Ek
sit vanoggend rys op die stoof en skielik tref dit my: Hierdie koppie waarmee ek so pas die rys afgemeet het, het ‘n
storie wat vertel moet word. En toe kom die klein stemmetjie mos: “En wat van
al jou ander koppies? Het hulle nie ook die reg om hulle stories te vertel nie?”
As
jy hier lees en jy het nie koppies in jou huis nie, weet ek min of meer hoe oud
jy is. Want, jy sien, toe ek mens geword het, was die enigste bekers in die
huis die blikbekers waarmee my pa vir die werkers op die plaas bruinsuiker
geskep het in die rantsoenkamer. ‘n Beker het nie deel uitgemaak van Ma se
skottelgoed nie, o nee! Hoewel, later jare het Ma ‘n blou bekertjie gebruik om
Pa se moerkoffie in te maak.
Wanneer
jy moes gaan tee maak, het jy geweet – teekoppies op die skinkbord met almal se
ore in dieselfde rigting en die teelepel regs van die oor. Ja? Net so. Die melkbeker
en suikerpot het gepas by die koppies (totdat stainless steel uitgevind
is, natuurlik.)
Om
terug te kom by die ryskoppie. Ek kan nie onthou dat ons uit sulke koppies
gedrink het nie, maar dit was seker op ‘n tyd so. Die koppie was (van my
geboorte af al?) in Ma se rysblik. Vandag is hy in my rysbak. Hoe anders? Ek
wonder net wat van koppie gaan word die dag as ek my amen bereik.
Kom
ek vertel jou eers van die amen. Dis die antie wat wou verduidelik vir hoe lank
sy nog in dieselfde huisie gaan bly. Uit respek vir die dood het sy baie
ernstig gesê: “Ja, hier sal ek bly tot ... amen kom.”
‘n
Koppie wat vir my eindelose waarde het, maar vir die volgende een op straat
niks gaan beteken nie, is ‘n koppie van die Administrasie van Suidwes Afrika.
Ja, ek kan maar erken dat ek dit gesteel het. Ek kon regtig nie anders nie, ek
belowe. Ek vertel jou sy storie, dan sal jy verstaan.
Dit
was met die geboorte van my oususkind wat dit gebeur het. Die proses was nogal
uitmergelend en het ‘n nag en nog ‘n paar ure geduur. Die hele tyd het Ma langs
my bed gestaan met daardie koppie in die een hand en ‘n stukkie watte in die
ander hand. Oor en oor het sy die stukkie watte in die water gedoop en voor my
mond gehou om te suig daaraan. Jy kan maar sê die ouma het my aan die lewe
gehou met daardie kosbare voggies in die kosbare koppie. Nou vra ek jou: Wie
sou hom nie agterna steel nie?

Dan
het ek Ma se teestel met die rose. Og heigenthert! Is dit vir jou ‘n mooi stel!
Ma het dit uitgehaal as die dominee en Mevrou Dominee kom huisbesoek doen het. Ja,
en natuurlik ook as daar biduur op die plaas was, want dan moes sy elke
beskikbare koppie op die tafel dek. Pa het hierdie stel vir Ma gekoop met ‘n
spesiale geleentheid en ek is so jammer dat ek nie die storie kan onthou nie. Ek
het amper die idee dit was met die geboorte van een van ons, maar slaan my dood
as ek dit kan onthou! Waarom is dit so dat ‘n mens altyd te laat besef daar is
nog so baie wat jy moes vra?
Jy
weet wat? Terwyl ek nou oor hulle praat, besef ek dit is eintlik hoe Ma vir my
gelyk het – kosbaar en so mooi soos die mooiste koppie met rose. Kosbaarder as
edelstene en alle skatte op aarde. As ek haar ook maar iewers op ‘n rakkie kon
sit om te bewaar vir altyd en altyd, sou ek dit gewis doen. Maar dan ...
wanneer is ‘altyd en altyd’? Seker dan maar net tot amen kom, dink ek.
‘n
Ander stel kom van Ouma af. Dit laat ‘n mens nogal baie aan die Duitse Sammeltassen
dink. Weereens, as jy weet wat Sammeltassen is, kan ek jou ouderdom vir
jou sê. Die verskil is dat hierdie koppies almal dieselfde lyk, dis net hulle
kleur wat verskil. Die een is geel, met ‘n goue randjie om. Die ander een
pienk, en so aan. Kosbaar en fyn. Ek weet nie waarom nie, maar om een of ander
rede was ek nog nooit werklik lus om my tee uit een van hulle te drink nie. Nie
dat hulle nie vir my mooi is nie, hoor. Inteendeel! Dis net of hulle nie so
diep in my hart in is soos die koppies met die rose nie.

Ag,
en dan is daar die bruin pottery stel. Ek wou bitter graag so ‘n stel hê
en het dit toe ook as trougeskenk gekry. Maar weet jy wat? Ek gebruik dit nooit
nie. So mooi soos hulle vir my is, so onbruikbaar is hulle. By die tyd wat jy
die koffie in die ketel en dan in die koppies gegooi het, is die koffie yskoud.
Nou wat is dan die doel daarvan? Koue koffie uit mooi koppies? Ha-a, dit werk
net nie vir my nie. Nou staan hulle doer bo in die kas en vergaar stof.
Nou
vra jy my nou waaruit drink ek dan nou my koffie? Mmmmm, my beker, my skat, my
beker.
So
glo ek mos die manier waarop jy koffie en tee aan ander mense bedien, vertel
boekdele van wie jy is. Is! Moenie stry nie, jy weet dit is waar.
Ek
is een van die skuldiges wat vir ‘n vriendin sommer die melkboks sal gee om
melk in haar koffie te gooi. My ma sou die horries kry as sy dit sien. Sjoe, ‘n
mens maak mos nie so nie, jong. Jy dek die skinkbord en dan, eenkant in die
skinkbord, is altyd nog die bakkie koekies. En ek? Ek het nie eens koekies in
die huis nie, wat nog van koekies saam met jou tee. Sies, ek behoort my te
skaam, sowaar.
...
maar nee, ek doen toe nie. Ek is tuis in my vel en gelukkig met wie ek is, baie
dankie.