Ek besef ek skuld jou ene! Ek het so stil-stil getrek van die warm Suide af kus toe en niks weer laat hoor nie. Nou weet ek ook nie presies wat om te vertel en wat om te los nie. Trek is mos maar trek, jong. ‘n Maklike ding is dit voorwaar nie, maar tog kom ‘n mens later agter jy het dit toe so wraggieswaar oorleef.
Jy
wou hoor of ek die onlangse oosweer en -wind oorleef het? Ek het! Want jy sien,
kom jy daar uit ons warm dorpie uit, is jy gewoond aan stof en wind en wat ook
al nog alles. Iemand sê vroeër vanaand vir my dat as ek dit oorleef het, is ek
nou in murg en been ‘n Walvisbaaier. Heheheee! Dan is dit nou seker maar seker
so?
So
mettertyd het die uitpakkery bedaar en het ek begin soek na iets meer as om te
sit ... iets wat my hart bly kan maak as ek in die oggend my eerste koppie tee
buite drink. En wat dan nou anders as blomme? Ek en Liefie is kwekery toe en ek
kom vol vreugde en opgewondenheid by die huis. Hier gaan geplant word!
Ag,
en is hulle tog nie te mooi nie, man! Nie eens een van hulle het aanstoot
geneem met die oorplant nie. Nou is dit ek en die blommekinders van my elke
oggend en middag en aand sommer die hele dag lank. Ek vertel vir hulle hoe mooi
hulle vir my is en sorg dat hulle mooi nat bly en als ...
En
toe kom die wind! En die son! En my blommekinders neem erg aanstoot. Erg! Eers wil
ek paniekerig raak en hulle sommer in die woonstel sit, maar ek weet dat dit
ook nie gaan werk nie. Ons plekkie is so klein, ek is die eerste een wat oor ‘n
blombak gaan struikel, weet ek. Ons hou dus maar asem op en kyk wat gebeur.
Sowaar,
hulle oorleef toe sommer heel skaflik. Dit is nou as jy die dooie blaartjies en
so hier en daar ‘n afgebreekte blommetjie mis kyk. Hulle gaat aan en ek smaail elke
dag die hele dag.
Maar
dis eintlik nie wat ek jou wou vertel nie. Dit gaan eintlik oor die magrietjiebossie.
So tussen die wind en die weer is daar toe sowaar die eerste blommetjie wat sy
verskyning maak ... of is dit háár verskyning maak? Ek dink so, ja.
Maar die snaakste ding gebeur – iets waaroor ek toe eers die voëls die skuld voor gee. Daar is net een enkele geel blaartjie op hierdie blommetjie se kroon. Dis sommer so ‘n ou skewe blaartjie. Ek skel natuurlik die voëls, want hoe maak hulle dan nou so lelik met ons? Maar nee, twee dae later is daar nog ‘n geel blaartjie ... en toe nog een ... en nog een. Tog te vreemd! Ek kan my verkyk aan hierdie vreemde blommetjie wat so stuk-stuk mooi word.
Ek
sit namiddag weer en staar na hierdie vreemde blommetjie, toe ek myself betrap
dat ek vir Blom sê: “Jy laat my darem baie aan myself dink, jong. Sowaar, eienaardig
en so half sonder plan, maar jy spog nog altyd met dit wat jy het! Jy lyk
eintlik heel tevrede met jouself.”
En
toe bekyk ek die res van die ou lotjie met hulle verlepte bruin blaartjies en
alle ander groter en kleiner skades. Daar is dan glad ‘n malva wat wil blom! So
skaam-skaam tussen die blare sit die kleine blommetjie en maak gereed om die
son in die oë te kyk!
Is
dit nie maar hoe ons as mens ook is nie? Party van ons oorleef die stormwinde
asof niks gebeur het nie, andere is minder gelukkig en hou ‘n hele paar letsels
oor. ‘n Paar lyk dan glad of hulle swaarkry nodig het om net mooier en mooier te
word! Maar hoe ook al, uiteindelik staan ons almal weer op en stof ons lyfies
af en staan regop – gereed vir die volgende stormwind van die lewe.
Nou
vra ek maar net vir jou vanaand hierdie een ding: Het die storms jou ook
onlangs getref? En waar is jy op hierdie oomblik?
Staan
op, my maat! Moenie dat die wind en die hitte en stof en wat ook al jou onder
kry nie. Staan op en blom daar waar jy is!