Donderdag 29 Mei 2025

WANT IETS HET GEBEUR!

 

Nee, kyk, nou is dit tyd dat ek ‘n slag uitkom met die waarheid. My kop is so vol los drade en gedagtes ... gedagtes wat net meer en meer word en oral kleintjies kry.

Is jy ook soos ek? Dis nou veral deesdae wat die jare op die gesig en die lyf begin wys. Ek borsel my tande soggens en sien myself in die spieël. Die een dag kan ek nogal vir myself glimlag en opmerk dat ons darem nog nie só verweer lyk nie. Maar net die volgende dag! O genadetjie tog!

Maar kom ons los nou maar daardie gedeelte uit. Dit is glad nie my bedoeling of begeerte dat ons op mekaar se skouers ween oor die verganklikheid van die lewe nie. Daarvoor is daar nog altyd genoeg tyd, reken ek.

Die spreekwoord lui dat jou keuses jou toekoms bepaal. Of dan, overgesetsynde, dit bepaal die gang van jou lewe ... wie en wat jy is en gaan word.

Net nou die anderdag lees ek dat elkeen van ons geskape is met ‘n spesifieke doel. Jy is gebore met ‘n gawe wat jy moet uitleef. En, reken die persoon, as jy dit nie uitleef nie, sal daardie ding jou haunt tot aan die einde van jou dae.

Sjoe!

Ek kyk terug: Laerskool. Hoërskool. Kollege. Alles loop maar soos dit moet loop, sonder dat ek ooit iewers hierdie groot dringende klop aan my hart gekry het dat ek sonder twyfel dit of dat met my lewe moes maak. Trou. Begin ‘n gesin. Die lewe loop met ‘n mens en niks buitengewoons word gebore nie.

Wat my laat wonder: Is ek toe sonder so ‘n besondere gawe gebore of het ek dit bloot doodgeleef?

Maar hoe sê hulle nou weer? ‘n Mens mis nie ‘n ding voordat jy dit nie meer het nie. En sowaar, dit is nou een waarheid waaroor niemand kan redeneer nie. Ek het glad nie besef wat ek het voordat dit nou besig is om soos sand deur my vingers te glip nie.

Ek begin voor:

WANNEER GEHEUE BEGIN GLIP ...

My naam is Martha, en tot nie te lank gelede nie was ek ’n ywerige blogger. Ek was altyd opgewonde wanneer ek ‘n idee vir ‘n blog gekry het. Ek moes dit dadelik skryf en my gedagtes vaspen voordat hulle kans het om te verdamp. Dit voel soos om by ‘n bekende vriendin te sit en jy moet nou dadelik vir haar alles vertel.

Ek het vertel, geskryf, gedeel – soos ’n mens maar doen as jy die lewe wil verstaan en onthou deur dit op papier vas te lê.

Ek het my skrywery nie as iets besonders beskou nie. Want jy sien, jy hardloop dalk marathons, die ander een doen naaldwerk, en ek skryf ... geen verskil nie!

Twee jaar gelede het ek en my man, Wolfgang, aan die kus kom woon. Net ons twee, onafhanklik en vry, met die see wat in die verte sug soos 'n kalm ou vriendin. Ons dae en weke bestaan uit klein goedjies: ek doen soms decoupage, kleur in, hekel 'n spul onnodige nonsies goedjies (maar dis mos die geselskap wat tel), en ek probeer deesdae stadigaan om weer te skryf. (Hierdie stukkie skryfwerk het my ongeveer tien dae geneem, maar ek dink ons moet hom nou in die oopte daar op die muur gaan plak vir almal om te lees.)

WANT IETS HET GEBEUR ...

Twee kere ICU. Twee kere sepsis. Twee keer deur die skerp rand van die lewe gesny en tog teruggekeer. Dis nie iets wat mens net so agterlaat nie. En die nagevolge het bly klou soos ‘n haak-en-steek-bos se dorings aan jou mooi rok: veral die gevolge daarvan wat my my geheue en konsentrasie betref.

Ek begin dikwels iets doen – soos om my medisyne te neem – en 'n paar minute later gaan ek terug, hand op die pilhouer, en wonder: Het ek dit nou geneem, of dink ek ek het? Dis nou nie eintlik ‘n grap nie, want ‘n mens wil mos nie jouself bedwelm met te veel van ‘n ding nie. Ek stel die alarm, ek tel die pille uit, ek doen alles moontlik om dit reg te kry, maar telkens is daar saans nog ‘n ekstra pil of twee wat toe nooit gedrink is nie.

Dis snaaks en tragies tegelyk.

Ek sukkel ook met die klein goedjies: resepte is soos raaisels. Ek lees die instruksies, draai om om die meel te kry, en moet dan drie keer teruggaan om seker te maak ek het reg gelees. Gelukkig bak ek nie meer gereeld nie, anders weet ek nie hoeveel skade sou ek myself al aangedoen het nie.

Dis daardie klein sprongetjies van aandag wat my laat voel of ek in 'n ander ritme leef as die res van die wêreld.

Lees is ook ’n stryd. Ek sien die woorde, ek verstaan dit terwyl ek lees, en dan – tjoeps! – weg. Ek sal soms drie keer dieselfde paragraaf lees en tog bly dit soos 'n stukkie seep wat uit my hand glip. Ek het begin om hardop vir myself te lees – asof ek 'n storie vir ’n kind voorlees, net met ek as luisteraar en verteller gelyk.

My rug is nie meer wat dit was nie. Die kussinkies tussen my werwels daar onderlangs het lankal gegroet. Ek kan nie meer lank staan of loop nie. Ek moet lê, dan staan, dan weer sit ...

Maar hier’s die ding: ek’s nog hier. En ek’s nog ek, al voel dit soms of die “ek” bietjie los in my sit.

Ek het begin leer dat dit nie noodwendig die groot goed is wat jou menswees uitmaak nie, maar die klein aanhoudende gewoontetjies. ’n Gekleurde blommetjie op ’n gehekelde uil se kop. ’n Mooi bak slaai. Die geur van ‘n ribbetjie op die vuur. Ek en Wolfgang lag nog. Ons gesels nog. Ons geniet mekaar nog. Ons lewe nog!

Ons lewe is rustiger, stadiger, meer bewus. Ek skryf nie meer lang blogposts nie – maar ek hou my foon byderhand en daarop skryf ek gedagtes neer, een op ’n slag. Sommige is net sinnetjies, ander is flenters van herinneringe. Dit hoef nie perfek te wees nie. Dis myne.

Ek leer ook dat ek mág verander. Ek mág vergeet. Maar ek is steeds Martha. Ek is steeds lief vir woorde, vir mense, vir die see en vir my man. Ek is iemand wat geleef het, so effens suffer, en steeds leef.

En dalk, een van die dae, sal ek weer ’n storie skryf wat volledig is. Of dalk net een wat met liefde gebreek is – soos ’n stukkie porselein met goud in die krake.

Maandag 12 Mei 2025

Die pil is weg!

 


Ek is seker jy het dit ook al ervaar dat ten spyte van, of te midde van ‘n groot krisis, gebeur iets waaroor jy jou agterna dood kan lag. Op daardie oomblik is dit dalk glad nie snaaks nie, maar as die stof gaan lê het, sien jy die aardigheid daarin.

Augustus 2024 beland ek in Windhoek in die ICU met ‘n bug wat my deur ‘n tand binnegedring het en groot moeilikheid maak. En so wrintiewaar! Einde Februarie, begin Maart hierdie jaar, is daar weer ‘n skarminkel wat die longblasies aanval!

Ek is siek. Ek is ellendig siek, hoor. Hondsiek! Tot so ‘n mate dat ek heeltemal deurmekaar is by tye. (Ken jy vir delirium? Dis nou hy daai!) Die dokter glo dit is my kroniese medikasie wat my so deurmekaar maak en hulle cold turkey my -  nie ‘n enkele pil sal ek drink in hierdie plek nie, is die uitspraak.

Ek is baie deurmekaar, maar nie so erg dat ek nie dadelik besef dat ek ‘n groot probleem het nie. As jy weet van rustelose bene, sal jy ook weet dat jy daardie pilletjies saans moet sluk, anders slaap jy nooit daardie nag nie.

Maar moenie dink die dokter luister na my nie! Hy dreig my: “As ek dit vir jou gee en hier kom moeilikheid, is dit op jou, nie op my nie!”

Ek skrik vir die ou se houding en laat vaar my pleidooi ... met die besef dat daar ‘n paar slapelose nagte voor my lê, natuurlik.

My geliefde is eers huis toe met die belofte om later weer te kom kuier.

Opeens het ek ‘n pilletjie in my hand. Ja, jy het reg geraai! Dis een van dáárdie pilletjies! Opgewonde probeer ek dit in die ander hand sit, maar ek is so onhandig! My vingers bewe so dat ek dit laat val.

Nou besef ek, Martha, jy is in groot moeilikheid! As hulle vanaand vir jou vang met hierdie pil, is daar oorlog. Ek probeer versigtig so oor my borskas voel, maar ek kry hom nie. Die drip is in een arm en die monitor aan die ander hand – beweeg ek, gaan alles rondom my aan die skree.

Ek probeer langs die bed op die vloer kyk, maar kan nie daar sien nie. Dan voel-voel ek weer ooral op die bed rond ... sonder enige sukses. Oor en oor en oor voel ek en soek ek na daardie pil.

My man kom later en ek order hom om vir pilletjie te soek. Kan jy my glo, hy doen regtig nie eens ‘n ou bietjie moeite nie. Hy sit net daar en kyk vir my.

Opeens onthou ek waar die pilletjie is! Ek gryp my selfoon en kondig trots aan: “Ek weet waar hy is. Ek het hom hier agter by die foon gebêre.” Met groot bravade maak ek dit oop ... en daar’s niks!

Shit!

Toe Wolf weg is, ontdek ek by hernuwing ‘n plek waar die pil is. Om my een vinger is ‘n pleister met die rooi liggie van die monitor. Ek voel-voel so met my tong en ek besef die pil is sowaar binne-in hierdie pleister! Hoe kon ek dit nie geweet het nie?


Ek begin eers versigtig en toe harder en harder aan hierdie pleister byt en trek met my tande. As hulle daai pil hier kry vanaand ...!

Toe die verpleegster weer by my kom, hang die pleister nog aan so ‘n hoekie aan my vinger. Ek wys vir haar die pleister is stukkend, want ek het hom so gebyt.

“Hoe kan jy dit doen?” raas sy. “Jy weet mos dit is die hospitaal se eiendom!” En sy draai ‘n nuwe pleister om my vinger, sónder om die pil te kry!

Toe ek beter en terug by die huis is, wil ek by Wolf weet wat het daardie aand van my pil geword. Hy antwoord my nie. Hy kyk net so half afwesig na my kant toe.

‘n Paar oomblikke se stilte hang tussen ons.

“Pa, wás daar ooit ‘n pil?”

“Nee, my vrou, daar was nooit ‘n pil nie.”

Vrydag 09 Mei 2025

SONDAG IS 'N HEILIGE DAG, MY KIND


 So kuier ons by Oupa en Ouma vir die aand. Dis nou my ouers en ek en my twee susters en ‘n klomp tannies en ooms met hulle kinders. Dit gaan vrolik, al is dit Sondagaand. Die grootmense gesels en lag en kuier baie gesellig, terwyl ons klomp niggies in die sitkamer skinder en giggel (wat anders?)

Ons groot niggie is ook daar. Sy het in Suid Afrika studeer en is nou regtig wêreldwys. Sy sit ‘n seven single op die platespeler en vra ons moet almal in ‘n kring op die mat kom staan.  

“Ek wil vir julle leer BIRD,” verduidelik sy opgewonde.

(As jy so oud of ouer as ek is, het jy dalk ‘n vae idee wat hierdie Bird nou eintlik is. Jy staan teenoor jou dansmaat met elkeen een van julle voete voor julle. Daardie voet is gepunt en jy raak net so met die toon aan die vloer terwyl die hak ritmies op en af. Dis nou hierdie voetjie wat die ritme hou en die lyf wikkel saam. Met jou hande doen jy allerhande dinge – jy maak of jy visvang, of jy met ‘n verkyker vir wie ookal kyk ... ag, eintlik enige lawwe ding. Intussen wip die voetjie so op die toon en lyfie wikkel saam.)

“Wat is bird?” wil een weet.

“Man, dis ‘n soort dans. Kom net, dan wys ek julle. Dit is nogal maklik en dis baie lekker.”

Toe ek hoor dis dans, gaan sit ek weer op my stoel. Ek het nog nooit daarvan gehou om te dans dat ander mense vir my kyk nie. Ek glo ek kan nie dans nie en almal sal vir my lag. Maar nee! Hulle wil niks daarvan hoor dat ek nie ook kom bird nie.

Het ek maar liewer daar bly sit!

Hoe later, hoe kwater. Die platespeler word harder en harder gedraai en dieselfde lied word oor en oor gespeel. Ons bird dat hoor en sien vergaan. Die een wil snaakser wees as die ander.

Oupa sit al reg met die Bybel toe die grootmense ons kom roep. My pa vra onderlangs wat het ons gedoen en ek antwoord hom giggelend: “Ons het gebird, Pappa.”

Ons is terug plaas toe en het salig gaan slaap. Maandagoggend was ‘n ander oggend. Net na ontbyt roep my pa ons drie kamer toe.

Ek weet, hier kom nou groot moeilikheid. Sondag is nie ‘n dag vir goetertjies nie. Ons weet dit baie goed. Jy was nie jou hare nie ... jy swem nie ... jy brei nie ... jy werk nie ‘n af knoop aan nie ... jy polish nie jou skoene nie en so voor die wragtag sal jy ook nie dans nie!

Hy begin by die oudste: “Wat het julle gisteraand gedoen?”

Voor sy nog lekker kan antwoord, lê sy oor sy skoot en val die plathandhoue. Dieselfde gebeur met my. Die kleintjie het nie gedans nie, maar sy was saam met ons daar in die sitkamer.

“Wat het jou susters gisteraand gedoen?” vra hy streng.

“Ek weet nie, Pappa,” antwoord sy beangs.

“En dan jok jy ook nog vir my!” Hy trek haar oor sy skoot en die plathand doen sy werk.

Hierdie pak slae van my pa was een van net twee wat ek in my lewe by hom gekry het. Maar ek belowe jou, op ‘n Sondag dans ek nooit weer nie. Of dit nou bird, of twist of wals of die riel is, jy sal my nie weer daarmee betrap nie.

DIE TROU-MOVIE

Ek weet nie waarom ek julle nie laaaaankal hierdie lekker storie vertel het nie. Ek moet net verskoning maak dat ek ongelukkig nie eens een ...