Saterdag 24 Februarie 2018

MY PA HET OOK SO 'N GEEL LORRIE

Hulle kom in die grootstad aan. Sy is stukkend. Kindjie is stukkend. Saam is hulle ewe stukkend om verskillende redes. Sy is so pas deur ‘n moordende egskeiding en kindjie is haar stille medestryder in die geveg.
Hulle woon saam met ‘n massa vreemdelinge. Sy moet vir kindjie in die bewaarskool sit. Die geld is min, hoor. Gelukkig het kindjie ‘n oupa en ‘n ouma wat ook nou en dan die nood kan help verlig. Kindjie leer om vir hulle baie lief te wees. Vir Ouma noem sy Ouma, maar Oupa raak sommer Pappa. En Oupa huil elke keer as hy ge-Pappa word.
Sy is eensaam. Die jongmense is te jonk en kan nie saam praat oor egskeidings en prokureurs en siek kindjie en sulke goed nie. Die getroude mense is ook nie ‘n opsie nie. Want sien, die getroude vrouens soek nie ‘n geskeide, alleen vrou naby hulle mans nie. Nee, ‘n geskeide vrou is ‘n pes-ding en ‘n pes-ding los jy waar hy hoort – ver en daar eenkant waar niemand haar kan sien of kan aanraak nie (veral nie haar man nie!)
Sy werk lang ure en kindjie is lang ure in die bewaarskool. Daar is maatjies. Hulle het elkeen ‘n mamma en ‘n pappa. Kindjie sien hierdie dinge, maar sy praat nie daaroor nie. Sy is eintlik nog te klein om daaroor te kan praat. Sy is te klein om te sê waarna haar hartjie verlang. Dit is in elk geval wat die mamma gedink het. Die mamma weet nie van kindjie se hartsbegeertes nie. Sy is te vol van haar eie seer en ellende.
Op ‘n dag ry sy en kindjie in die besige strate van die grootstad. Hulle ry verby ‘n groot, geel lorrie. Kindjie sê: My pa het ook so ‘n lorrie. Sy gooi byna die kar om, want waar kom kindjie aan so ‘n ding? Hulle het nog nooit oor pappas en kindertjies gepraat nie, want sy is so klein en sy vra nooit vrae nie. 
En sy kom tot ‘n ontsettende besef. Haar besluit om nooit weer te trou nie sal nie kan werk nie. Sy het uit haar eie besluit om nooit weer ‘n man te vertrou nie. Sy wil nooit weer trou nie, so het sy besluit. Maar nou? Kindjie het by die bewaarskool by haar maatjies gesien dit is lekker om ‘n pappa te hê en nou wil sy ook so ‘n pappa hê.
Hoe moet sy nou maak? Sy bid. Ja, sy bid dat sy dan seker ook weer eendag sal moet trou om vir kindjie ‘n mooi pappa te kan kry. Dit is seker nie so ‘n groot probleem nie. Wat wel ‘n probleem is, is waar om ‘n pappa te kry wat vir kindjie so lief sal wees soos wat sy vir kindjie is. En sy bid. Sy bid dat hierdie man eerste vir kindjie lief moet wees voordat hy vir haar lief sal wees. Dit sal vir haar die teken wees dat dit die regte man is. Amen.
Tussen die baie mense waar hulle bly is ‘n man. Kom ons noem hom sommer Oom D. Hierdie Oom D is ‘n allemansvriend, maar sy hart behoort eintlik aan niemand nie. Hy laat nie baie mense in sy hart toe nie. Kindjie en Oom D raak maats. Vreemd? Ja, heel waarskynlik. Was sy agterdogtig? Nee, glad nie. Sy hart was skoon en sonder die lelike dinge wat jy vandag op straat kry.
Kindjie en Oom D speel elke aand na aandete. Kindjie weier om haar kos klaar te eet as sy sien dat die oom buite op die stoep is. Nee, sy is nie honger nie, sy wil asseblief gaan speel. Nee, sy is nie dors nie, sy wil asseblief gaan speel. Hulle skop ‘n bal. Of hulle skop ‘n blikkie. Of hulle gooi wat ookal hulle kry om te gooi. Almal wat saam met hulle op die stoep sit juig en klap hande wanneer dit gegooi en gevang word. Die mamma is nooit deel van hierdie spelery nie. Wanneer sy klaar geëet het gaan die twee terug na hulle eie plekkie toe.
Hy kom in hulle lewens in en die drie begin ‘n pad stap. Sommer net so. Niemand het so besluit nie, dit het sommer net gebeur. Kindjie is bly. Kindjie het haar pappa gekry.
Hulle stap by die kerk uit. Kindjie hou haar mamma se hand vas. “Kan ek nou maar vir hom Pappa sê? Kan ek maar vir hom Pappa sê vir altyd en altyd?”
Ja, my liefie, jy kan maar, vir altyd en altyd.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...