Ons het drie mangobome in ons erf – al drie nou in die pronk! Hulle lyk vir my kompleet soos ‘n vierjarige dogtertjie wat ‘trou-trou’ speel. Jy weet mos hoe hulle maak, ha? Alles wat lap of valletjie of blink is, moet om die nek en oor die kop en sommer om die lyf ook gedrapeer word. Vir hulself lyk hulle al te pragtig, maar ai! Jy ander moet maar die lag inhou en ewe sedig beaam “Jy lyk pragtig, Ma se kind. Ja, Ma sien jy gaan trou.”
Die bome
hier by ons (seker maar by almal?) is so vol blomme dat dit ‘n aardigheid is.
Dis nou hoekom ek toe vanoggend so by myself wonder of die stomme boom ooit
dink dat sy soveel vrugte gaan dra as wat daar blommetjies is. Regtig? Ai,
boom, hoe dink jy wil jy dit oorleef met soveel milddadigheid aan jou lyf?
Ek dink
en ek wonder oor hierdie mangobome. Hoekom, vra my hart, moet die boom soveel
duisende blommetjies dra as daar uiteindelik net ‘n paar mango’s is wat ons kan
pluk? Wat word van al die blommetjies? Ek meen nou net, die natuur is nie so
dom om te wil dink dat daar soveel mango’s moet wees nie. Ek is baie seker daar
moet ‘n doel agter dit alles wees, daarom begin ek soek na antwoorde ... en kry
dit toe ook.
Dis toe
wat ek onse vriend Google gaan raadpleeg. Nee, reken hy, al daardie blommetjies
is glad nie met die doel om soveel vrugte te dra nie. Nee, daardie 2 000
tot 4 000 blommetjies is bloot om die moontlikheid van bevrugting te
vergroot. Met ander woorde, die boom is toe veel slimmer as wat ek gedink het.
Sy laat
niks aan die toeval oor nie, hoor. Sy maak vrek seker dat daar iewers genoeg
bye, motte, miere, of wat ookal sal wees om darem ‘n goeie aantal blommetjies
te kan bevrug. En so gaan die storie voort tot Boom uiteindelik die lekkerste,
soetste, mooiste vrugte dra. Maar ja, dit is nie ‘n tiende van die aantal
blommetjies waarmee sy haarself oorspronklik getooi het nie.
En net
daar gaan my kop weer aan die loop. Smaak my mos nou al ek en die mangoboom is
eie susters! Regtig, hoor. Ek dink my derde of vierde naam is iets wat met ‘n
mango te doen het. Sowaar soos vet, hoor!
Die
enigste verskil tussen my en Boom is dat dit my ‘n hele leeftyd gevat het om te
bereik wat Boom jaarliks bereik. Maar kla sal ek nie kla nie, ek is
knus-tevrede met my tooisel vrugte, dankie.
Ek sou
graag vir jou wou opnoem wat alles aan my boom gepryk het so met die jare, maar
dis ‘n storie vir ‘n ander dag.
Maar
nee, ek wil nie vir jou ‘n les oor mangobome gee nie, hoor. Los dit maar vir
die mense wat daardie dinge doen vir hulle daaglikse brood. Al wat ek weet, is
dat daardie duisende blommetjies daar moet wees – die meeste is mannetjies
sodat die wyfies bestuif kan word. Die mannetjies val dus uiteindelik af en
baie van die wyfies gaan dieselfde pad grond toe. Net die sterk en mooi vrugte
bly uiteindelik vir jou en vir my om te eet dat die sous tot by die elmboë
loop.
Maar
toe sien ek myself mos in hierdie boom. Ja, ‘n mens soek mos maar na redes vir
dinge wat gebeur so langs die pad. Jy ken mos daardie vrae wat elke skoolkind
vra: Hoekom moet ek leer van dit of van dat? Hoekom moet ek dit leer? Waar in
my hele lewe gaan ek dit ooit weer gebruik?
Dan
gaan jy verder en begin jou volwasse lewe met ‘n hele vrag ‘klein vruggies’ op
jou rug: Ek hou van dit ... Ek hou van dat ... Hier doen ek iets ... Daar
ontdek ek iets anders ... So is jy mos dan later ‘n Jack of all trades,
master of none. Is dit vermorste tye? Nooit nie, my lam! Nooit nie.
Dink
nou maar terug wat jy al alles gedoen het en toe maar gelos het omdat daar
iewers in die dorp iemand is wat dit beter/mooier/lekkerder as jy kan maak. Ja?
Ek weet ek het ‘n hele lys van sulke blommetjies wat toe uiteindelik op die
grond beland het en wat die tuinman Saterdag nadergehark het en weggegooi het.
Maar,
dank die Heer, daar was blommetjies wat geklou het in wind en weer. Blommetjies
wat nie een gedink het daaraan om maar te los en grond toe te dobber nie.
En
vandag?
Vandag
pluk ek en jy die vrugte van harde werk en deursettingsvermoë. Ons kan terug
sit en weet: Dit was goed om dit of dat te kon doen, maar dit was veel beter om
te probeer, te misluk en weer te probeer totdat die dag uiteindelik aangebreek
het wat jy kon prewel: Eureka! Ek het dit gedoen!