Ons vriendskap kom ‘n hele paar jaar terug. Dis so ‘n lekker storie dat ek dit sowaar nie sommer net onder die mat kan vee nie.
My oudste wil trou. Sy woon in anderland en
Ma kry die order: “Ma, ons wil onder ‘n boom trou. Ma moet asseblief vir ons
daardie boom kry. En dit moet asseblief nie in die dorp tussen ander geboue
wees nie.”
Goeie, aller aarde! ‘n Boom? In
Keetmanshoop se vlaktes? In my verbeelding sien ek daardie vaalgroen boom. Hy
staan verstok en verlate tussen ‘n paar graspolle. Elke nou en dan warrel die
wind ‘n papier teen hom vas – die enigste kleur wat die boom ooit in sy bestaan
sal beleef. Ek sien hoe sit die gaste tussen die klippe en stof. O nee! Help my
dat ek liewers iets anders as ‘n mooi boom in Keetmanshoop se velde moet soek.
Met genoeg dryfkrag (van die kind) en uithouvermoë
(van ‘n ma wat weet hier is nie uitkomkans nie), kry ons toe die boom. En is
dit ‘n mooie boom! Die enigste probleem is nou dat Boom ‘n hele paar kilometers
uit die dorp uit is en “Ma moet sommer iemand kry om te cater ook, hoor.”
My enigste hoop en vertroue is dierbare
Christie Dry. Op daardie stadium het ek haar regtig maar net van sien in die
straat geken.
Ek bel haar en sy is dadelik vuur en vlam.
Regtig? Om soveel kos met jou motor aan te ry? Om te sorg vir tafels en stoele
en wat als en dis alles daar doer uit die dorp uit? Kan ‘n mens uitsien na so ‘n
optog?
Ons ontmoet mekaar by die boom. Die baas
van die plaas is nie daar nie, maar ons het toegang tot die kombuis en die
allerlekkerste stoep.
Nou, om ‘n lang storie kort te maak – twee
potte tee en baie gesels later het ons die hele ding beplan en kan ek daardie
aand rustig slaap, want Chrisie is in beheer.
En vandag het onse Christie ons gelos ... Sy
is vooruit na ‘n veel beter plek as wat ons hier het met baie mooi bome op die
regte plekke en baie potte warm tee.
Ek weet dat daar vanaand bitter baie mense
is wat presies soos ek voel: ‘n kosbare vriendin is weg ... ‘n staatmaker ... ‘n
voorvatter ... ‘n mens met ‘n hart van goud ... ons is voorwaar vanaand ‘n
bietjie armer.
Nou sit ek en bedink alles. Toe ek haar
die laaste maal gesien het, was ek so haastig en kon ek nie sit vir ‘n koppie
tee nie. En dit terwyl ons mekaar altyd belowe het ons sal weer ‘n alleenstoep
kry en baie potte tee sit en drink en alle prate wat agterstallig is, inhaal.
Maar ja, daardie dag het toe nooit gekom nie.
En daar gaan my kop! Wanneer laas het ek
my buurman gesien? Want, jy sien, ons bou mos mure so hoog soos die berge
rondom ons. Daardie groet oor die draad het verdwyn, en saam daarmee goeie buurmanskap.
Ek dink aan al my baie mooi vriendinne. Ek
kan nie onthou wanneer laas ek vir elkeen ‘n woordjie geskryf het nie. In vergange
jare was dit moeite om kontak te hou. Jy moes ‘n brief skryf en poskantoor toe
loop om hom te gaan pos. Vandag vat dit ‘n minuut of twee van jou om daardie
hartsvriendin te laat weet jy dink aan haar.
Skuldig! Ek is vir altyd skuldig wat dit
betref. Want jy sien, ons lewe mos asof dit vir altyd en altyd gaan wees. Nóú
is ek besig, maar dalk sal ek môre tyd hê of lus wees vir ‘n kort oproep of
boodskap.
Tot ‘n dag soos vandag jou tref en jy
besef ... ek wou nog so en ek wou nog sus. Maar helaas, nou sal ek dit nie meer
kan doen nie, self al hét ek tyd of lus daarvoor.
Al wat ek nou kan sê, is Ek groet jou Christi Dry, dit was ‘n voorreg en seën om jou te kon ken.