My
lewe lank het ek ‘n probleem met hoogtes ... o jimmeltjie tog! Moet my net nie
vra om daar of daar op te klim nie, hoor. Ek is baie gewillig om baie dinge te
doen, maar as ‘n ding ‘n bietjie hoër is as my kniekoppe, weier ek baie maklik;
ordentlikheid en my goeie opvouding ten spyt.
Die
dag wat ek saam met my suster en maatjies was en almal spring van die muurtjie
af tot op die gras, was een van daardie dae. Almal spring, maar hierdie kind
staan en beskou die spulletjie van ‘n afstand af.
![]() |
Die muurtjie agter ons ... |
“Kom,
spring jy ook. Dis nou jou beurt,” moedig een aan.
Ek
weet ek is vas. Ek het nou geen keuse nie. Ek maak reg en spring. Ek weet ek
moet uithaal om nie dalk myself teen die muur te pletter te val nie. Ek spring.
Ek trek vir ewig deur die lug. En, o liewe genade, ek val myself in ‘n ander
bloedgroep in. My wind is uit en ek lê en hyg na asem. Almal koer en kloek om
my, want Ma mag nie sien wat nou hier gebeur het nie.
Ek
staan daar op en ek weet: van daardie muurtjie af spring ek nooit, ooit weer nie.
Maar
die lewe het ‘n manier om nie op te hou met ‘n bangbroek nie. Dit gebeur keer
op keer. Weer spring ek. Weer val ek my des moers.
Die
L.O.-klas in die skool was my nagmerrie. As ons die dag daar instap met ons
blou outfits en die perd en die brug staan reg, dan weet ek hier kom
moeilikheid. Flippit, kan dit dan nie ophou nie?
Die
een dag, soos baie ander, moet ons in ‘n ry staan. Elkeen kry ‘n beurt en
niemand mag oorgeslaan word nie. Sien nou asseblief hierdie prentjie en kry
seblief tog ‘n klein bietjie meegevoel met die bang kind.
Jy
moet hardloop, op die wipplank land, en in die hardloop kry jy dan hoogte om
oor die perd te spring. So maklik soos roomys eet in die somer, nie waar nie?
Ek
gaan staan heel voor. Ek reken as ek eerste is, doen ek dit gou en dan is dit oor
en verby. Maar ai, toe juffrou Lilla roep, sien ek nie kans nie. Ek skuif een
plek terug. En weer. En weer skuif ek terug. Op die ou einde staan almal
eenkant en net die kind met die lam bene staan nog daar om te hol, wip en
spring.
Almal
moedig aan. Almal wag. Almal is haastig dat die bewende stuk jellie klaar moet
kry sodat hulle iets anders kan doen wat ewe lekker is.
Ek
hardloop. Ek land met ‘n slag op daardie wipplank. Ek trek hoog deur die lug.
Iewers in die vaart kry ou Lilla my een arm in die hande. Ek swaai deur die
lug, maar die arm bly hier by Lilla. Moet ‘n swaai tot by die maan land ek met ‘n
slag voor haar voete.
Ek
staan daar op en ek weet: oor hierdie ding spring ek nooit weer nie.
Mettertyd
raak dit so ‘n bietjie makliker – jy kan self besluit of jy wil opklim of nie.
jy kan self besluit of jy gaan spring of nie. Ja, reg geraai – ek het nooit
weer iewers opgeklim nie en nooit weer iewers afgespring nie. Ek is vas en
stewig op die aardkors geanker en niemand oortuig my anders nie. (Nee, ek gaan
nie nou vertel hoeveel maal ek in my lewe bloot neergesloeg het op die grond
nie!)
Vanaand,
jare later, besef ek hoeveel ek in hierdie lewe gemis het. Ek kyk na ‘n program
en die aanbieder vertel van ‘n omie van tagtig wat valskermspring ten bate van
kinders met kanker. Hyself het ook kanker, maar hy glo dat hy te veel het om te
doen om nou op ‘n hopie te gaan sit.
Die
aanbieder bely: “Vandag het my hele lewe verander. Ek kan nie meer dink ‘Sê nou
maar ek val’ nie. Van vandag af is my leuse: Sê nou maar ek vlieg?
Is
dit nie ‘n openbarende gedagte nie? As ek nie waag nie, sal ek nooit wen nie. Die
spreekwoordelike muurtjie waarvandaan jy moet spring, kan dalk jou lewensdroom
wees wat jy nog altyd te bang was om mee te begin. Dink ‘n bietjie daaroor, dis
uiters bevrydend.
So
het ek twee jaar terug uiteindelik met bewende vingers my eerste sin begin tik aan my eerste
boek. Vir my was dit baie hoër en baie erger as die hoogste muurtjie, maar ja,
ek het gespring en ... toe vlieg ek!