
glo jy stem saam met my as ek sê dis baie, baie ongelukkig as die sout in jou
huis op raak. Ja, ek sweer ek maak nie daardie aand kos as ek die laaste
teelepel sout in die vleis moet gooi nie. Ha-a, daai aand eet ek en my liefie
brood, maar die laaste sout sal nie gebruik word nie.
En
as my spieël breek? O, my aardetjie tog! Onthou jy die gediggie wat ons in die
skool geleer het? Martha het haar spieël gebreek en Martha is so naar. Nou
gaan sy ongelukkig wees vir bykans sewe jaar. Ek hoef nie verder uit te
brei nie, ha? Moeilikheid is jou voorland, my maat!
Wat
my laat dink aan die dag wat ek my pa se skeerspieël gebreek het, maar dis ‘n storie
vir ‘n ander dag. Ai, wat ‘n seën is dit om te kan onthou, dink jy nie ook so
nie?
In
elk geval, ek is alweer besig om myself in die rede te val ... kan mos nooit ‘n
storie vertel en klaar kry daarmee nie. Ek wou jou eintlik vertel van my
dertiende verjaardag.
Hmmm,
da gaat ons alweer! Dertiende verjaardag, sê jy? Glo jy dat dertien ‘n
ongelukkige getal is? Ek dink nogal nie so nie, dis net dat my dertiende
verjaardag so ‘n bietjie van ‘n ramp was.
Die
hele familie is in Windhoek vir die troue van ons ‘groot’ niggie. Jong, dis ‘n
storie en ‘n half. Vroeg Saterdagoggend is almal haarkapper toe. Ja, hierdie
dogtertjie van amper dertien se hare word ook getease en bygekom met die
spray. Die kapsel is so hard, g’n niks sal hom kan versteur of van my
kop af breek voordat ons klaar gekerk en getrou het nie. Maar ons het mos in
daardie dae geglo jy sit nie jou voete by die kerk se hekkie in as jy nie ‘n hoed op jou kop het nie. Nou hoekom is die
hare so styf en kliphard die lug in gestuur as die hoed moet op die kop? Vra jy
my! Soos my kind altyd sê: “Nee, sê jy maar, netnou sê ek verkeerd.”
Die
onthaal was laat namiddag klaar en ons sou nog terug ry Maltahöhe toe. Maar ken
jy hoërskool kinders? Lida (my ousus) en Koeks (my niggie) wil asseblief
vanaand eers nog gaan fliek. Hulle wil Hawaii gaan kyk. Ek kla nie, ek
is tog te bly ons kan ‘n slaggie moevies toe gaan. Al wat my toe pla, is
toe ek daardie hoed van my kop af breek, is die hare soos ‘n verskrompelde
piramide vasgemessel op my kop. Ek kan nie onthou wat ek gedoen het om beter te
lyk nie, maar ons is moevies toe saam met my pa.
Hier
moet ek my storie eers onderbreek. Ek weet nie van jou nie, maar ons is geleer
dat jy sekere klere na sekere plekke toe aantrek. As koshuiskind was daar mos
nie baie nie, maar jy het geweet: hierdie een trek jy Kinderkrans toe aan,
hierdie een trek jy kerk toe aan as Ma en Pa vir die kerknaweek in die dorp is
en so het elke rokkie sy doel gehad.
Toe
ek hierdie Sondag opstaan in Windhoek, traak ek vir ‘n oomblik g’n niks oor wat
Ma gaan sê nie en ek trek my Kinderkrans romp en trui aan. Vreemd genoeg het Ma
geen kommentaar daaroor gelewer nie. Dalkies wou sy nie met die kind raas op
haar dertiende verjaardag nie? Ag, vandag maak dit mos ook nie meer saak nie.
Nou
moet eers verduidelik wie is ons almal wat die dag die pad terug vat. Lida en Koeks
was toe in Mariental in die hoërskool en ek en Belia (my sus) in Maltahöhe. My pa
en oom Andy, Koeks se pa, het beurte gemaak om die ‘groot’ kinders Mariental
toe te vat na ‘n uitnaweek. Hierdie keer was dit oom Andy se beurt om Mariental
toe te ry, maar hy het ‘n hartprobleem gehad en het daardie dag glad nie goed
gevoel nie. Die pad Mariental toe en daarna nog Maltahöhe toe, was net
eenvoudig te veel vir hom.
Ons
stop op Kalkrand. Ou Andy is regtig nie lekker nie, hoor. Daar word toe besluit
my pa en tannie Leentjie sal met Lida en Koeks Mariental toe ry met ou Andy se
Holden. My ma, ek, Belia en ou Andy is in Pa se Ford-bakkie op pad Maltahöhe
toe. As jy op die kaart kyk, sien jy die pad van Kalkrand af Maltahöhe toe word
nie eens aangedui nie. Dit was ‘n grondpad, maar gewoonlik in ‘n baie goeie
toestand.
Nou
moet jy asseblief net weet hoe dit toe voor in die Ford lyk. My ma het haar
lewe lank die gewoonte gehad om die hele spasie by haar voete vol te pak. Waar sy
haar voetjies gesit het, weet g’n mens nie. Ons was mos in Windhoek by die
winkels en daar was onder andere ‘n klomp geelwortels en wat nog als. Moenie my
nou vra nie, ek weet net dit was ‘n
pakkasie daar by die voete. Onse oom Andy moes toe maar sy trap daar tussen als
kry toe hy op Kalkrand by ons kom inklim.
Die
pad is stil en ons ry dat ons anderkant kan kom. My ma is ‘n versigtige
bestuurder en het nooit die spoedgrens oorskrei nie, maar daardie dag is daar
nie tyd vir hana-hana nie. Ek het ‘n slag of twee gekyk, maar sy het sowaar nie
te vinnig gery nie, glo my maar.
Ek
sit en blaai in ‘n Huisgenoot. Ma het hom nooit gekoop nie, maar hierdie een
het op een of ander manier by ons beland.
Skielik
is Ma op die briek, maar die Ford het sy loop gekry en ons is op ‘n skerp
hoogte en van stadiger is daar geen sprake nie. Die pad is vol perde en die
outjie wat na hulle moet kyk, is doer onder iewers besig met sy eie dinge. Jy
sien, die pad is hoog opgevul sodat daar so ‘n bietjie van ‘n klein afgrond is
na waar die mannetjie ronddwaal.
Ma
mik hier en mik daar, maar Ford gly op die los grondpad. Van stop is daar
hoegenaamd geen sprake nie. Die perde maak so ‘n bietjie pad vir ons, maar een
steeks een besluit dit werk nie vir hom nie. Sien hy sowaar kans vir die Ford! Dis
met ‘n aaklige slag wat ons hom tref. Die enjinkap vlieg oop en is skielik hier
teen die voorruit.
Skielik
is als stil. Grafstil! Vir ‘n lang oomblik sit ons daar. En toe ... stadig, stadig,
stadig begin Ford se kind na links oorhel. Dit kraak en raas. Ek kan nie onthou
dat een van ons ‘n geluid gemaak het nie. Dit was net die Ford wat murmureer
het oor hierdie skuinsneukery die afgrond af.
En
daar rol ons om en om tot onder. En toe
weer hierdie onaardse stilte.
Ons
is almal uit en gaan sit ‘n endjie weg van Pa se stukkende Ford af. Ma is uit
haar skoene uit en stuur my om dit te gaan soek in die kar. Jare later het sy
erken dit was ‘n poging om my asseblief te laat ophou huil. Ja, die vrou kan
mos oor als tjank, man. Op daardie stadium was dit uit jammerte vir Pa oor sy
kar nou min of meer in sy maai was ... en vir Ma wat seker nou raas gaan kry by
Pa.
Nou
moet ek jou vra, het jy al ooit in ‘n omgekeerde kar probeer soek na skoene?
Die dashboard is onderstebo, onthou. Al wat ek kon sien, was (soos dit
vir my gelyk het) honderde wortels, maar geen skoene van enige aard nie. Waar
Ma haar skoene gekry het, weet ek nie meer nie. Ek weet net ek kon dit sowaar
nie kry nie.
En
daar sit ons in die sand en wag vir ‘n geleentheid Maltahöhe toe. Liewe oom
Andy het kort-kort ‘n hartpilletjie onder die tong gedruk en Ma het heeltyd
gepleit: “Ou Andy, moet tog net nie nou doodgaan nie, my broer.”
Ma
sit opeens regop en kyk na my. “Ja, dit het jy nou daarvan om jou goeie klere
vandag te wil aantrek. Kyk hoe lyk jy nou!”
Nou vra jy my hoe voel ek oor die dertiende van die maand? “Nee, sê jy maar, netnou sê ek verkeerd.”
Nou vra jy my hoe voel ek oor die dertiende van die maand? “Nee, sê jy maar, netnou sê ek verkeerd.”
Stomme stomme my moedertjie! Druk jou tog! Ek onthou jyt vertel jyt al snikkende vir ouma jou skoentjies aangebied toe jy nie hare kry nie. Ai siestog xxxxxxxx
AntwoordVee uit