Saterdag 13 April 2019

WIL JY DANS, KARINA

Tog snaaks dat jy ‘n lied ‘n honderd maal op die radio kan hoor en dit het totaal en al geen invloed op jou nie. Tot op ‘n dag. Tot op ‘n bepaalde, onverwagse oomblik! Ai, dan kom sny hy mos dieper as waar bloed kan vloei. Dis ‘n vuurwit vlam wat in jou hart en siel kom brand en jy het geen ander keuse as om toe te gee aan die herinneringe wat dit bring nie. Dit pyn, hoor, maar jy beleef elke kosbare oomblik van jare gelede.

Die ou tweetjies was vyftig jaar getroud. Eintlik vyftig jaar en nog ‘n bietjie, dink ek. Ek dink as jy so lank getroud is, word jou hart later syne en sy hart joune. Julle dink en praat en voel dieselfde dinge.

En toe word hy siek. Siek soos in ... doodgaan. Weggaan. Weg van sy Aster af. Die hartseer om die tweetjies te sien afskeid neem het my hart gebreek. Natuurlik het elkeen dit op sy eie manier gedoen.

Sy het aan die werk gegaan. Dit was maar altyd so – as die emosies te veel raak, kry sy iets om haar mee besig te hou. Dit was vir haar ‘n uitlaatklep en ‘n manier om die seer op die agtergrond te sit.

Hy weer, het stiller en stiller geraak. In onbewaakte oomblikke kon ek die seer sien. Dit was nie vir hom maklik om haar te los nie, hoor.

Ons drie sit aan die etenstafel en gesels vrolik. Vir daardie kort tydjie dink ons nie aan die dinge wat voor die deur lê nie. Ons geniet mekaar se nabyheid en ek koester die samesyn in my hart. Ek gaar die skatte in my hart op om dit later (soos ek vanaand onwillekeurig gedoen het) uit te haal en af te stof en weer te kan beleef.

Die radio speel op die agtergrond, maar nie een van ons luister eintlik daarna nie. Tot daardie lied begin speel ... die lied wat vanaand weer my hart laat bloei het.

Sy staan haastig op en sit die radio harder. “Wil jy dans, Karina” vul die hele vertrek. Hy sit met sy rug na die radio toe, dus sien hy nie dat sy opeens klein en verwese in die middel van die vloer staan nie. Hy sien ook nie die hartseer lyfie nie. Hy sien nie die trane nie.

Ek tik liggies op sy hand en wys vir hom. Ai!


Hy staan op en stap na haar toe. Sonder ‘n woord vou hy haar styf in sy arms toe. Hulle skuifel-skuifel op een plek. Ja, met haar kop teen sy bors dans hulle die heel laaste dans wat hulle ooit sou dans.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OU AAND SE DINKDINGE: EK IS DOM ...

  So ‘n week of twee was dit weer dáárdie tyd van die jaar: Rapporte kom van die skool af huis toe ... My seun stuur sy dogtertjie se rappor...