Dis
seker maar deel van grootword, want deesdae bly my kop maar neig na vergange se
dae. As ek my kom kry, is ek weer veertig/vyftig jaar in die verlede aan die
delf. Ek hoor nou my oudste: “Maaaa!” en ek kry lekker lag so by myselwers. Ja,
ek weet, ek het al te veel kere dieselfde ou storietjies oor en oor vertel.
Maar
een ding wat ek nog net met een of twee mense gedeel het, is my kleintyd-begeerte
om tog ook oor die radio te kan praat. Man, dit was nie net ‘n droom nie, dit
was ‘n obsessie by my. Dag en nag het hierdie idee by my gespook om ook so te
kan vertel en lag en selfs sing op die radio soos ander mense. Ek meen te sĂȘ,
as hulle kan, hoekom nie ek ook nie?
Die
enigste probleem is dat ek glad nie geweet het wat die proses is om hierdie
droom van my te bewaarheid nie. Ek het gelukkig ook vir niemand gevra nie, want
dan was my drome vroeg-vroeg al daarmee heen.
Ek
onthou hoe ek as klein dogtertjie op die swaai gesit en perform het. Ek het
aankondigings op die radio gemaak, stories vertel en nou en dan nog vir my
gehoor gesing ook. In my klein koppie was dit baie eenvoudig – iewers is
daardie ‘iets’ wat jou opneem wanneer jy perform en ek het maar net
altyd gehoop daardie ‘iets’ neem my ook op en saai my oor die radio uit.
Baie
jare later studeer ek onderwys. Deel van ons praktiese opleiding is om hierdie
ou groot bandopnemers te operate. Jy moet die band inryg en dan ‘n stuk
lees wat jy moet opneem. Sal die dosent sowaar vir my die mooiste kompliment
ooit gee: “Jy het ‘n baie goeie stem vir die radio.”
Ag
man, maar die ou droompie is toe so saam met die jare se winde iewers heen
gewaai. My roem, weet ek vandag, sal toe nie kom omdat ek so ‘n wonderlike
omroepster is nie. Op ‘n manier voel ek so half weemoedig daaroor, maar dis nou
maar so!
‘n
Ander droom van my wat gebore is toe ek so min of meer tien of elf was, was om ‘n
storie van my in ‘n boek te sien. Daarvoor kan ek die Vader dank dat dit toe
wel gebeur het. Dit was ‘n lang gesukkel, maar ons het daar gekom.
Hierdie
droom is egter nog baie ver van vervulling af, hoor! Soos enige ander skrywer
sal ek ook maar bly glo dat daardie GROTE
nog eendag gebore sal word en op die rakke sal pryk. Ydele drome? Watwou! Hou
maar dop ... eendag is eendag (vertel my gelowige hart vir my!)
Vreemd genoeg het ek nooit in my kinderdae
begeer om ‘n onderwyseres te word nie. Nooit, ooit was dit deel van my raamwerk
nie. Ek wou drama gaan swot en perform van die oggend tot die
aand – ‘n droom wat my voorligting-onderwyser met sy mooi, blink skoene in die
stof getrap het.
Ek
het al baie gewonder hoe my lewe sou verloop, het ek die kans gehad om my droom
te vervul. Maar helaas, daardie antwoord sal ek nooit kry nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking