Ons is ‘n groepie
wat woel en werskaf om gereed te kom vir die Radiothon van Kanaal 7. Hoe langer
ons so saam is, hoe meer verstom dit my hoe ons as (in sommige gevalle) totale
vreemdelinge vir mekaar, so maklik kan inskakel en saam werk. Die een is bedrewe
met dit, die ander weer met dat. Die eindproduk is keer op keer verstommend
suksesvol.
Hoe werk dit? Hoe gebeur
dit dat almal byvoorbeeld nie goed is met broodbak en niemand kan biltong maak
nie? Dit slaan my totaal en al dronk, hoor.
En toe hou ons ‘n
heerlike tee. Die plek is gepak van die Keetmanshopers. Dit gesels en kuier dat
die spreekwoordelike spoeg so spat. Almal voel tuis en almal is bly om daar te
wees. In my hart het ek so ‘n klein bietjie twyfel oor dit wat moet gebeur –
mense wat hulle ‘stories’ vir ons gaan vertel. Wat nou as daar een opstaan en volksvreemde
goed staan en praat? Wat nou as een besluit dit is tyd dat die ou lotjie wakker
geskud moet word met ‘n storie wat die bloed in jou are laat stol?
Maar nee. Een na
die ander staan hulle op en deel hulle hartsdinge met ons en keer op keer voel
dit vir my asof dit maar my eie storie ook kon gewees het. Al die stories het
een doel voor oë – die Here is groot en Hy sorg vir sy kinders.
Skielik breek die
lig vir my deur. Aardetjie, Martha, hoe kon jy dan so dom wees? Hoe kon jy
dit vergeet wat die Woord vir ons uitspel? “Laat julle as lewende stene
opbou tot 'n geestelike huis ...”
Ons is dus ‘n
eenheid, maar elkeen het sy eie doel, nie waar nie? Ek wil so ver gaan deur te
sê, geestelik of nie geestelik nie, waar mense in ‘n groep saam is, vorm dit
noodwendig ‘n eenheid ... of dan ‘n huis in hierdie geval.
Dis toe wat ek die
prentjie van die boumateriaal sien. Stene, sement, hout- en staalbalke,
plafonne, bouklip, verf, gras vir die grasdak en wat nog alles. Ek loer by ‘n
stoorkamer in en sien groot kartonne opmekaar gestapel. Die inhoud is duidelik
op elke karton geskryf: snoesige lakens; groot, sagte handdoeke; luukse gordyne;
satynkussings; vadoeke. Ek hou op met lees, want ek besef dit gaan my heeldag
vat om alles in te neem.
Ek sug by myself. Sjoe,
hierdie is ‘n grote, jong. Ons wil soms asseblief tog die grootste en die
sterkste wees, nie waar nie? Ander kere wil ons die mooiste en die slimste
wees. Jaloesie is baie maal ‘n mens se grootste vyand wat dit betref.
En tog! Wat as die
bouklip wat in die fondasie gebruik moet word, nou skielik besluit dat hulle
liewer op die kombuisvloer wil wees. Of as die sinkplaat wat op die dak moet
kom besluit hy wil vanaand plekke ruil met die sagte wolkombers op baba se bed.
Kan jy jou dit indink? Watter chaos sou dit veroorsaak as elkeen self kon kies
waar en hoe hy gebruik wil word? Dink jou dit in as die vadoek besluit dit is
sy beurt om vanaand op ouma se bed te wees en satynkussing moet kombuis toe
trek. Mmmm, ‘n groot gemors, sou ek reken.
Nou hoekom is dit
dan dat ek soms die sinkplaat en dan die vensterruit en dan daarna die
wolkombers wil wees? Hoekom kan ek nie tevrede wees om bloot te wees dit waarvoor
ek gemaak is nie? Hoekom gun ek nie die pikante teepot op die tafel haar fleur
en skoonheid nie? Dit is tog waarom sy op die tafel is, ha? In elk geval,
noudat ek daaraan dink, sy vat ook maar daagliks die hitte wat na haar kant toe
kom, nie waar nie? Ek dink nie ek sou staan om vol kookwater gegooi te word
nie, hoor.
Ek het, soos elke
ander keer, afgedwaal van my storie af. Wat ek wou eintlik maar net wou sê is
dat dit verstommend is hoe so ‘n klomp siele so ‘n mooi eenheid, of in hierdie
geval, so ‘n mooi huis kan vorm ... sonder foute, sonder water wat deur die dak
drup of mure wat gebars is.
Verstommend! Voorwaar
verstommend.
En jy praat weer my hart warm in so regte. Martha styl. Ek is nou bereid om die deur matjie te wees. Minstens dal ek dan weet wie die besoekers is.
AntwoordVee uit